Die finansiële kundiges en mede-aanbieders van die kykNET-reeks Welvaartskeppers skrik nie vir ’n uitdaging nie. Die broers Geo en PJ Botha werk glo reeds aan ’n tweede seisoen, en hul eerste boek* het pas verskyn.
Maar agter dié broers se bruisende geesdrif is ’n rolmodel – hul gestremde sus Celia du Toit. Hulle vertel: “Sy is ons inspirasiebron. Geen uitdaging is vir haar te groot nie. Sy leer ons daar is altyd iemand wat slegter daaraan toe is as jy, en daarom moet jy nooit moed verloor nie.”
Die 40-jarige Celia is reeds in haar graad 7-jaar ná ’n motorongeluk gestrem gelaat. Geo onthou: “Een van haar vriendinne se ouers het bestuur en dié wou ’n ander motor verbysteek, maar kon dit nie vinnig genoeg regkry nie. Met die uitswaaislag het die kar gerol. Celia is uitgeslinger en die voertuig het bo-op haar beland. Sy is baie erg beseer; sy is verlam van haar middellyf af ondertoe. Dit was ’n baie moeilike tyd vir ons familie.”
Geo was destyds agt jaar oud en PJ was tien. Hulle kan goed onthou hoe hulle in die maande ná die ongeluk by hul suster in die hospitaal gaan kuier het.
Celia, wat vandag ’n bestuurder by FNB in Pretoria is, het egter nooit toegelaat dat die ongeluk en haar daaropvolgende gestremdheid haar onderkry nie. Haar broers vertel: “Ná die ongeluk en ná maande se rehabilitasie kon sy stelselmatig weer haar plek in die samelewing vol staan. Om egter met ’n rolstoel en rugstut rond te beweeg was wel ’n uitdaging.
“Maar Celia het nooit toegelaat dat iemand haar jammer kry nie. Sy wou nie na ’n spesiale skool gaan nie en het daarop aangedring om, soos beplan, ’n hoofstroomskool by te woon. Die destydse skoolhoof van Hoërskool Waterkloof, dr Christo Becker, was ’n merkwaardige man en hy het uit sy pad gegaan om haar klasse te skuif en haar sodoende ’n kans op ’n normale skoolloopbaan te bied. Wanneer ’n les op die tweede vloer was, het Celia die sterk rugbyspelers gevra om haar boontoe te dra. Geen uitdaging was vir haar te groot nie. Sy het dan ook in haar matriekjaar die meelewingstrofee verower.”
Celia het daarop aangedring om Tukkies toe te gaan, en daar het sy ook die sportwêreld betree. “Van ‘ballroom dancing’ tot basketbal, van tafeltennis tot rolbal. Maar haar grootste liefde is tennis, en hierin het sy nasionale kleure verwerf,” vertel PJ.
Celia en haar man reis graag en hulle het al ’n eindstryd van sokker se Wêreldbeker bygewoon, en twee keer ’n Wimbledon-eindstryd. Dié twee het selfs in Alaska saam met huskies geski.
Volgens PJ en Geo is Celia se man Connie, wat ook in ’n rolstoel is, ’n ewe groot inspirasie. “Hy is gebore met ’n oop rugwerwelkolom en het uitdagende kinderdae beleef. Hy werk saam met ons by Bovest Wealth Management, en hy het die grootste hart!
“Hy sê nooit ‘nee’ vir enige avontuur wat Celia wil aanpak nie. Hulle besoek byna elke naweek ’n ander interessante plek; dis genoeg om énige mens moeg te maak! Ons dink dat alles wat hulle moes deurmaak hulle laat besef het dat elke dag kosbaar is, dat niks ’n gegewe is nie. Ons moet die meeste maak van elke dag wat aan ons gegee word.”
- PJ en Geo Botha se eerste boek Word ryk, bly ryk (LAPA) het pas verskyn.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.