Gesinsrituele is elke gesin se voorreg. Wees so kreatief as wat julle kan. Wees ook aanpasbaar; daar is geen reëls nie. En dis nooit te laat om daarmee te begin nie. Die dae, weke en maande skiet by ons verby, en sulke rituele is ’n handige instrument vir ’n gesin om doelgerig te leef.
Gesinsrituele is spesiale dinge wat ’n gesin saam doen. Dis ’n manier om die ritme van die alledaagse te verbreek. Hiermee sê julle: “Dit is wie ons is.” En: “Dit is wat vir ons belangrik is.”
Sulke rituele bied stabiliteit, veral in ’n oorgangstyd, of wanneer daar spanning heers. Dit gee ook betekenis aan die gesinslewe wanneer daar maklik in ’n reeks onnadenkende gewoontes verval kan word.
Uiteindelik speel gesinsrituele ’n uiters belangrike rol in die lewe van ’n gesonde gesin. Én dit kan groot pret wees!
Meer as gewoontes
Elke gesin het ’n eie ritme. Indien die gesin suksesvol en as ’n eenheid wil funksioneer, moet daar bepaalde gewoontes gehandhaaf word. Dis doodgewoon dié dinge wat op ’n sekere manier op ’n sekere tyd gebeur. Onder meer: Ons skakel elke oggend die buiteligte af; ons maak dan ook die huis se vensters oop vir vars lug; ons pak die vorige aand reeds klere uit vir die volgende dag.
Gewoontes geskied redelik outomaties, sonder dat daar te veel daaroor gedink word.
Rituele, aan die ander kant, dra swaarder aan die betekenis van wat dit verteenwoordig. Dis meer as ’n gewoonte, dis ook ’n simbool. Dit herinner gesinslede aan hul identiteit en hul onderlinge band.
’n Tipiese gesinsritueel is om saam aan tafel te sit wanneer dit tyd is vir aandete. Daar is dan nie ’n foon of enige ander afleiding in sig nie. Gesinslede gebruik dié geleentheid om te gesels oor hoe elkeen die afgelope dag beleef het.
Dié gewoonte simboliseer die feit dat hierdie huis ’n veilige tuiste is. Hier stel mense belang in mekaar se wel en wee. Ons is gewillige getuies van mekaar se lewe.
Betekenis te midde van chaos
Ouers verlang daarna om spesiale oomblikke met hul kinders te deel, maar hierdie lewe maak dit nie maklik nie. ’n Gesin word maklik oorweldig deur al die uitdagings.
Gesinne wat nie gesinsrituele beoefen nie, kan selfs meer kwesbaar hiervoor wees. Wanneer hulle egter, doelbewus, rituele in hul gesinslewe inbou, skep hulle ’n omgewing waarin almal kan ervaar dat hulle deel van ’n besonderse groep is, én van iets groters as dit.
Rituele dra voorts by tot kinders se sosio-emosionele ontwikkeling. Omdat rituele op afgesproke tye plaasvind, bied dit aan die kinders ’n bepaalde voorspelbaarheid in hul lewe, asook struktuur en veiligheid, en troos.
Die voordele is egter nie tot die kinders beperk nie; ook die ouers pluk die vrugte daarvan. Buiten die bogenoemde voordele, bied dit hulle die geleentheid om ’n tree terug te staan en werklik na te dink oor wat die gesin se werklike behoeftes is, onder meer: hoe onderlinge verhoudings gebou word, waardes gevestig word, ’n eie identiteit vasgelê word.
Dit bied ’n geleentheid om dit waarvoor die gesin staan tasbaar te maak. En, natuurlik, herinner die meer prettige rituele almal daaraan dat hulle nie hulleself so ernstig hoef op te neem nie. Dat hulle moet onthou om hierdie lewe te geniet.
VOORSTELLE
Indien jou gesin idees of inspirasie nodig het om gesinsrituele te ontwikkel, of as julle voel dis tyd om iets nuuts by die bestaandes te voeg, hier is ’n klompie voorstelle.
1. Speel, speel, speel!
Om saam te speel, is eintlik ’n ernstige saak. In sy boek Habits of the household skryf Justin Whitmel Early dat om te speel in werklikheid teen die grootste leuen rebelleer. Dis ’n daadwerklike vereenselwiging met die grootste waarheid, naamlik dat Jesus uit die dood opgestaan het. Dat ons, as gevolg daarvan, ’n oorvloedige lewe kan lei.
Early sê ons beleef reeds ons “gelukkige einde” omdat ons gered is. Om te speel, om wérklik te speel, is ’n verbeeldingsoefening oor die koninkryk. Dis ’n manier waarop ons, in ons eie sitkamer en ons eie tuin, getuies van die koninkryk kan wees.
WENKE VIR SPELETJIES
In plaas van bekende speletjies kan jy en jou gesin jul eie speletjies ontwerp. Dit kan letterlik enigiets behels, en julle kan jul eie reëls daarvoor ontwerp.
Hou ’n danspartytjie. Sorg doodgewoon dat daar musiek is, en dans!
Speletjies kan ook ’n uitgesproke doel hê, soos om mekaar beter te leer ken. Of om te leer hoe om oor ernstige sake te kommunikeer.
2. Slaaptyd en opstaantyd
Daar is iets besonders aan die eerste en die laaste doen en late van elke dag. Dit kan almal in die gesin help om die dag op die regte manier te begin, en dit op die regte manier te eindig.
WENKE VIR OGGEND- EN AAND-RITUELE
- Skep ’n boodskap wat julle elke oggend of aand aan mekaar kan oordra, byvoorbeeld: “Jy is spesiaal”; “God het jou lief”; “Ek het jou lief”; “Alles sal uitwerk soos dit moet”; “Rus lekker, droom soet, slaap goed en moenie snork nie!”
- Doen saam Bybelstudie. As dit vir julle ’n oorweldigende gedagte is, spoor dan ’n Bybelstudiegids op (daar is baie!) wat vir julle gesin kan werk. Moenie bang wees om te begin nie. Jy hoef tog nie op die eerste dag reeds ’n uitgewerkte plan of al die antwoorde te hê nie.
- Hou elke Vrydagaand ’n “varkie-aand”. Badtyd kan oorgeslaan word; die gesin kan lekker saam pizza eet; almal kan in ’n kermisbed lê en gesels of ’n fliek kyk.
3. Ouervergaderings
Een van die ouers se noodsaaklikste rituele is om gereeld, op ’n afgesproke tyd, vergadering te hou. Dit stel die ma en pa in staat om met mekaar te kan kommunikeer, om ’n slag tot stilstand te kom en ’n oorsig te kry oor alles wat die huishouding raak. En om doelbewus die gesin se tyd en prioriteite te bestuur.
Hoor wat sê die Spreukedigter hieroor: “’n Gelukkige gesinslewe kom nie vanself nie. ’n Mens moet hard daarvoor werk. Dit is soos ’n huis wat jy bou. Alles moet netjies beplan word. Baie dinkwerk is nodig om dit ’n lekker plek te maak. Fyn smaak is nodig om dit mooi te maak” (Spr 24:3-4 – Die Boodskap).
Hier is ’n voorbeeld van ’n vaste “sakelys” by so ’n ouervergadering:
- Bid saam.
- Inloer (hoe gaan dit met jou?)
- Die kalender vir die komende week.
- Finansies (begrotings, groot uitgawes wat voorlê, besteding).
- Kinders (bespreek elke kind afsonderlik – hoe dit gaan; wat dié kind nodig het; hoe gehaltetyd saam met elkeen deurgebring kan word).
- Huwelik (bespreek onder meer planne om tyd saam deur te bring).
- Vakansies (beplan rustye vir die gesin).
- Administrasie (herstelwerk aan die motor(s); allerlei instandhoudingswerk).
- Gemeenskap- en vrywillige werk (onder meer waar en hoe die gesin hul bure of vriende kan bystaan).
- Gesinsrituele (beplan dit in fyn besonderhede).
- Ander sake.
4. ’n Helder Somerkersfees
Suid-Afrikaners het die voorreg om heerlike warm dae tydens Kersfees te geniet. Dit bied ’n gulde geleentheid om gesinsrituele te beoefen, met die Kersboodskap as fokuspunt.
- Hou saam piekniek en lees die Kersverhaal. Bespreek: Wat is vir julle spesiaal aan Kersfees?
- Eet saam. Elke gesin of familie het eie tradisies op Oukersaand en op Kersdag, en dis goed as elke lid ’n eie stempel daarop afdruk.
- Neem ’n Kersfeesfoto waar julle saam is. Dit kan elke jaar op dieselfde plek wees, of julle kan bypassende uitrustings aantrek (spandrag!).
- Doen saam vrywilligerwerk (byvoorbeeld Santa’s Shoe Box, of meld aan by ’n sopkombuis).
- Maak ’n wapen/embleem vir die gesin. Baseer dit op wat julle identifiseer as jul visie, missie en waardes. Dit kan elke jaar op ’n bepaalde tyd bygewerk word.
- Skep nuwe rituele. Wees kreatief en kry almal in die huis se insette en idees.