Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘God gee my krag wanneer ek swak is,’ vertel Willistonse boervrou wat al 20 jaar vir skool stap

Haar tekkies het haar voete so seergemaak dat sy die voorkante afgesny en met groen “duct tape” toegeplak het. Maar van ophou stap aan die RSG Red ’n Plaas-Camino was daar nie sprake nie.

‘Om dankie te sê’

Wanneer ’n mens Surita Bruwer ontmoet, lyk sy na alles behalwe ’n 61-jarige ouma met ses kleinkinders. Met haar kort, donker hare en wakker oë lyk sy veel jonger. En boonop is sy fiks.

LEES OOK: In die droogte sal ons steeds jubel en juig, sê twee boervroue uit ‘Jesus se swietsfabriek’

Surita was vanjaar een van die meer as 100 stappers wat 166 km se stowwerige grondpaaie in wind en weer en warm son trotseer het.

Klara Klaaste, een van Surita se kollegas, kom wens haar sterkte toe voor sy die 166 km aandurf. Regs is oom Sarel Marais, oudboer van Williston en 74 jaar oud wat ook saamgestap het. Foto: Heléne Meissenheimer

Sy het tydens die staptog vertel sy wou nie gehad het dit moet ophou nie.

Vir dié ma van die Boer soek ’n vrou-deelnemer Neil Bruwer was hierdie staptog haar manier om dankie te sê aan almal wat Karoodorpe soos haar grootworddorp Williston tydens die droogte gehelp het. Dié droogte duur al langer as agt jaar. Soos sy dit so mooi in haar sagte stem stel: “Om dankie te sê vir die engele oor die hele land wat die wind onder ons vlerke was.”

Surita en haar man Wicus moes hul plaas verhuur en dorp toe trek. Sy vertel hoe mis sy die wye uitsig oor die veld. Wanneer sy dus die kans kry … stap sy Camino’s. Hierdie was haar tweede een. Daar is ook deurnagstaptogte, of sommer net ’n lekker stappie op Williston se plaaspaaie.

Soms stap van haar kollegas by die dorpskool, waar sy die skoolsekretaresse is, ook saam. Sy het hulle vertel hoe goed stap vir hul “binnemens” kan wees.

Die begin

Dis juis by hierdie skool waar haar pad met lang staptogte meer as 20 jaar gelede begin het.

Die meeste van die kinders in die skool se ouers is nie welaf nie. Die skoolbeheerliggaam se geld is maar skraps. Daarom sukkel hulle om ekstra personeellede te bekom om die las te verlig van dié wat met staatsfondse aangestel kan word.

In 2000 was daar byvoorbeeld nie genoeg geld om die salaris te betaal van die nuwe onderwyseres in die beheerliggaampos nie. “Toe sê ek net ek gaan van Calvinia na Williston toe stap.”

Sy het borge gevind, en op ’n Donderdagaand in Oktober begin om deur die nag te stap. Sonder om te rus. Die dorp en distrik se mense het langs die pad vure gemaak om haar aan te moedig.

Die volgende dag was wárm. En soos die temperatuur gestyg het, het die warm teer die blase op haar voete laat bars. Dit het haar voete in die tekkies laat gly. Dit het erg gebrand. Surita vertel: “Later het die blase soos druiwekorrels aan my tone gehang!” Maar wat gestap het, was sy.

Uiteindelik was daar net sowat 20 km oor. En skielik het daar ’n gevoel oor haar gekom wat sy nie kan beskryf nie. Dit het net gevoel asof die einde nie nader kom nie. Die volgende oomblik het sy inmekaargesak. Die mense by haar het die dorpsmense laat weet om te bid.

Toe gebeur die wonder: “Ek het bygekom terwyl my swaer sê ‘haal haar asseblief van die pad; ek sal die skool R1 000 betaal vir elke kilometer wat oor is’. Maar ek het gebid: ‘Here, ek het tot hier gekom. Help my om klaar te maak.’

“Wanneer ek swak en moedeloos was, het sy krag tot volle werking gekom deur mense wie se hart Hy aangeraak het om ons skool te help. Om vir ’n kind hoop te gee,” vertel Surita oor haar gereelde staptogte vir Hoërskool Williston. Foto: Heléne Meissenheimer

“Tot almal se verbasing het ek maklik opgestaan en vinnig-vinnig die laaste klompie kilometer voltooi. Hy het my gedra!”

Talle wonderwerke

Hierna het Surita elke kans aangegryp om met geborgte staptogte geld vir die skool in te samel. Op dié manier het sy reeds talle wonderwerke beleef. Daar was die keer toe sy, danksy borgskappe, tydens ’n Relay for Life-deurnagstap vir Kansa meer as R60 000 vir Williston se dorpskool kon insamel. By dié geleentheid het sy meer as 100 keer om die sportveld geloop.

Dit was een van vele Relay for Life-deurnagstaptogte waaraan sy deelgeneem het. Soms stap van haar kollegas ook ’n paar rondtes saam.

In 2014 het Surita die Tankwa Camino van Calvinia na Ceres gestap. Dis 256 km wat oor tien dae aangedurf word. Met hierdie staptog het sy genoeg geld vir die skool se graad 1-3 klas ingesamel dat hulle Lambertsbaai kon besoek. Vir baie van die kinders was dit die eerste keer dat hulle die see gesien het. Vir ’n hele naweek kon die seer en die swaar by die huis vergeet word.

Die blydskap wat sy só vir ander kan help bring, is vir haar kosbaar. Sy vertel saggies dat hulle ook op dié manier by háár ’n liggie aansteek wanneer dit donker voel in haar binneste.

‘Die betowering van menswees’

By Surita is daar geen twyfel nie dat dit God is wat haar die krag gegee het om al hierdie staptogte te kon voltooi. Sy sê: “Wanneer ek swak en moedeloos was, het sy krag tot volle werking gekom deur mense wie se hart Hy aangeraak het om ons skool te help. Om vir ’n kind hoop te gee.”

Deesdae dink sy daaraan dat dit dalk tyd word om die lang staptogte te los. Ordentlike stapskoene kos geld …

Maar sy vertel graag haar storie. Dalk, sê sy, inspireer dit ander om ook met stap ’n verskil te probeer maak. Al is dit eers net om een tree voor ’n ander te sit. ’n Reis van 1 000 treë begin immers met die eerste een.

“Dit is die betowering van menswees. Daardie mens wat net eenvoudig besluit: ‘Ek gaan my nie laat onderkry nie; ek gaan bo uitkom.’”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.