’n Leeftyd se pyn en vervreemding, en ’n skokdiagnose toe sy maar 20 was, het Johett Bruwer se lewe ingrypend beïnvloed. Maar wanneer sy hierop terugkyk, kan sy sien hoe die Here haar lewe in sy hande geneem het.
Johett het reeds op skool met hewige hoofpyn begin sukkel, waarvoor niemand ’n verklaring kon vind nie. Sy vertel: “Dit is aan spanning toegeskryf en ek het geleer om daarmee saam te leef.
“Maar soms was ek sielsongelukkig, omdat dit my so verwyderd van almal laat voel het. Ek is vir alles onder die son getoets.”
‘Die trane het geloop. Wat nou?’
In haar tweede jaar as universiteitstudent, toe sy 20 jaar oud was, het Johett planne beraam om ’n duikkursus te volg. Vanweë ’n breinletsel wat sy tydens geboorte opgedoen het, het haar ouers haar aangeraai om eers ’n neuroloog te raadpleeg. Tydens ’n MRI-skandering ontdek die dokters toe vir die eerste keer die oorsaak van haar hoofpyne: ’n breingewas so groot soos ’n gholfbal.
“Ek het uit die spreekkamer gekom en die trane het geloop. Wat nou? As ek nooit by die dokter was nie, sou niks van hierdie aaklige goed ’n werklikheid gewees het nie …
“Die Here het my egter deurentyd in die palm van sy hand gehad, al het ek dit nie toe besef nie.”
Die gewas is tydens ’n operasie verwyder, maar Johett kon ’n ruk lank nie praat nie. “My familie en vriende het voorgestel dat ek my studies uitstel, maar ek wou niks daarvan weet nie. Ek het geglo die Here wil hê ek moet teruggaan universiteit toe.”
’n Nuwe wending: ‘My hele lewe is omvergegooi’
’n Paar jaar later het Johett se gesondheid weer ’n negatiewe wending geneem toe sy vir die eerste keer ’n epileptiese aanval gehad het. Sy het gesukkel om dit met medikasie te beheer, en sy moes haar onafhanklikheid prysgee.
“My hele lewe is omvergegooi. Ek moes twee keer dink voordat ek enigiets kon aanpak. Ek het so nutteloos gevoel. Maar weer het die Here my daaraan herinner dat Hy groter planne vir my het.”
By die universiteit het sy met onderskeiding geslaag, en in 2018 ’n honneursgraad met die tema “Epilepsie in die klaskamer” behaal.
Op soek na antwoorde oor haar eie epilepsie het sy weer die dokter gaan spreek. Dié het gevind dat die gewas weer begin groei het en dat hy nog ’n keer sal moet opereer.
Johett vertel: “Tydens hierdie operasie was ek bewus van wat om my aangaan. Die dokters het vrae gevra en ek moes daarop antwoord. Dit was ’n traumatiese belewenis. Al my sintuie is aangetas, en ek het daarna met depressie gesukkel.”
In 2021 het die hoofpyne weer begin. Haar spraak het agteruitgegaan en haar een arm het lam geword. “Ek het gaan nalees oor my simptome, en dit het daarop neergekom dat ek ’n beroerte gehad het. Die volgende oggend kon ek letterlik nie uit die bed opstaan nie.”
Die dokter se nuus was verpletterend: Die gewas het weer gegroei. “Ek het geweier om nog ’n operasie te ondergaan, maar die dokter het gesê dis lewensnoodsaaklik. Hy het ons ook ingelig dat bestraling en chemoterapie my voorland is.”
’n Tien jaar lange stryd
Dit was nie ’n maklike pad nie. Bestraling en chemoterapie, die gepaardgaande haarverlies en liggaamlike verswakking, en vier breinoperasies, het Johett se lewensuitkyk verander.
“Dit was ’n tien jaar lange stryd; die Here het my deurgedra.
“Ek het ’n jaar lank ’n blaaskans geniet om my liggaam kans te gee om te herstel. En ek is nou soveel sterker as voorheen. Die laaste operasie was eintlik ’n seëning, want, al moes ek sommige dinge van vooraf leer doen, kon ek ook van die vorige operasie se trauma vergeet.”
Die tol wat die stryd geëis het, is egter steeds deel van Johett se lewe. Haar hand-oog-koördinasie is nie na wense nie en sy ervaar steeds probleme met haar spraak. Sy weet dat sy nie voor ’n klas sal kan staan nie.
‘God het die reuse verslaan’
“My pa het voorgestel dat ek ’n winkel begin wat beddens en matrasse verkoop. Aanvanklik het ek gedink dat ek dit nie sal kan doen nie. Hoe gaan ek met die klante praat?
“Maar op ’n goeie dag het die Here my die moed gegee om die uitdaging te aanvaar. My winkel se naam is Giant Beds. Dit verwys na al die reuse wat ek moes oorkom. God het die reuse verslaan.”
Elke ses maande besoek Johett die dokter vir ’n deeglike ondersoek, maar sy is daarvan oortuig sy is genees. “Ek is op pad na volkome herstel, en ek doen wat ek kan om aan die gang te bly. Ek kan nie meer aan wedlope deelneem nie, maar ek het ’n liefde vir wandelroetes ontwikkel. Op dié manier het ek asemrowende plekke besoek.”
Elke dag is vir haar ’n geskenk van Bo. “God het die Israeliete deur Moses gered. Hy het die Rooisee toegemaak en alles wat hulle gejaag het in die see laat verdwyn. Hy het my ook kom red. Hy gaan honderdvoudig aan my teruggee wat ek misgeloop het. Ek moet net die klein dingetjies raaksien.”
- Johett Bruwer (28) woon in Ermelo waar sy haar eie onderneming, Giant Beds, bedryf.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.