Sy glo met haar hele hart die Here roep elke mens om verandering te bring daar waar jy is. “Ook in jou andersheid,” sê Lambertsbaai se TikTok-dominee Farren Cloete. Dis hoekom haar boek die titel dra Geroep vir ’n tyd soos hierdie. “Want só het God my geroep vir die bediening.”
Dié gebore Namakwalander was maar 29 jaar oud toe sy reeds op RSG gepreek het, saam met die bekende Minki van der Westhuizen op televisie verskyn het, en genooi is om aanbieder te wees by groot geleenthede soos die Suidoosterfees. En Gospel Spectacular by die GrandWest Arena in Kaapstad.
Sy het meer as 260 000 TikTok-volgelinge. Duisende kyk na haar plasings. Een van haar meer onlangse plasings, “Alles gaan okay wees”, het binne ’n dag meer as 230 000 “likes” ontvang.
Sy is so gewild as gasspreker by, wat sy noem, “high teas”, dat sy feitlik die hele Augustus uithuisig was. Gelukkig sien van haar ouderlinge dan kans om die preekbeurte waar te neem. Want sulke geleenthede help ook vir wanneer die gemeente nie haar volle salaris kan betaal nie.
LEES OOK: Vanes-Mari: ‘Die Here het my elke tree gedra’
Sy en haar kollega by die NG Kerk, ds Karla Smit, preek ook in mekaar se onderskeie gemeentes en woon mekaar se gemeentefunksies by.
Op ’n manier het haar kleintydse droom van aktrisewees op ’n verhoog toe tog waar geword …
‘Hulle het ’n kans gevat met my’
Vra jy haar oor haar bedrywige lewe, kom “dominee Farren” aan die woord: “Die ‘gigs’ is fantasties omdat ek daardeur die Woord van die Here met ander kan deel.”
Ons sit en gesels oor koffie in die ruim pastorie van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) op Lambertsbaai. Buite skyn ’n yl winterson uit ’n blou, blou lug vol wit wattewolke. Dis ’n mooi dag vir ’n uitstappie na hierdie Weskusdorpie so drie ure se ry van Kaapstad af.
Farren het met ’n drukkie kom groet. Haar warm Namakwalandse Afrikaans val lig en lekker op die oor. Sy dra ’n gemaklike, los wit trui by ’n swart kleefbroek en kuithoogte bruin leerstewels.
Haar lang hare, wat so dikwels op haar TikTok-video’s los en gekartel om haar skouers bons, is vandag weggesteek onder ’n mooi swart band.
Die see is so naby dat ons dit kan sien en ruik toe ons van die pastorie af oorstap na die pragtige pienk kerkgebou langsaan.
Dis dieselfde kerk waar Farren, tydens ’n erediens van byna ses ure lank, op 15 September 2019 bevestig is as die eerste vrou om hierdie gemeente se voltydse gemeenteleraar te word. Vir haar as onervare, jong, enkellopende het ’n nuwe reis voorgelê. Én vir haar gemeente.
Farren vertel sy was so dankbaar toe sy as proponent dié beroep onvang het, al was dit aanvanklik slegs ’n kontrakpos vir ses maande. Teen daardie tyd was al haar klasmaats van die Universiteit Stellenbosch reeds beroep en besig om hul roeping in ’n gemeente uit te leef.
Toe die Lambertsbaai-gemeente ná die ses maande besluit het om haar voltyds as hul leraar te beroep, was sy diep ontroer. “Hierdie gemeente sal altyd my groot liefde bly, want hulle het ’n kans gevat met my. Met my nukke. En met die mens wat ek is.”
‘My andersheid …’
Maar sy was ook bekommerd. In haar boek skryf sy dat sy gewonder het of haar andersheid vir mense spesiaal sou wees, en of dit hulle eerder van die kerk af sou weghou.
“Ek is nie die toonbeeld van konserwatief nie …”
Die VGKSA, waarin sy grootgeword het en waarvoor sy so lief is, kan ’n stoere omgewing wees. Dominees dra nog swart togas, en van haar ouderlinge swart manelpakke tydens die erediens. En al glo sy dat die kerk moet aanpas om ’n meer toeganklike plek vir almal te word, kies sy haar gevegte, sê sy.
Daarom dra sy haar swart toga elke Sondag op die kansel. Darem saam met ’n paar mooi hoëhakskoene (sy besit meer as 90 pare) en lipstiffie wat daarby pas.
Iets waaroor sy ook sterk voel, is dat sy nie anders behandel moet word bloot omdat sy die predikant is nie. Sy vertel hoe die gemeentelede aanvanklik, wanneer daar ’n funksie was, almal uit polistereenkoppies gedrink het. Maar vir die dominee is daar ’n koppie en ’n piering uitgehaal. “Dis juis wat ek wou kom afbreek,” vertel Farren.
Die gemeente was reeds drie of vier jaar sonder ’n leraar toe sy in Lambertsbaai aangekom het. Soos dit maar is, het die kerk in daardie jare begin leegloop.
Sy sê sy sal nooit vergeet hoe groot sy geskrik het die eerste Sondag toe sy, ná haar bevestiging, daar moes preek nie. Tydens die bevestigingsdiens was die kerk stampvol, maar op daardie eerste Sondagoggend was daar skaars 50 mense. En dit in ’n kerkgebou met sitplek vir 600-700 mense.
Lawwe, eerlike TikTok-preke
Toe kom die Covid-19-pandemie.
Farren hou van mense en dit was vir haar bitter erg dat sy nie by haar mense kon wees nie. Sosiale media het haar wel ’n manier gebied om met hulle in kontak te bly.
Sy het begin met uitsaaidienste, wat vandag steeds voortgaan. Sy het ook Tik-Tok ontdek, ’n ruimte waar sy gevoel het sy bloot haarself kon wees. Waar sy kon wys dat sy, die dominee, ook soms slegte dae beleef. En dat sy ook laf kan wees.
Ek vra haar hieroor uit.
“Ek wil wys dat dominees ook mense is,” antwoord sy. “Ons het nie ’n ‘direkte lyn’ na die Here nie. Ek eet ook ‘steak en kidney pies’ en skaapstertjies. Ek maak ook huis skoon. En ek bid nie vieruur soggens in my stiltetyd nie; ek slaap daai tyd. Sien, ons is almal dieselfde!” lag sy.
Dié meer toeganklike beeld van hul leraar het sommige van die lidmate ontstel. In haar eerste drie jaar as leraar was daar drie briewe wat die kerkleiers versoek het om haar die trekpas te gee.
Maar Farren het gebly. En die gemeente het gegroei. Vandag is daar sowat 400 lidmate wat aktief by die gemeente betrokke is. Daarvoor is sy innig dankbaar.
Die jong mense is ook terug in die kerk, al is daar nie so baie van hulle nie. Maar ook jong mense wat by die gewilde toeristebestemming kom vakansie hou, kom Sondae kerk toe.
Sy kry dikwels boodskappe van jonges wat haar vra hoe hulle te werk moet gaan om ’n dominee te word. Hulle vertel haar sy het hulle lus gemaak om weer by die kerk betrokke te raak.
‘Waar sondaars vir ander sondaars bid’
Intussen het Farren verlief geraak en getrou. Haar man Bradley is ’n speurkonstabel en ’n lidmaat van haar gemeente.
Daar was wel ook dié wat ongemaklik was daarmee dat hul dominee in ’n verhouding was met iemand in hul midde.
Dit het haar diep seergemaak, sê Farren. “Ek weet nie of mense gedink het ek moet vir ewig enkellopend wees toe hulle ’n ongetroude vrou beroep het nie.”
Nie dat die enkeles se afkeurende geluide haar teruggehou het nie. Sy is in Junie 2022 getroud met die man van haar drome. En hulle hoop om binnekort te kan ouers word.
Farren vertel dit het haar baie gehelp om in haar boek oor hierdie seerkry te skryf. Sy hoop ook dat sy, deur haar storie te skryf, vir ander hoop kan bring.
Die boek se titel is ontleen aan die Bybelboek Ester, haar gunstelingboek in die Bybel. Farren glo dat sy ook, soos Ester, deur God geroep is om verandering te bring waar sy haar bevind. Sy met haar rooi lipstiffie, rooi naels en hoëhakke, en hare wat sy kleur om by die seisoen te pas.
“Almal word geroep,” sê sy weer. “Ons moet begin leer dat die kerk ’n plek is waar sondaars bymekaarkom om vir sondaars te bid, want niemand is volmaak nie. Die dag wanneer ons besef dat geen mens se mening saakmaak nie, slegs die Here Jesus s’n, dáárdie dag sal die lewe oraait wees.”
Geroep vir ’n tyd soos hierdie het vroeër vanjaar by Lux Verbi verskyn, en is by alle boekwinkels beskikbaar.