Vandag wil ek getuig hoe God se goedheid en guns in ons lewe aan die werk is: Ek het in 2009 swanger geraak met my derde baba. Ek en my man Gerhardt was so opgewonde, veral toe ons op 13 weke uitvind dat ons ná twee seuns ’n dogtertjie verwag. Ons grootste droom was besig om waar te word.
Ons was egter nie gereed vir wat voorlê nie. Sonder waarskuwing het ’n miskraam gedreig en op 5 November het ons die slegste nuus gekry wat enige ouer kan ontvang: Ons baba het gesterf.
Sy moes op 17 weke uit my baarmoeder verwyder word. Ek is hospitaal toe. Die seer was oorweldigend. Ek het soveel vrae gehad: “Hoekom? Wat het ons gedoen om dit te verdien, Here?”
Min het ek van God se plan geweet, en waarom sekere dinge in die lewe gebeur soos dit gebeur.
Die seer het gebly, maar …
In 2010 het ek bly bid vir ’n dogtertjie. Ek het weer swanger geraak en in 2011 het ons ’n derde seuntjie ryker geword. Hy was chronies siek en het lang tye in die hoësorgeenheid deurgebring. In die loop van drie jaar het hy ’n paar keer ophou asemhaal.
My dokter het vasgestel dat ek nie weer ’n baba sou kon dra nie; dit sou lewensgevaarlik wees. Ek is kort daarna gesteriliseer.
Die seer het gebly, en ek moes vrede maak met die wete dat ek nooit ’n dogter sou hê nie.
In Februarie 2017 het ek by ’n nuwe werk begin. My werkgewer was pleegouer vir ’n dogtertjie uit ’n kinderhuis. Elke keer as ek daardie dogtertjie sien, het ek gevra: “Here, hoekom mag mense dogtertjies hê – net om hulle dan so seer te maak?”
My hart was stukkend. Sy was so klein …
Dit was deel van my taak om elke dag ook na hierdie dogtertjie om te sien. Sy het later by ons huis begin kuier. Ek was tot oor my ore toe verlief op die ou lyfie. En ek het by God gesmeek: “Asseblief, Here, gee haar vir my! Ek sal haar aan U wy, ek sal my álles gee!”
Ek het die krag van gebed heeltemal onderskat.
Die wonders wat God doen
Ek en my man het besluit om klein Mieke (toe ’n jaar oud) aan te neem – net om teenkanting uit talle oorde te kry. Dit voel my ek het teen die hele wêreld baklei. Sóveel mense het ons besluit veroordeel en gesê ons sal seerkry. Die negatiwiteit het ons egter nie ondergekry nie. Ek het op God vertrou, en dit was genoeg.
My grootste begeerte is uiteindelik verwesenlik: ’n dogtertjie met die mooiste blou ogies, blonde hare en kuiltjies in die wange. Dis presies soos wat ek dit wou hê. God het dié poplappie aan ons toevertrou.
Hierdie kindjie is nie ons bloedverwant nie, maar sy is niks minder nie as ons eie dogter. Sy is die prinsessie uit God se troonkamer wat Hy aan ons geleen het.
Is ek vir haar lief?
Ja, onbeskryflik lief!
Verstaan ek nou waarom ek sewe jaar gelede daardie vreeslike pyn moes verduur?
Vir seker.
God het geweet Mieke sal ’n mamma nodig hê wat haar onvoorwaardelik liefhet, ’n mamma wat haar sal vashou en verseker dat alles ten goede meewerk.
Hoewel ons nie God se plan verstaan nie, kan ons sonder twyfel weet dat daar ’n doel met alles in die lewe is. Ek praat uit ondervinding as ek sê: “God ken jou hart. Lê alles voor Hom neer en Hy sal voorsien.”
Paulus skryf: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend …” (Fil 4:6-9).
Hy vervul ons hartsbegeertes, hoewel nie altyd op die manier wat ons dink Hy moet nie. Vandag kan ek getuig dat God óns grootste begeerte vervul het.
Bianca (38) woon saam met haar man Gerhardt (42) en hul vier kinders in Rustenburg, waar sy by ’n plaaslike skool werk. Hulle is aktiewe lede van hul gemeente en is by die welsynbediening betrokke. Veral kinders lê hulle na aan die hart en daarom is dit vir hulle ’n groot vreugde om soms pleegouers te wees vir kinders wat sorg nodig het. Gerhardt is lief om brandrissies te kweek en hy skilder graag, terwyl Bianca haar vrye tyd met fotografie verwyl.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.