Die vraag “Het julle kinders?” is vir my ’n half ongemaklike vraag. Nie oor ek ongemaklik is met die “nee” wat ek noodwendig moet antwoord nie, maar omdat ek agterkom ons kinderloosheid maak wel ander soms ongemaklik.
Met my hele hart sou ek so graag ja wou antwoord, maar ek kan nie. Eers het ek geantwoord ‘nog nie’ maar nou sê ek net “ons kon nie kinders hê nie”.
Ek was 34 en my man Jaco 29 toe ons getroud is. Ons wou albei baie graag kinders gehad het, maar na byna ’n dekade van alles probeer – van pille, hormoonbehandeling en kunsmatige inseminasie tot aanneming – het ons later moes aanvaar dat eie kinders of selfs aangenome kinders nie deel is van God se plan met ons nie.
Ons is vanjaar meer as 18 jaar getroud. Wat vir my mooi is, is dat ek en my man nooit mekaar blameer het nie. Al was hierdie pad vir ons albei moeilik het ons in ’n sin nader aan mekaar gegroei.
Maar dit was nie ’n maklike pad nie. Mense bedoel so goed om jou dadelik te wil vertel van ander wat ook jare gewag het, en toe tóg die wonder. Of wil vir jou bid – maar altyd met net een uitkoms waarop gehoop word. Dié van ’n baba.
Dit is ons getuienis dat God se “nee” op hierdie saak nie beteken dat Hy nie vir ons lief is of omgee nie. Ons het in ons jare saam al soveel kere gesien en ervaar hoe Hy vir ons deurkom en vir ons sorg. Sy weë is net nie altyd ons weë nie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.