“Ek het Jesus se stem gehoor wat sê: ‘Skryf jou storie!’
“Dit was regtig moeilik, maar baie bevrydend.”
Op dié manier beland Anél Marais van die Paarl se hartroerende getuienis in LiG se kuberspens. Maar dit was eers met die lees daarvan dat ons werklik besef het hoe moeilik dit vir haar moes wees om dit te kon skryf.
Wat op 14 September 2001 as ’n doodgewone dag vir ’n gesin van vyf begin het, het as ’n nagmerrie geëindig. Net drie het oorleef – Anél, en haar dogters Thea en Jonél.
Anél se destydse man, Johan Joubert, het hul negejarige seuntjie geskiet, en daarna homself. Johan is op die toneel dood verklaar, maar Johan jr is eers later in die hospitaal oorlede, terwyl sy ma sy hand vasgehou het.
In ’n openhartige video neem Anél die kykers terug na daardie dag. Sy verduidelik ook wat sy vermoed aanleiding gegee het tot haar man se skokkende optrede.
Sy vertel voorts dat sy, ná meer as 20 jaar, die feitlik onmoontlike reggekry het: Sy kon Johan vergewe. Volgens haar het sy tydens die Covid-19-inperking deurentyd ervaar hoe God vergifnis op haar hart druk. Eers toe het sy besef dat sy Johan nog nooit vergewe het nie.
Sy vertel: “Uiteindelik het ek hom vergewe vir die onmenslike daad wat hy gepleeg het. Want God is genadig; Hy vergewe ons sondes. En vergifnis maak jou vry.”
Hoe vergewe ’n mens jou kind se moordenaar?
“Dit was baie moeilik,” sê Anél, “maar as ons God aanbid en na aan Hom leef, is dit wel moontlik. Sonder my Skepper sou ek dit nie kon regkry nie. Ek ervaar steeds sy genade, elke dag, en ek weet dat Hy my deur al die moeilike tye en deur al die swaarkry heen dra.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.