Dis net genade, sê die sanger Rudi Muller, dat hy nog leef. En sy vrou, en sy suster. Die dood het al soveel keer op sy spoor getrap …
Daarom deel hy graag sy getuienis wyd en syd.
‘Ek het die ergste verwag’
’n Klompie jare gelede was hy en sy vrou Lize van Heidelberg af op pad huis toe. Hulle het teen 120 km per uur gery toe ’n groot klip deur die voertuig se voorruit gegooi is.
Hy vertel: “Die klip is tussen my en Lize deur. Die voertuig is erg beskadig. Lize het slegs ’n paar glassplinters in haar oog gekry, en ek ’n skraap op my linkerarm.
“Sou die klip een van ons in die gesig getref het, was dit waarskynlik noodlottig.
“Ons was op pad huis toe ná ’n vriend se troue waar ek gesing het. Ek onthou die waansin en die chaos, en die wit kol wat ek voor my gesien het. En toe kom die harde slag.
“Die klip het reg deur die voertuig getrek, in by die voorruit, maar die agterste sitplek en die agterruit was ook stukkend. Dit moes van die agterste sitplek af teruggebons het, want die truspieëltjie voor was stukkend. Dit het by die rathefboom te lande gekom.”
Rudi sê hy het hom oor ’n mik geskrik. Lize het in die kar aan die slaap geraak en haar oë was toe. Hy het die ergste verwag … Maar hy het nie stilgehou nie, totdat hulle ’n veilige plek bereik het.
Dit het gebeur in ’n tyd toe klippe van brûe afgegooi is. Hulle het opgemerk dat daar padverbouings was en het vermoed dat die booswigte hulle wou beroof, of kaap, of ontvoer.
‘Weer eens ongedeerd’
Enkele jare later moes hul voertuig afgeskryf word nadat hulle teen ’n 30 meter lange ligmas vasgery het. Dié het oor die dubbelpad tussen Springs en Nigel gelê nadat diewe dit afgesaag het om die kabels te probeer steel.
“Weer eens het ek en Lise, wat destyds swanger was, ongedeerd uit die voertuig geklim.
“Ons het voor dié gebeure vir haar ’n melkskommel gaan koop. En terwyl ons voor in die tou gestaan en wag het om te betaal, het die bestuurder van ’n swart Alfa Romeo ’n vuurwapen te voorskyn gehaal, lank na ons gekyk, en uiteindelik die wapen agter in sy broek ingesteek.”
‘Dit was asof die Here ’n groot uitveër gebruik het’
Ongeveer sewe jaar gelede, toe Rudi maar 40 jaar oud was, het nog ’n skok op hom gewag. Hy vertel: “Ek het ellendig gevoel – kwaai hoofpyne, slapeloosheid, moegheid, nagsweet. En pynlike, geswelde limfkliere in my nek. Die keelseer was die ergste.
“Ek was by ’n internis, en talle bloeduitslae en skanderings het op ’n outo-immuunsiekte gedui. Daar is vasgestel dat ek ’n toksiese vergrote skildklier het, en dat iets my liggaam aan ’t vergiftig is.
“Daar was ook die moontlikheid van leukemie, Nie-Hodgkin óf Hodgkin se siekte, Hashimoto se siekte, limfoom, of ’n ander gevreesde siekte.
“Nog toetse het gevolg. Die dokter het gesê ek moet rus. Hy het net geglimlag toe ek hom sê ek het sewe bedieningsoptredes wat op my wag, en dat ek eerder aan die Here gehoorsaam sal wees as aan hom.
“Hy was so ’n vaderlike figuur, wat wysheid uitgestraal het – grys hare, ’n grys baard, kruisbande.”
Toe gebeur ’n wonderwerk: Rudi het ondanks erge pyn opgetree waar hy moes, en vir die een-en-’n-half tot twee ure wat hy gesing het, was sy stem normaal. Een gemeente het vir hom gebid, en die krag van gebed het sigbaar geword.
“Toe ek die dokter weer gaan spreek, was daar geen sigbare teken van enige fout nie. Dit was asof die Here ’n groot uitveër gebruik het en alles weggevee het.
“Die dokter se reaksie was eenvoudig: ‘Prys die Here!’”
‘Bloot die boodskapper’
Rudi vertel van sy suster wat twee keer deur haar eksman geskiet is. Sy was lank in die hospitaal. Hy was toe maar 14 jaar oud, en vandag weet hy dit was suiwer genade dat sy dit oorleef het.
“Sy is ’n getuie vir die Here,” vertel hy. “Sy het die man vergewe. Ons weet hoe moeilik vergifnis is. Ons moet dit vanuit ons geloofsoortuiging doen. En ons moet Hom vra om ons daarmee te help. Hy sal weet hoe om dit te doen; Jesus het ’n moordenaar op Golgota vergewe.
Rudi sê: “Elkeen is in staat om ’n instrument in die Here se hand te wees. Ons moet net bereidwillig en gehoorsaam wees.
“Ek was al by talle kruispaaie in my lewe. As ek nie antwoorde het nie, laat ek alles aan Hom oor. Ek sê bloot: ‘Nou weet ek nie meer nie.’
“Wanneer ek terugdink aan die kere in my lewe toe die Here se genade duidelik sigbaar was, besef ek dat sy genade oneindig groot en omvangryk is – 24 uur per dag, sewe dae per week.”
Op die omslag van Rudi se jongste enkelsnit “We’ll Rise” staan ’n skare voor ’n kruis, hul hande na die kruis uitgestrek. Hulle juig oor die genade en liefde van die Here Jesus.
Genade en liefde is die boodskap wat Rudi met dié snit uit sy album Nuwe dag aan sy luisteraars wil oordra. Wat hom betref, is hy bloot die boodskapper.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.