My seuntjie vra: “Mamma, hoekom gaan ons na ’n ander tannie toe as julle laat werk?”
Ek verduidelik aan hom dat sy mamma en pappa se werk onvoorspelbaar is, en dat daar soms ’n noodgeval opduik sodat ons ’n dringende plan moet beraam. Ek sê dat ons gelukkig vriende het wat vir ons soos familie is. Soms kuier ons kinders daar, en soms kuier daardie vriende se kinders by ons. Sulke mense is vir ons ’n vangnet, en ek hoop ons is vir hulle ook een.
Ek dink dikwels aan Spreuke 18:24, wat só lui: “Party vriende bring ondergang, maar daar is ook ’n vriend wat nader is as ’n broer.”
Ek is regtig dankbaar dat my kinders só kan grootword. In ’n wêreld waar mense geneig is om maar so op hul eentjie aan te karring, het my kinders geleer hoe dit is om in ’n gemeenskap wat omgee te leef. Sonder dat hulle dit noodwendig agterkom, beleef hulle eerstehands daardie ou uitdrukking wat bes moontlik op hul eie vasteland ontspring het: “It takes a village to raise a child.”
Dit is in teenstelling met sosiale media wat ons wil laat glo dat ons alles alleen kan regkry. Dat mense wat hul sout werd is nooit sukkel nie. En as jy sukkel, is dit ’n bewys dat jy nie hard genoeg probeer nie.
LEES OOK: Lyding spreek nie die laaste woord nie
Sulke maklikpraters het dalk nog nooit Prediker 4:9 gelees nie: “Twee vaar beter as een …”
Die wysheid wat ons red van onsself
Ons klou dikwels so krampagtig aan ons sogenaamde onafhanklikheid vas dat ons eers begin hulp soek wanneer alles reeds aan die uitrafel is. Ons dryf onsself voort, dikwels tot breekpunt toe.
En ook ons vergeet van die Prediker se wysheid: “As twee by mekaar lê, kry hulle warm; maar as daar net een is, hoe kan hy warm word? As iemand die een wil oorweldig – twee kan teen hom standhou. ’n Driedubbele koord word nie maklik gebreek nie” (Pred 4:11-12).
As ons uit die staanspoor die koord driedubbel vou, sal ons baie makliker oor die weg kom. En as ons onthou dat hitte nie slegs iets is wat ons ontvang nie, maar ook ’n gewaarwording en soms ’n emosie is wat ons na ’n ander toe dra, sal ons en almal om ons baie beter daaraan toe wees.
Dít is wat ’n village is
Ek vertrou my kinders sal eendag goed weet hoe kosbaar die mense om hulle is. En dat hulle sal onthou van die kospakkies wat ons afgegee het wanneer ’n nuwe baba iewers opdaag, of wanneer vriende trek of wanneer dié vriende hartseer is. Dat hulle ook sal onthou van die kospakkies wat óns ontvang het.
Ek hoop hulle sal onthou hoe tweedehandse klere en sporttoerusting tussen gesinne uitgeruil is, en hoe maaltye soms saamgeflans is uit wat twee of drie gesinne in hul onderskeie yskaste gehad het. Want soms is die samesyn die belangrikste.
Ek hoop ook hulle sal weet hoe om hulp te vra, en hoe om dit met dankbaarheid te ontvang. En dat hulle húl hulp spontaan sal aanbied.
Miskien is dit presies wat ’n village is. Dis nie ’n groep mense wat alles eensklaps regkry nie; dis ’n kring wat aanhou opdaag, met oop hande en ’n sagte hart. En ’n bereidheid om mekaar warm te hou.
Dalk is dit die belangrikste deel van die erfporsie wat ons vir ons kinders kan nalaat: om te weet jy hoef nooit alleen te wees nie. Want ons is nie gemaak om alleen sterk of warm of gevoed te wees nie; ons is gemaak om saam sterk of warm of gevoed te wees.
- Simone Gauche is ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk. Sy is ook ’n eggenoot en ’n mamma van twee seuntjies. Sy skryf graag oor haar verhouding met God en die lesse wat sy leer.




















