Lizl-Louise Schoeman van Pretoria sê haar dogter met Downsindroom het haar hele verstaan van mawees verander. Sy kyk ook met ’n nuwe bril na wat mense se lewe waarde gee. Dié ma het haar storie in Moedersdagmaand vir Heléne Meissenheimer vertel.
Danielle is 21 jaar gelede vroeggebore met ’n noodkeisersnee op haar pa Pieter se verjaardag.
Lizl-Louise was toe 33. Hulle eersteling, Rohan, was net minder as twee jaar oud. Voor hom het hulle lank gesukkel om swanger te raak.
Sy onthou die pediater het dadelik vir hulle gesê dat hulle pasgebore babadogtertjie Downsindroom het. Chromosoomtoetse het ’n paar dae later bevestig klein Danielle het Trisomie 21. Dit beteken dat sy ’n ekstra chromosoom het wat haar fisieke en intellektuele ontwikkeling sou vertraag. Downsindroom Suid-Afrika beraam dat ongeveer een uit elke 600 babas in ontwikkelende lande met hierdie genetiese aanpassing gebore word.
Lizl-Louise vertel dit was moeilik om hierdie nuus te hoor én om dit met die familie te deel. Almal was hartseer. “So, jy het hierdie paradoks, hier is nuwe lewe maar almal huil,” onthou sy.
Hulle het ook die gemeente vertel waar sy toe al vir ’n paar jaar medeleraar was. Die reaksie was sag. “Net liefde en omgee. Dit het regtig vir ons ’n tuiste gegee om deur hierdie goed te werk,” vertel sy.
Omdat sy gevoel het haar baba het haar nou nodig, het sy die kerkraad gevra om haar werkverpligtinge minder te maak.
Kyk sy terug hoor ’n mens by haar dat dit ’n wyse besluit was. “Ek glo daaraan dat ’n mens jou emosies moet hanteer,” sê sy. Hulle as ouers het moes leer wat verg ouerskap van ’n kind met spesiale behoeftes. Onder meer moes sy haar verwagtinge as ouer van hierdie dogtertjie aanpas. Lizl-Louise vertel “ek het in absolute rou gegaan. Ek moes die kind groet wat ek nie gekry het nie sodat ek kon lief raak vir die kind wat ek gekry het – sodat ek haar kon omhels en die lewe saam met haar kon deel.”
Iemand het in hierdie tyd gesê sy moet nuwe drome vind vir haar kind. “Dit het my gehelp verstaan jy hou nie op met droom nie, jy kyk met ’n amper nuwe bril na wat sy kán regkry.
“Daardie het vir my ’n lewenswyse geword. Om so te kyk na mense. Ek sê altyd die regte helde is nie dié wat die voorblaaie haal nie, dit is mense wat elke dag opstaan against the odds of ten spyte van wat hulle gekry het,” voeg sy by.
Onder haar helde tel ook hulle seun, Rohan. Sy sê sy wil vir ouers sê dis verskriklik belangrik dat die sibbe ook raakgesien word. Hulle lewe verander ook. Dikwels gaan die meeste van die ouers se aandag in die kind met spesiale behoeftes.
LEES die res van die getuienis hier. Dié aangrypende verhaal het oorspronklik op Kerkbode, LiG se susterkoerant, se webwerf verskyn.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.



















