Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Ek sal énigiets vir my sussie doen’ – negejarige gee nuwe lewe aan kankerlyer

“Op Merieke se verjaardag het sy vir haar sussie nuwe lewe gegee. Net God kon so iets beplan,” getuig Amarynka Wessels van die Strand. Sy vertel hoe haar negejarige dogter daarop aangedring het om beenmurg aan haar vyfjarige sussie te skenk.

Doktersbesoeke en ’n mangeloperasie vir hul vyfjarige Mia-Miri het heel gewoon geklink. Eers toe die spesialis ná die operasie rapporteer dat haar adenoïdes uitermate vergroot was en baie gebloei het, en toe Mia-Miri ná haar ontslag net wou slaap en niks eet nie, het haar ouers bekommerd geword.

Toe daar op die tweede dag boonop ’n erge koors ontwikkel, moes Stephan en Amarynka Wessels hul dogtertjie vinnig terugneem hospitaal toe.

Mia-Miri is onmiddellik opgeneem vir verdere toetse, en sy moes bloed en bloedplaatjies ontvang. Daardie aand, iewers in Augustus 2025, het ’n dokter dié verskriklike nuus aan die ouers oorgedra: “Your daughter has been diagnosed with leukemia.”

‘Ons wêreld kom tot stilstand’

Dit het vir Amarynka gevoel asof die wêreld tot stilstand gekom het. “Jy probeer asemhaal, maar dis asof jou bors inmekaargesak het. Daar is soveel gedagtes wat deur jou brein hardloop: Gaan sy seerkry? Hoe gaan ons haar beskerm? Gaan sy dit oorleef?

“Toe Mia-Miri die volgende oggend per ambulans na die Rondebosch Mediese Sentrum oorgeplaas is, moes ek haar in God se hande neerlê. Hoe anders?”

Ritse en ritse toetse het bevestig: Mia-Miri het ’n uiters skaars en aggressiewe soort bloedkanker.

“Opeens het ons in ’n vreemde, vreesaanjaende wêreld beland – bloedtellings, beenmurg, chemoterapie, oortappings en maskers. Ons het ’n lewe vol onsekerhede en lang hospitaalgange betree. En dae waarop min dinge volgens plan verloop.

“Wat vroeër vanselfsprekend was – ’n glimlag en ’n lewe sonder pyn – het kosbaarhede geword.” 

Deur dit alles heen het die gesin ’n ongekende geloofsdiepte beleef, en geleer om mekaar op ’n nuwe manier lief te hê – nader, dieper, meer bewustelik. En hulle het geleer om aan te hou glo, selfs wanneer hoop stil geword het.

“Elke dag het nuwe uitdagings gebring. Daar was emosionele en liggaamlike uitputting, asook dié deurlopende vraag: ‘Hoe gaan ons die rekenings betaal?’

“Maar die moeilikste van alles was om toe te kyk hoe Mia-Miri teen iets baklei waarvoor sy nooit gevra het nie, en hoe hartseer haar siekte haar ouer sussie Merieke gemaak het. Tog het dié vreemde pad ons geleer wat regtig saak maak, hoe sterk liefde kan wees, en hoe daar in die donkerste tye steeds lig is.”

’n Beenmurgskenker

Terwyl die eens vrolike Mia-Miri heeltemal ophou loop, eet of praat het, het die gesin ’n staptog ter ondersteuning gereël. “Ons wêreld het klein geword – hospitaalkamers, bloedtellings, vrese. Maar die talle mense wat vir die staptog opgedaag het en oranje klere gedra het om aan Mia-Miri te wys sy is nie alleen in haar stryd nie, het ons gemoed gelig. Die kosbaarste oomblik was toe Mia-Miri spontaan begin het om saam te stap.”

LEES OOK: ‘Dis my droom om Elijah te sien grootword’ – ma van driejarige bloedkankerlyer vertel

Toe het ’n nuwe, hoër berg voorgelê: Daar moes ’n beenmurgskenker gevind word. “Maar nog voor ’n beenmurgoorplanting ter sprake was, het ons negejarige dogter Merieke gesê sy sal enigiets vir Mia-Miri doen. Merieke weet intuïtief hoe om Mia-Miri te laat glimlag. Hulle deel ’n pragtige, spontane liefde.

“Merieke is nie voorgesê om ’n beenmurgskenker te word nie. Maar in plaas van bang wees, was sy opgewonde toe die medici haar as potensiële skenker begin toets het. Sy wou só graag help!”

Maar sê nou dit werk nie uit nie? Sal Merieke dink dis haar skuld?

“Maar op Merieke se verjaardag, 21 April 2026, het sy vir haar sussie nuwe lewe gegee. Net God kon so iets beplan.”

Ná die beenmurgoorplanting het Mia-Miri in die Rondebosch-hospitaal in isolasie gebly. Terwyl sy huis toe verlang het, na kindervreugdes soos skool en maats, was pyn en naalde en lewensbelangrike medikasie steeds deel van haar lewe.

Om hulp te vra

“Die finansiële druk wat kanker meebring, is iets waaroor min gepraat word. Jy fokus tog allereers op jou kind se oorlewing. Maar die finansiële las druk jou van alle kante af. Ons het wel ’n mediese fonds, maar dit dek nie alle uitgawes nie. Ons moes Mia-Miri na ons fonds se hoogste plan opskuif, en steeds elke maand tot R15 000 bybetaal.

“Sommige van die chemoterapiebehandelings kos R60 000 elk, en soms moes sy tot twee per maand ontvang. Terwyl jou wêreld reeds uitmekaarval, leef jy tussen hoop en paniek oor die rekenings wat ophoop. Van daar ons backabuddy-veldtog.* Dis een van die nederigste plekke waar ’n mens jou ooit kan bevind – om hulp te vra.

“Intussen kan een enkele bloeduitslag, een infeksie, een terugslag, ’n heel nuwe storm meebring.”

Geborg

Maar Mia-Miri bly die meisiekind met die leeuehart. “Sy is ’n buitelewe-kind. Sy vind geluk in die optel van klippies en slakke, dan kry elkeen ’n naam en ’n storie. Sy sien die mooi op plekke en in situasies waar ander verbystap.

“Mia-Miri is skamerig, maar sy dra ’n lig in haar. Sy is vasberade, sy is ’n vegtertjie. Sy kla nooit, en is op haar stil manier baie dapper.”

Liefdesdade soos ’n kombers

’n Ganse geloofsgemeenskap dra hulle, smeer salf op hul wonde. “Ons beleef hoe liefde soos ’n kombers om ons vou en ons en ons kinders deurdra. My werkgewer laat my toe om hier in Mia-Miri se hospitaalkamer as rekenmeester te werk. Ons leer dat liefde nie groot woorde hoef te wees nie. Soms is liefde ’n ete wat vir Stephan en Merieke tuis afgelewer word, of ’n aangestuurde pakkie vir Mia-Miri. Daar is mense se gebede.”

Psalm 91 is vir hulle ’n aanspraak in dié moeilike dae. En Jesaja 41:10, wat só lui: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou; moenie bekommerd wees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas.”

Amarynka getuig: “In die tye wanneer ons voel dat ons besig is om te verdrink, stuur God ’n boodskap, ’n gebed, ’n drukkie of ’n teksvers. Elke keer is dit asof Hy fluister: ‘Julle is nie alleen nie.’”

‘God leef in hospitaalkamers’

 “Tussen die vrees deur, die chaos in my kop en die baie trane, het ek ’n boodskap op my foon ontvang: Jesus maak ’n dogtertjie gesond. Dadelik het dit  gevoel asof God self afgebuk en gesê het: ‘Ek is hier. Ek gaan nêrens heen nie.’

“Die kanker het Hom nie verras nie. Hy was reeds daar vóór die eerste simptome en bloedtoetse en die leukemie-diagnose. Dié boodskap was geen toeval nie, maar eerder ’n belofte dat ons nooit alleen hierdie storm sal trotseer nie.

“Maar God vertoef nie net by ’n siek kind nie; Hy sit ook langs ouers wat probeer sterk bly en wat in stilte huil. En Hy vee die bang boeties en sussies se trane op.

“God leef in wonderwerke én in hospitaalkamers en bloedoortappings, in bang stiltes en in hande wat mekaar bewend vashou. Eendag, wanneer hierdie storm verby is, sal ek dié boodskap onthou: Nog voordat ons ons eerste tree op hierdie donker pad gewaag het, het God reeds lig vooruit gestuur.”

* Vir meer inligting oor Mia-Miri se backabuddy-veldtog, klik hier.

** Mia-Miri en Merieke se ouma is Christelle van Rooyen-Wessels, die skrywer van boeke soos Adder, Brandmerk en Wegkruiper.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF