Marilynn onthou dit soos gister, daardie Sondagaand, 25 Julie 1993, in die St James-kerk in Kenilworth, Kaapstad. “Dit was ’n koue, stormagtige wintersaand. Ons het die halfagt-aanddiens bygewoon. Die kerk was stampvol. My man Guy het sy arm liefdevol om my gevou.
“Ek het teen sy skouer geleun, knus en gelukkig. En dankbaar dat ons ’n meningsverskil, wat ons vroeër die naweek gehad het, uitgestryk het.
“Ons het drie rye van voor gesit, in die middelblok. Alles was so mooi en vreedsaam, en twee jong mense het ‘More than wonderful’ begin sing.”
‘Alles het in ’n waas voor my afgespeel’
“Ná sowat vyf minute se pragtige lofsang het die kerk se voordeur oopgevlieg. Ek het nog gedink dis darem ’n stérk wind … Maar toe het drie mans in donker klere ingekom. Elkeen met ’n sonbril op. Hulle was met AK47’s gewapen, en daar was een met handgranate.

“Binne oomblikke het die gewydheid in ’n surrealistiese gru-fliek verander. Ek het aanvanklik nie besef wat aan die gebeur was nie. Ek was nie eens daarvan bewus dat hulle begin skiet het nie, of handgranate gevul met spykers tussen die kerkgangers ingegooi het nie.
“Ek het eenvoudig verstar.”
“En skielik het dit tot my deurgedring dat Guy op die vloer lê. Ek onthou hoe die pastoor almal gemaan het om plat te val, om kalm te bly. Dis toe dat ek ook op die vloer neergesak het, en my afgevra het: ‘Is dit nou die einde? Ek hoop nie dit sal seer wees nie.’
LEES OOK: God se opdrag: ‘Vergewe jou seuntjie se moordenaar – en vertel jou storie’
“Ek was daarvan oortuig dat Guy ongedeerd was, want ek het nie bloed aan hom gesien nie.
“Ek onthou die stilte. Dit was onwerklik. Niemand het geskree nie. Die aanvallers het in die paadjie afgestap en was besig om hul gewere te herlaai toe een van die gemeentelede, ’n voormalige verkeersbeampte wat gewapen was, begin terugskiet het. Een van die aanvallers is getref, en dit het hulle laat terugdeins.
“Alles het in ’n waas voor my afgespeel. Dit was asof die Here my siende blind en horende doof gemaak het. Ek onthou geen harde geluide, chaos of paniek nie.”
‘Ek kon dit nie glo nie!’
Die aanval het slegs vyf minute geduur.

“Ek onthou dat die pastoor vir die gemeentelede gevra het om hul motors te gaan verskuif om plek te maak vir die polisie en die ambulanse. Dié het baie gou opgedaag.
“Ek het steeds gedink dat Guy op die vloer lê om weg te kruip, en ek wou vir hom sê dat hy maar kon opstaan. Maar toe die nooddiens-personeel hom omdraai en ’n laken oor hom gooi, het ek gedink: ‘Wat nou …?’
“Tot my afgryse het ek toe die dik plas bloed aan die regterkant van sy kop gesien. Hy is twee keer raakgeskiet: deur sy kop en deur sy nek. Hy het feitlik dadelik gesterf.
“Ek kon dit nie glo nie! Ek het aan sy been gevat, maar ’n vriendin het my na die ander kant van die kerk toe geneem. Daar het ek gestaan en kyk hoe hulle Guy se liggaam wegneem.
“Ek was geskok en verdwaas. Ek het rondgekyk en gewonder: Wat het dan nou hier voor my afgespeel? Ek onthou dat ’n pastoor vir my kom bid het. Ons biskop het daar aangekom. Ek onthou dat ek sy hand gegryp en gesê het: ‘Guy is dood!’
“’n Klompie Russiese matrose wat agter my gesit het, het ook gesterf, terwyl ’n Russiese ingenieur drie ledemate verloor het toe ’n handgranaat op sy skoot beland en ontplof het.”
‘Ek was stukkend’
“Ek het eers begin huil toe ek uit die kerk gehardloop het. Ek was stukkend. Daar het eindelose dae vol trane op my gewag.”
Marilynn se seun Alan en sy verloofde René, en ander familielede en vriende het haar met liefde omvou, en haar deur daardie moeilike tyd gedra. “En,” vertel sy, “ek kon die Here se teenwoordigheid deurentyd aanvoe
“Ek het nie woede gekoester of haat teenoor die aanvallers saam met my gedra nie. Die leier, so het ek later gehoor, was maar 16 jaar oud. Ek het besef dat hulle eendag aan God verantwoording sal moet doen.”
Alhoewel 11 mense daardie aand gesterf het en 52 ernstig beseer is, is Marilynn daarvan oortuig dat God ’n selfs groter bloedbad voorkom het deur die dapper optrede van die verkeersman.
Daar was ’n klompie Bybeltekste wat vir haar in daardie tyd baie beteken het, onder meer Filippense 4:6 en 7: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”
Asook Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
‘Die lewe is so broos …’
“Ek moes etlike maande ná Guy se dood nog na die bloedvlek op die mat kyk waar hy gesterf het. Gelukkig is die matte mettertyd vervang.”
Hoe het hierdie nagmerrie-ervaring haar geloof beïnvloed?
“Ek is sedert 1987 ’n lidmaat by St James, en ek het ’n paar jaar voor die aanval my hart vir die Here gegee. Ek was nooit kwaad vir die Here nie. Ek glo dat Hy in beheer was, al het ek my man verloor.
“Dit het my eintlik nader aan die Here getrek. Ek het opnuut daarvan bewus geword dat ek Hom te alle tye nodig het.
“Ek moes vergewe, hoewel die gebeure vir altyd in my gedagtes ingeëts sal wees. Maar ek het ook onthou dat Jesus vir ’n sondaar soos ek aan die kruis gesterf het. God het ons vergewe, en ons moet ook ander vergewe. Dis ’n daad van gehoorsaamheid.”
’n Paar weke ná Guy se dood het Marilynn vir God gevra om haar te help om tog net een mens na Hom te lei. Om op dié manier ’n mate van vrede te kry.
Sy vertel: “Die Here het my gebed verhoor. ’n Goeie vriendin se dogter, wat baie erg was oor Guy, het ná die aanval ’n week lank by my kom bly. Ek het my getuienis met haar gedeel. Nadat sy weer terug is, het sy my op ’n dag gebel en gesê dat sy Jesus as haar Verlosser aangeneem het.
“In later jare het ek van nóg drie mense gehoor wat die Here aangeneem het nadat ek my getuienis gelewer het. Ek was so dankbaar!
“My verhouding met die Here het oneindig sterker geword, en ek het betrokke geraak in die bediening. Ek sou dit nie voorheen gedoen het nie.”
Wanneer sy vandag terugkyk op daardie noodlottige aand, sê sy: “Dit alles het my geleer dat ek voortdurende groei in my geloof nodig het. Ek het besef, soos nog nooit tevore nie, hoe belangrik dit is om Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser te ken.
“Ek het ook geleer om nooit kwaad te gaan slaap nie. As Guy en ek nie ons meningsverskil uitgeklaar het nie, sou ek met groot berou moes saamleef.
“Die lewe is so broos, so kort …”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















