Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Hélène Truter –veel meer as ‘Antie Poppie’

Sy sê sy hou daarvan om mooi dinge om haar te hê, anders verlep sy. Dié mooi sien jy met die eerste oogopslag in haar besonderse winkel. Maar televisiekykers weet sy skep ook mooi dinge, as aktrise en as skrywer.

Sommer met die instapslag by die pienk winkel Amulet, in die hartjie van Hermanus in die Wes-Kaapse Overberg, voel dit soos ’n tydsprong na ’n wêreld vol outydse romantiek. Oral begroet breekware met blommotiewe jou, en fluweel-panele van engele, en afdrukke van meesters soos Klimt en Van Gogh.

Daar is koelsakke en handsakke met peonies en romantiese Victoriaanse meisies, sowel as ornamente uit toeka se dae.

En agter die toonbank staan niemand anders nie as ons eie “Antie Poppie”, oftewel Hélène Truter van Vetkoekpaleisfaam. Vriendelik, professioneel en platop-die-aarde. Baie mense kom loer in, nie net om van die besonderse artikels te koop nie, maar ook om Hélène te ontmoet en ’n foto of twee saam met haar te neem.

‘’n Oneindige klomp vreugde’

“Ek is eintlik ’n gefrustreerde sakevrou,” lag Hélène. “Dit was ’n impulsiewe besluit om Amulet te koop. Dit was in 2010. Sedertdien verskaf die winkel my ’n oneindige klomp vreugde, én vir die talle klante. Want dit is mooi.

“Ek het ‘mooi’ om my nodig, anders verlep ek. En ek kry wonderlike terugvoer oor hoe my winkel mense laat voel.”

Hélène het baie ysters in die vuur. “Tot dusver kry ek alles ingepas omdat my dogter Jana die winkel bestuur. Sy weet dikwels meer van wat in Amulet aangaan as ek. Sy het ook ’n goeie oog en haar stilering is besonders. Iemand het nou die dag gesê die uitstalling in die winkel is soos ’n kunswerk.”

Hélène vertel dat sy verlede jaar haar eie produkte plaaslik begin vervaardig het. “Ek laat maak nie die goed in China of Indië nie.

Geborg

“Ek is byvoorbeeld besonder trots op my ‘undercover coolerbags’. Dit lyk soos ’n handsak, maar dis aan die binnekant soos ’n koelsak uitgevoer. Dit kan twee 750 mlbottels koud hou. Daar is ook ’n zipsakkie aan die binnekant, ideaal vir jou selfoon en beursie.”

Foto: Salomien Smal

Om anders te wees

Jana is haar hart se punt. “Sy is besónder kreatief! Sy het, ná haar studies op Stellenbosch, haar eie onderneming begin.

“Jana is ’n entrepreneur, soos haar ma.

“Ons gaan saam oorsee, en ons maak Facebookvideo’s om Amulet te bemark.

Sy is agter die kamera, en ek hou konsert voor die kamera. So wys ons vir die kykers die produkte – maar dis eintlik meer vermaak as smous!”

Jana is gehoorgestrem en kon met behulp van gehoorapparate slegs sowat 20% van normale spraak hoor. Sy sukkel erg om te hoor wanneer daar agtergrondgeluide is.

“Sy maak staat op liplees en moet dikwels raai wat die ander persoon sê.”

Geborg

Jana is soms op skool geboelie. “Ons het hulpeloos gevoel, want sy is nie na partytjies genooi nie en kon nie aan aktiwiteite soos sport of konserte deelneem nie. Deskundiges het vir ons gesê Jana sal slegs een taal kan baasraak, en ons het ons huistaal na Engels verander.”

Jana se lewe as kind het wel soos handomkeer verander toe sy een oggend na haar ma aangehardloop gekom en opgewonde vertel het van ’n feetjie met die naam Jane wat ’n briefie vir haar op haar bedkassie onder ’n klippie gelos het.

Die feetjie was ook gehoorgestrem. So het Jana ’n nuwe beste maatjie gemaak, en die res het nie meer saakgemaak nie. “Sy het begin om miniatuurklere en -geskenke vir Jane te ontwerp, en sy het delikate illustrasies gemaak. Ons het besef sy is ’n kunstenaar.”

Die gesin het in 2008 Hermanus toe verhuis. Intussen het Jana bilaterale kogleêre inplantings ondergaan. Sy is aan die einde van haar matriekjaar in Hoërskool Hermanus as die topstudent in kuns en grafiese ontwerp in die provinsie aangewys.

Terwyl die grendeltyd in 2020 talle mense radeloos gelaat het, het Jana se kreatiwiteit net verder geblom. Sy het begin om groetekaartjies en skryfbehoeftes met haar feetjie-ontwerpe te maak. So is Little Jane Designs gebore.

Die ontwerpe word ook op fluweelsakkies gedruk, én die reeks gaan na tafeldoeke en ottomans uitgebrei word.

Hélène sê: “Om anders te wees, maak jou sterk. Dit dwing jou om met alternatiewe planne vorendag te kom. En dit laat jou uitstaan.”

Geborg

‘Roetine is my dood’

Hélène het nie net diep spore getrap as aktrise in die plaaslike film en TVbedryf nie, sy het haar ook as knap teksskrywer onderskei.

Kykers het haar as aktrise leer ken in TV-reekse soos Sonkring, Elke skewe pot, Die Boekklub, Fynskrif en Fraksie. En op die skerm haar naam as skrywer gesien by Egoli – Plek van Goud, Generations (hoofskrywer), Hart van Staal (medeskrywer) en Swartwater (skepper en hoofskrywer).

Oor dié veelsydigheid sê sy: “Ek moet eenvoudig ’n klomp verskillende dinge doen, hoofsaaklik omdat mense in ons bedryf uit meer as een bron moet geld verdien. Maar ook omdat ek uitdagings geniet, en ek graag my kreatiwiteit op meer as een manier uitleef.

“Dit alles hou my aan die gang. Roetine is my dood.”

Dit was destyds vir dié aktrise, ’n oud-Matie, ’n natuurlike ontwikkeling om haar hand aan skryf te waag. “Toe Egoli in 1990 begin het, was ek ’n jong verhoogaktrise. Ek het geweet ek is nie mooi genoeg om ’n sepiester te word nie, en toe het ek ’n ‘toetsteks’ geskryf. Op ’n tikmasjien …

Ja, ek is só oud!

“Gelukkig het Franz Marx, skepper en vervaardiger van Egoli, daarvan gehou. En ek het ’n verdere 300 episodes geskryf. Daarna het my skryfwerk die pot aan die kook gehou.”

Buiten ’n goeie verbeelding, wat verg dit alles om ’n goeie teks- of draaiboekskrywer te wees?

“Skryf, skryf, skryf,” sê Hélène. “En nogmaals skryf. Dit maak nie saak wát nie. Maar oefen daardie ‘spier’, daai kreatiewe deel van jou brein.

“Daar is niks so skrikwekkend soos ’n leë bladsy of skoon rekenaarskerm nie. Dit verg deursettingsvermoë, en jy moet gedissiplineerd wees. Daarby moet jy ’n dik vel hê, want verwerping is nie lekker nie.

“In Suid-Afrika moet ’n draaiboek binne ’n beperkte begroting geskiet word, met ander woorde so goedkoop moontlik. Die kuns is nou om die storie so boeiend te vertel dat die kyker nie agterkom hoe goedkoop die eindproduk verfilm is nie. Niks klop ’n goeie storie nie …”

Die eerste seisoen van Swartwater, wat in 2014 op SABC2 uitgesaai is, was ’n groot veer in haar hoed. “Dit was mý stories, mý idees. Die onderwerp het my na aan die hart gelê – hoe ouers die lewe aandurf ná ’n kind se dood.

“Ek het gesien hoe swaar my ma gekry het ná my broer Elmo se dood. Die seuntjie wat in Swartwater oorlede is, se naam is ook Elmo. Dit was my huldeblyk aan my broer.

“Die akteurs en regisseur was van die heel beste in die bedryf, en dit was sigbaar in die eindproduk. Die reeks het sewe SAFTAS gewen. Dis ’n groot prestasie, veral vir ’n Afrikaanse reeks.”

Hélène se dogter Jana is gehoorgestrem en het bilaterale kogleêre inplantings ondergaan. Foto verskaf

Nuwe planne, ou liefdes, en geluk

Vanjaar is reeds propvol nuwe uitdagings, sê Hélène. “Ek skryf tans aan Mevrou Fourie en kie, ’n nuwe reeks vir kykNET. En hopelik gaan ek later vanjaar deel wees van die skryfspan vir ’n nuwe Netflix-reeks.

“Ek dink ook daaraan om nog ’n Amulet in Kloof, Durban, te open. Of in die Ballito-omgewing in KwaZulu-Natal. Ek soek nog na ’n geskikte perseel.”

Sy sê sy is dankbaar vir die rolle wat na haar kant toe kom. “Noudat ek ouer is, kry ek interessanter rolle; voorkoms is nie meer so belangrik nie.

“As ek ’n lekker sappige rol in ’n oorsese ‘blockbuster’ kan kry, sal dit lekker wees. Nie om beroemd te word nie, maar om ’n groot klomp geld te verdien. Sodat ek nie hoef te werk totdat ek eendag dood neerslaan nie.”

En hoe het dit gevoel om ná sowat drie dekades weer in antie Poppie se skoene te klim?

“Ek was baie opgewonde toe die vervaardiger en skrywer Willie Esterhuizen my verlede jaar met die goeie nuus geskakel het dat hy ’n nuwe seisoen van Vetkoekpaleis gaan vervaardig. Dit word op Afriforum TV se stroomdiens gewys.

“Maar dit was ’n bietjie senutergend omdat die reeks voor ’n gehoor opgeneem is, en ek baie bang was dat ek my woorde sou vergeet.”

Wanneer Hélène rus en stilte soek, gaan sit sy op die strand en staar ure lank na die see. “Of iewers in ’n woud, waar ek net na die voëls luister.”

Sy werskaf ook graag in die tuin, of doen pottebakkerswerk. Skryf, reis, nuwe plekke en nuwe ervarings maak haar gelukkig. En kuier saam met haar mense. “Mooi musiek en dans maak my ook gelukkig.

“En as my dogter gelukkig is, is ek gelukkig.”

Gaan loer gerus by www.amuletlifestyle.com

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.