Ek is in die kerk grootgemaak – Sondagskool, erediensbywoning. Van kleins af. Al het my geaardheid as introvert dit vir my maklik gemaak om te bid, was dit dikwels asof ek nie kon hóór nie. Ek kon nie altyd God se waarskuwings en boodskappe hoor of verstaan nie.
Daar was baie omkeer-oomblikke, daardie tye wanneer jy tot stilstand gedwing word om te besin, om die pad waarop jy jou bevind, te heroorweeg. Later sou dit weer weggaan sonder dat iets noemenswaardigs gebeur het. Dan het ek maar weer voortgegaan, soos altyd.
‘Jy lyk ’n bietjie geel’
Die week voor 23 Oktober 2024 was ek ietwat van ’n “pap snoek”. Ek was moeg en het ongemaklik gevoel. Dit was asof daar iets op my bors sit. Ek het gereël dat ek ’n paar dae van die huis af werk, maar die moegheid het nie gewyk nie. Ek moes noodgedwonge in die agtermiddae slaap om my batterye te herlaai.
My vrou Chantall is ’n wonderlike moeder-hen, en sy het vir my ’n afspraak by ons huisdokter gemaak. Ons twee was daarvan oortuig my ongesteldheid was ’n verkoue, of dalk griep.
Op Maandagoggend 21 Oktober het ek selfversekerd by die spreekkamer opgedaag. Die dokter se eerste woorde was: “Jy lyk ’n bietjie geel.” Hy het bloed getrek en belowe hy laat weet my sodra hy die uitslag van die bloedtoetse ontvang het.
Aangesien ek oor die algemeen ’n gesonde mens is, was ek slegs semi-gestres …
Maar die dokter se oproep twee dae later, en sy woorde, het my senuwees in die rooi gejaag. “Sorg dat jy by die hospitaal uitkom,” het hy gesê, “onmiddellik.” My kop het begin draai, en dit het kompleet gevoel asof ek teen ’n muur vashardloop.
Ek het nie geweet wat om hom te vra nie. Al wat ek van die gesprek onthou, was dat hy gesê het my lewerfunksie is baie laag. My vrou het van haar werk af huis toe gejaag en my na ons naaste hospitaal toe geneem.
Ek word in die hel wakker
Die eerste twee dae in die hospitaal was ’n behoorlike deurmekaarspul. Skanderings, sonars, inspuitings en bloed trek. Ek het gestres. En ek het gebid. Hier was iets aan die gang wat ek nie verstaan het nie.
Ek het in elk geval gereeld gebid, maar nog nooit soos tóé nie. Nie met soveel erns en ontsag nie.
Laatmiddag het die dokter laat weet dat ’n operasie noodsaaklik was. Die pypies wat na my lewer lei, was vernou en daar moes stents ingesit word. Die rede vir die vernouing? ֹ’n Gewas op my pankreas.
Die prosedure is vir die volgende oggend gereël.
Ek glo die Here het my gebede verhoor, want die operasie sou slegs 45 minute duur. Die laaste ding wat ek onthou, was die instoot in die teater in – en daarna was alles ’n absolute hel.
Tot vandag toe raak ek ontsettend emosioneel as ek daaraan dink: die gewaarwording dat ek in die hel wakker word. Ek kon die vlamme aan my lyf voel lek. Dit was kompleet asof iemand warm kole onder my vel ingedruk het. Die pyn was so intens dat ek nie eens kon skree nie; ek kon slegs kreungeluide maak, soos iemand wat gefolter word.
Ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, het ek weer my bewussyn verloor.
’n Masjien het my aan die lewe gehou
Ek het eers op 30 Oktober wakker geword. En toe het my familie my vertel wat alles gebeur het: Die aanvanklike prosedure het normaal verloop, maar tien minute later het een van die stents losgekom en deur my pankreas, galbaas en maag gemigreer. Dit het ’n ellendige kettingreaksie tot gevolg gehad – sepsis en toe septiese skok.
Gou het my liggaam begin “afskakel” en daar moes ’n noodoperasie op my uitgevoer word. In die vroeë oggendure van 25 Oktober, só is aan my vertel, het ek ophou asemhaal weens al die bloedverlies en die skade aan my organe.
Ek is vyf dae lank geïntubeer, ’n masjien het my aan die lewe gehou.
Dit was hier waar God sy almag aan ons geopenbaar het. Hy het my na my familie teruggebring.
Die begin van my kankerstryd
Die vreemdste van alles wat met my gebeur het, was dat my vertroue in die Here so volkome was dat enige gedagte aan kanker uit my gedagtes geweer is. Totdat die dokter gebel en ’n datum bevestig het waarop my bestraling sou begin.
Dit was 13 Januarie 2025. Die tegnologie het my verbyster. In teenstelling met die prentjie in my geestesoog was die masjien toe nie ’n groot mikrogolfoond nie; ek moes bloot stil lê, 15 minute lank, terwyl die masjien draai. Die liggies het aan en af geflits, daar was ’n bietjie lawaai – en toe was dit verby.
Daardie aand, nadat almal gaan slaap het, het ek al die ligte in die huis afgeskakel. Ek wou sien of ek dalk in die donker gloei. Toe nié …
Ná Week Een was ek moeg, maar dit is die ergste wat tot dusver met my gebeur het. En daaroor is ek oneindig dankbaar.
Hier waar ek vandag sit en my getuienis neerpen, is my hart vol. Die Here het my in dié tyd gewys hoe lyk die krag van gebed, die gebede van ’n magdom gelowiges.
My familie, vriende, kollegas en kennisse het saamgespan om my gesin te versorg toe ek nie kon nie. Ek het ’n buitengewone kalmte ervaar – deur die eskapades in die hospitaal, tot nou toe, die begin van my kankerstryd.
Hoe groot is ons God!
In Jakobus 5:16 leer ons immers duidelik: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.”
- Rupert en sy vrou Chantall is van Durbanville. Hulle het drie kinders: Mieke (14), Jean (12) en die laatlam Eben (4).
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.