Vandag se rubriek is vir my besonders moeilik om te skryf. Hierdie aspek van onvrugbaarheid moet ook ingesluit word as ons oor onvrugbaarheid praat. Maar die waarheid is dat ek myself nie kan indink om met hierdie realiteit saam te leef nie. Of ek dit nou wil erken of nie, dit gebeur gereeld dat persone onvrugbaar is en onvrugbaar bly. Dat hulle nie, soos ek, uiteindelik tog ʼn baba kry nie.
DEUR JACKIE VAN WYK
Die vrees vir kinderloosheid het my vir jare gedryf. Namate ek egter begin beweeg het in kringe waar mense met kinderloosheid worstel, het ek tog begin sien dat dit gedoen kan word. Vandag skryf ek oor dít wat vir hierdie persone gewerk het.
Ons word deesdae blootgestel aan heelparty beelde van hoe ʼn gesin kan lyk. Al hoe meer persone kies ook om nooit te trou nie of paartjies kies om nie kinders te hê nie. Die probleem is dat ons grootword met die idee dat kinders kry ʼn keuse is. Selfs al voel ons nie besonder sterk daaroor om wel kinders te hê nie, kan dit problematies wees as die keuse van ons af weggeneem word, vir welke rede ook al.
ICSI (International Consumer Support for Infertility) is ʼn internasionale netwerk wat hulself daarvoor beywer om vir pasiënte toegang te gee tot goeie kwaliteit fertiliteitsbehandeling. Hulle bied ook ondersteuning aan persone wat geïsoleerd voel as gevolg van onvrugbaarheid en kinderloosheid. Danksy hulle uitgebreide ervaring met onvrugbaarheid en kennis oor die effek wat dit op mense kan hê, het hulle handige wenke oor hoe om die lewe sonder kinders te benader. Ek deel graag ʼn paar van die strategieë hieronder.
Verstaan die verlies
Dit is maklik om te sê dat die verlies aan ʼn werklike kind baie erger is as die verlies aan ʼn potensiële kind. Maar beraders wêreldwyd het gevind dat die verlies ewe erg is. By diegene wat gewoond moet raak aan die idee om ʼn kinderlose lewe te lei, is daar ook dikwels die verwagting dat die routydperk daaroor eendag skielik verby gaan wees. Maar net soos met die dood van ʼn geliefde, sal daar altyd ʼn mate van hartseer oorbly. Kinderloosheid is, net soos om ʼn ouer te wees, ʼn lewenslange kwessie.
Kenners meen dit is belangrik om te verwag dat jou gevoelens oor jou situasie deur die loop van jou lewe op verskillende tye dalk weer te voorskyn gaan kom. Jy word dalk herinner daaraan soos wat vriende se kinders verjaarsdae vier, skool toe gaan of wanneer jou vriende grootouers word. Die goeie nuus is dat, met verloop van tyd, dit moontlik is vir die pyn om meer hanteerbaar en beter bestuur te word.
Hierdie is deel van \’n reeks oor onvrugbaarheid. Ander artikels in die reeks:
Verlede teenhoor hede
Wanneer kinderloosheid ʼn keuse is, word daar dikwels klem gelê op die voordele wat dit inhou. Dit beteken dat jy minder verantwoordelikheid het, meer hulpbronne tot jou beskikking het, meer kan werk aan jou loopbaan en selfs dalk meer kan reis en die lewe geniet. Wanneer jy egter nie ʼn keuse het in die situasie nie, is dit te verstane dat dít waarop jy juis gaan uitmis sonder kinders, die fokus word. En ek kan my indink dat dit baie lank moet neem en baie uitdagend moet wees om hierdie realiteit te aanvaar.
Linda Hunt Anton skryf in haar boek Never to be a Mother: A Guide for all women who didn’t or couldn’t have children (1992): “Resolution does not mean you will be glad to be childless. What will change is that it becomes a past issue, not a current one. Resolving your feelings about being childless means living the many days of your life as well as you can, as fully as you can. It means minimizing the losses of childlessness and maximising the assets of your life.” Sy gaan verder deur vroue aan te moedig om hulle lewens as ‘kindervry’ eerder as ‘kinderloos’ te beskou.
Omarm die verandering
Ongewensde kinderloosheid (vir welke rede ook al) verander ʼn persoon op verskeie maniere. Dit het ʼn wesenlike impak op jou identiteit. Baie rapporteer dat hulle lewenslus en algehele optimisme as gevolg daarvan verdwyn het. Dit is egter ook belangrik om te let op watter positiewe veranderinge meegebring is en hoe jy gegroei het. Oor die lang termyn is dit nie gesond dat die kind wat jy nooit gehad het jou lewe dikteer nie. Herinner jouself gedurig daaraan dat jy steeds in beheer is, dat jy steeds ander geliefdes het wat jou nodig het en dat jy na jouself en jou eie welstand moet omsien.
*****
Onvrugbaarheid en kinderloosheid is komplekse kwessies en diegene wat daardeur moet gaan, verdien soveel respek en bewondering. Dit is gerusstellend dat dit egter nie die mag het om mense onder te kry nie en dat ʼn lewe sonder kinders ook vervullend en betekenisvol kan wees. Ek dink die geheim is om in enige omstandigheid te probeer leer by diegene wat reeds aan die ander kant staan van die berg wat nog voor jou lê.
Hierdie boeke het my gehelp op my reis van onvrugbaarheid:
Surviving Infertility: A Compassionate Guide through the Emotional Crisis of Infertility deur Linda P. Salzer (Uitgegee deur New York: Harper Perennial, 1991).
Taking Charge of Your Infertility deur Kay Oke en ander (Uitgegee deur Melbourne IVF, 2000).
How To Stop Being Infertile and Live Again deur Carter, J. & Carter, M. (Uitgegee deur Indianapolis: Perspectives Press, 1989).
Nog artikels in die reeks: