Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Hoe sterker jou verhouding met God, hoe minder jou begeerte om te drink,’ vertel aktrise Shimmy Isaacs

How to deal with alcoholism | Actress Shimmy Isaacs

 FOTO: ANNA MARAIS PHOTOGRAPHY

Met haar komiese eenvrouvertonings soos Howzit My Bra en Moenie!! het Shimmy Isaacs gehore landwyd laat skaterlag. Sy het selfs in Londen, Skotland, New York en Amsterdam ’n draai gemaak. Maar baie min mense was daarvan bewus dat daar agter Shimmy se humor-masker onverwerkte en diepliggende trauma skuil. Boonop het sy teen alkoholverslawing gestry.

“Ek het God gesmeek om hulp, want ek het geweet ek kan nie my verslawing op eie houtjie oorwin nie. Ek was op pad om myself te vernietig.”

Die aktrise, komediant en skrywer Shimmy Isaacs, wat reeds nege jaar lank sober is, onthou daardie oomblik toe sy só gesmeek het baie goed. “Ek was op die kruin van sukses, maar ek het op ’n dag besef ek het ver weg van God gedwaal. Ek het van mense ’n god gemaak en hulle op ’n troontjie geplaas. My lewensmaat het my in daardie stadium gelos. Ek het toe self na ’n rehabilitasiesentrum gestap.”

‘Ek is ’n alkoholis, maar die Here het ’n saak met my,’ sê Jaaco Rademeyer

Die 37-jarige Shimmy, wat televisiekykers onlangs in die kykNET-komediereeks Magda Louw as die kwaai sekretaresse Linette leer ken het, vertel sy was van kleins af vreesloos. Sy het selfs as 17-jarige van haar ouerhuis in Worcester weggeloop om haar droom te bewaarheid om aktrise te word.

‘Ons is met liefde en warmte grootgemaak’

Shimmy vertel sy het ’n baie gelukkige kinderlewe gehad voor haar ouers geskei is. “Ek het in Victoria Park in Worcester grootgeword as die oudste van drie dogters. My ma was 17 jaar oud en my pa 19 toe ek gebore is. Al was hulle so jonk en onkundig en eintlik nog tieners, is ons met liefde en warmte grootgemaak.” Shimmy se ma was ’n fabriekwerker en haar pa ’n tronkbewaarder.

Sy onthou: “Ek was nege jaar oud toe my ma as haarkapper gekwalifiseer het en haar eie salon op die dorp geopen het. In daardie stadium was ons een van 24 bruin families wat op die gevangenisterrein gewoon het. My ouers het ons van jongs af geleer om hard te werk, en ons is aangemoedig om te studeer.”

Op 12 is sy hoërskool toe. In haar nuwe skool, Worcester Gimnasium, was sy in 1995 een van die eerste groep bruin leerders. “Ek het toe reeds geweet dat ek eendag wil toneelspeel en eerstehands met die uitvoerende kunste te doen kry. Dit het vir my gevoel dat ek in die kunsskool my eie ‘tribe’ gevind het.

“Maar dis ook waar ek die eerste keer geboelie is. Ek het graag uiteenlopende karakters nageboots en met verskillende aksente gepraat, maar die kinders het my daaroor gespot.”

’n Rakpakker by Checkers?

Haar ouers se huwelik was egter onstuimig en toe Shimmy 15 jaar oud was, het haar ouers besluit om te skei. “Dit het gevoel asof my hele lewe in duie stort. My ma het weer getrou en my stiefpa was wonderlik – maar toe verloor ons ons huis.

“Ek het begin wonder of my drome om ’n aktrise te word ooit bewaarheid sal word, en ek was bang ek word ’n rakpakker by Checkers. Ek was 17 toe ek my tasse gepak en met slegs R100 in my beursie van die huis af weggeloop het.

“Ek het in die Kompanjiestuin in Kaapstad beland, eintlik op straat, en dit was die eerste keer wat God met my gepraat het. ’n Sekerheidswag het na my toe gekom en gesê: ‘Baby, you don’t belong here.’ Dit het my laat skrik.

“Ek het by ’n goeie vriendin gaan aanklop en sy het gesê ek is welkom om by haar te bly.”

‘Die Here het my gedra’

Wanneer Shimmy vandag op alles terugkyk, besef sy hoe die Here se guns oor haar uitgestort is. “Ek was van kleins af ’n vreeslose mens. Énigiets kon eintlik op straat met my gebeur het … Maar die Here het my gedra.”

Sy het werk gekry by ’n oudhedewinkel in Langstraat. Dié onderneming het ook stilering vir produksiehuise in Kaapstad gedoen. “Ek het met elke ekstra geldjie wat ek verdien het toneelslypskole bygewoon. Op 21 het ek ’n beurs ontvang om by AFDA-filmskool in Kaapstad te studeer. Eensklaps was alles reg. Ek is lief vir studeer, en die omgewing by die filmskool het my gestimuleer en my siel gevoed.”

Nadat sy haar kursus voltooi het, is sy New York toe waar sy vir ’n kursus in toneeltegniek ingeskryf het. “Maar daar het my verhouding op die rotse beland. Ek het toe ook besef dat daar sóveel trauma in my kinderjare was wat ek nooit verwerk het nie. Ek het geweet ek moes van my bitterheid ontslae raak, en die gevoel van verwerping wat my geteister het. Ek was bang dit sou ’n geestelike kanker word wat my van binne af opvreet. En die Here seën jou nié as jy nie vergewensgesind is nie …”

Drie maande later het sy teruggekeer Suid-Afrika toe. “Ek het besef ek het so baie om vir Suid-Afrika te bied. Ek wou ook graag my eie stem as skrywer vind.”

Die groot keerpunt

Sukses het vinnig na Shimmy se kant gekom. Haar eenvrouvertonings was baie gewild. Maar terselfdertyd het sy baie gedrink. “In 2014 het ek besef dat as ek nie kan skryf of toneelspeel nie, ek in ’n doodloopstraat sal beland.

“Ek het gevoel ek stel God, my ouers en my familie teleur. En dat ek weggedwaal het van God. Ek het by ’n rehabilitasiesentrum aangemeld, en dit is waar my herstelproses begin het.”

Sy het ook by Alkoholiste Anoniem (AA) aangesluit en met behulp van hul Twaalf Stappe het sy haarself gevind.

Sy vertel: “Alkoholisme diskrimineer nie, en dit kan enigeen raak, ongeag jou status of jou velkleur. Ek sê soms in my vertonings op ’n speelse manier dat alkohol nie vir my sisteem gemaak is nie, en daardeur probeer ek mense inspireer. Hulle weet dan dat ek my alkoholverslawing oorwin het.”

Shimmy sê sy het ook meer oor grense geleer. “Na afloop van ’n vertoning sal ek so 45 minute lank saam met van die gehoorlede kuier. Ek reken dis my plig as aktrise. Maar daarna gaan ek huis toe.”

Geloof, wilskrag en ’n voorkomingsplan

Om alkoholverslawing te oorwin, moet jy elke dag sterk staan in jou geloof, jy moet baie wilskrag hê én ’n voorkomingsplan, sê Shimmy. “Ek vra die Here elke dag om my te help. Hoe sterker jou verhouding met God, hoe minder jou begeerte om te drink. Hy is jou skild, en jy moet gereeld vir geestelike leiding vra.

“Daar is ook sekere dinge wat jy moet vermy – mense, plekke, situasies …”

Shimmy se raad aan mense wat aan alkohol verslaaf is?

* Jy moet eerstens vir jouself vra: Wil ek lewe? Daarna maak jy ’n voorraadopname van jou lewe.

* Tweedens moet jy gewillig wees om jou lewe te verander. Dan klop jy by die AA aan, of by ander kundiges.

* En derdens: Doen dit net!

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Jy kan ons help nog meer Bybels versprei en die Evangelie verkondig

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir Jesus leer ken

Kinderpret-leesreeks Storietyd

Beleef ‘n pret, leersame en avontuurlike leesreis vir jong lesers

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders

Laat ‘n Ligspoor

Laat kinders leef met lig, lag en liefde

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF