“Mamma, wat gaan ons nou doen?”
“Mamma, ek is verveeld.”
Dit is Sondag en ons probeer rustig wees, maar daar is iets ingebore in die mensdom wat dit moeilik maak om te rus. Ek neem glad nie my kinders kwalik nie. Ek vind dit self moelik om af te skakel. Hoekom maal die lysies van take wat afgehandel moet word in my kop rond, terwyl ek probeer om dit te ignoreer? Hoekom is dit so moeilik om niks te doen nie?
Die onsigbare lysies in jou kop
Ek probeer vir myself sê: “Skep asem. Sit die lysies, wat jy met onsigbare ink in jou kop geskryf het, eenkant vir ’n wyle.”Ek het die geneigdheid om klein daaglikse takies wat afgehandel moet word, in noodgevalle te omskep in my gedagtes. Jy moet onthou om die honde se waterbakke vol te maak, word: “As jy nie die honde onmiddellik water gee nie gaan hulle in biltong verander en die DBV gaan aan jou deur kom klop en die gru-fotos gaan op die Rapport se voorblad verskyn.” Of: “My vriendin is swanger en was by die dokter, my ma het verkoue gehad en my oom het sy werk verloor. Ek moet onthou om hulle almal vandag te bel, ’n lang gesprek te voer met elkeen, simpatie te betoon en boonop wyse raad ook te gee.” Of: “Ek moet by die die winkels stop vir vars groente en vrugte, anders gaan my man en kinders skeerbuik kry en ontydig sterf.”
Volgens die Joodse tradisie daal ’n vroulike vorm, Shekinah, op die wêreld neer op die Sabbatdag. Ek wonder hoekom, in ’n geloof waar vroue tradisioneel min rolle vertolk het, dit juis by die rusdag is waar ons ’n vroulike figuur vind. Is dit omdat ons as vroue so sleg is met rus en baie goed is daarin om te tob oor take? Ons sukkel om onsself oor te gee aan ’n rusdag. Daar is mos altyd iets om te doen!
Jesus sê tog in Matteus 11:28-30: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”
’n Inkopiesak vir Jesus
Verbeel jou jy maak die dinge op jou lysie bymekaar in ’n inkopiesak – ja, die een wat jy nie vandag gekry het nie, omdat jy toe nooit by die winkelsentrum gestop het nie – en gee die sak vir Jesus. Jy sê: “Neem dit, want ek kan dit nie meer dra nie, dis te swaar.” Jy kruip op sy skoot en lê jou kop op sy bors neer. Wanneer jy wakker word sal die inkopiesak steeds daar wees, maar ligter wees. Nie meer oordrewe en groot soos die items in jou gedagtes opgeswel het nie, maar weer hulle normale grootte. Geen onafwendbare rampe meer wat wag om elke hoek en draai nie. En die goedjies in jou sak is netjieser gepak, asof daar nou weer orde is in die wanorde. Alles voel weer hanteerbaar. Maar dit kan nét gebeur as jy jou sak vir Jesus gee.
Die Sabbat moet die dag wees waarop ons ons sakke by Jesus se voete neerlê, wanneer ons reflekteer en na ons Geliefde soek soos in Hooglied 3:1-2: “Op my bed in die nag het ek gesoek na hom wat ek liefhet; ek het hom gesoek en hom nie gekry nie. Ek het opgestaan en in die stad rondgegaan op die strate en die pleine, en hom gesoek wat ek liefhet.”
Te besig of te belangrik?
Jou verskoning klink dalk soos myne: “Ek is te besig om een volle dag te rus.” (Ek het iewers gelees dat ’n mens “besig” eerder moet vervang met “belangrik”.) “Ek is te belangrik om te rus. Mense gaan my mis.” Ons het almal baie verantwoordelikhede wat klop aan die deure van ons hart en gedagtes; e-posse en boodskappe wat beantwoord moet word, oproepe wat gemaak moet word en takies wat afgehandel moet word. Ons voel lui as ons rus en probeer ruimte skep vir ontspan. Maar God het ’n ongelooflike manier om tyd te vermeerder en te verbreed as ons sy Sabbat heilig hou. Hy ondersteun ons rusdag en ons leer gou dat ons nie kan bekostig om nié te rus nie. Ons kan altyd môre weer terugkeer na die wêreld van verbruik, produseer, verbou en produktiwiteit. Hierdie dinge is nie opsigself sleg nie, maar dit trek ons aandag af van ons Geliefde en vergroot die afstand tussen ons en God.
Sabbat en balans
Die Sabbat help ons om weer balans te vind en die harmonie in ons verhouding met God te herstel. Op die Sabbat moet ons rustig word, ons bekommernisse by Jesus se voete neerlê en onsself probeer losmaak van ons lysies van take wat nog uitgevoer moet word. Ons moet probeer om onsself van ons elektroniese toestelle te ontkoppel en teenwoordig te wees in die hier en nou. Ons moet probeer om ons verslawing aan elektroniese kommunikasie te breek, en om die heiligheid in die oomblik te sien. Jou boodskappe mag dalk opstapel, maar die hemel gaan nie val nie. E-posse bly onbeantwoord, maar kan steeds môre beantwoord word. Ons stel onsself beskikbaar, lê ons hart oop en soek na God.
Die vraag is: Kan ons leer om God te vertrou met ons tyd en Hom toelaat om ons bekommernisse te omskep? As ons dít kan regkry belowe Hy om ons rus vir ons gemoed te gee.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.