Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Ja, grootmense ly ook aan AGHS (ADHD)

Is jy ’n nagwolf? Sukkel jy met tydbestuur, besluitneming of om take te voltooi?
Ervaar jy angs, frustrasie, dalk aggressie? Voel jy dikwels ontoereikend? Dis
moontlik te wyte aan volwasse aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS).

Maar kan grootmense ook aandagafleibaar wees? En hiperaktief? Word dié toestande dan nie ontgroei
nie?

“Wanneer ek vir volwasse kliënte met ongediagnoseerde aandaggebrekhiperaktiwiteitsindroom (oftewel AGHS) ’n opsomming wys van die simptome, en die impak daarvan op ’n mens se lewe, begin sommige huil – uit pure verligting dat iemand uiteindelik verstaan.”

So vertel Hannelie Spies, ’n opvoedkundige sielkundige op Stellenbosch, en voeg by: “AGHS raak meer volwassenes as wat ons besef. Wêreldwyd word die voorkoms onder volwassenes op 2,8% tot 4,4% van die bevolking geskat, maar om verskeie redes kan dit so hoog soos 6,8% wees. En dis meer algemeen by mans as by vroue. “

Mense vra dikwels of AGHS aangebore is. Ons weet nie; wetenskaplikes ondersoek nog die oorsake. Afgesien van ’n genetiese geneigdheid – dit word inderdaad binne sekere families aangetref – speel omgewingsfaktore ook ’n rol. Onder meer prenatale of vroeë blootstelling aan alkohol, tabak en ander gifstowwe; ’n lae geboortegewig; premature geboorte; stres tydens swangerskap.”

Wat wel onomwonde by AGHS blyk, is dat sekere areas in die brein aangetas is, asook die werking van spesifieke senuoordraers. Laasgenoemde is die chemiese stowwe wat die oordrag van seine in die senuweestelsel moontlik maak. Allerlei faktore, onder meer neuro-ontwikkeling en faktore soos ontwikkelingsagterstande, trauma en chroniese spanning verhoog die intensiteit van die simptome. Hannelie sê ook: “AGHS word soms uitsluitlik met kinders geassosieer. Dis foutief; dit kom vir seker ook by volwassenes voor. Dis wel moontlik dat volwassenes met die tipiese simptome dié toestand van kindsbeen af gehad het, maar dat dit nooit gediagnoseer is nie.”

Sulke mense het dalk goed gefunksioneer omdat hulle in ’n gestruktureerde omgewing grootgeword het. Hulle kon hul leefwêreld met die minimum inspanning navigeer, en was intelligent genoeg om hul simptome te verskans.

Die oomblik toe hul verantwoordelikhede begin toeneem, byvoorbeeld om as student op jouself aangewese te wees, of toe hulle pa of ma geword het, of toe hulle ’n veeleisende werkomgewing betree het, het die AGHSsimptome problematies geword. Dan is dit ook so dat AGHS in baie gevalle ongediagnoseer bly omdat dit met persoonlikheidversteurings of ander geestesgesondheidtoestande verwar word.

Hoe weet ek dis AGHS?

AGHS word gekenmerk deur simptome wat met aandaggebrek, hiperaktiwiteit, impulsiwiteit en swak uitvoerende funksie verband hou. Elke mens wat daaraan ly, toon ’n unieke versameling eienskappe wat met bogenoemde verband hou. En die intensiteit van die simptome verskil.

Hannelie sê: “Wees op die uitkyk vir swak aandagfokus, veral as bepaalde take langdurige konsentrasie verg. Asook swak organisasievermoë en swak tydbestuur.”

Dit kom veral in die volgende na vore:

  • afsprake word misgeloop en rekenings word nie betaal nie;
  • dié mens se kantoor is érg deurmekaar;
  • hulle vind dit moeilik om meer as een taak op ’n slag uit te voer;
  • die begin en deurvoer van take is ’n uitdaging;
  • take word uitgestel, al is die nodige vaardighede teenwoordig; dis die uitvoering daarvan wat moeilik en selfs onmoontlik is;
  • swak korttermyngeheue (onder meer name en datums);
  • vergeetagtigheid, veral wat roetinetake betref (die sleutels, foon of beursie is gedurig soek);
  • hulle begaan onnodige foute (byvoorbeeld berekeningsfoute);
  • impulsiewe optrede en besluitneming is ’n probleem;
  • ’n gebrek aan selfbeheersing;
  • rusteloosheid en ’n onvermoë om te ontspan;
  • sensitiwiteit of irritasie is ’n kwessie;
  • ’n probleem om frustrasie en aggressie te beheer;
  • daar is uitdagings betreffende verhoudings en sosiale omgang;
  • hulle praat onophoudelik en het soms geen “filter” nie;
  • hulle sukkel om hul beurt af te wag;
  • hulle sukkel om op ’n kalm manier aan aktiwiteite deel te neem;
  • hulle kry dikwels nie genoeg hoëgehalte slaap nie.

“Dis voorts interessant,” sê Hannelie, “dat iemand met AGHS, ten spyte van swak konsentrasie en gebrekkige fokus, ure lank op dit waarin hulle werklik belangstel (soos rekenaarspeletjies) kan ‘hiperfokus’.”

Die emosionele impak

Die emosionele impak op mense met AGHS word maklik misgekyk en daarom verwaarloos. Dit lei dikwels tot die volgende:

  • frustrasie, omdat hulle sukkel om doeltreffend te funksioneer. Hulle weet wat om te doen, maar kan dit nie suksesvol deurvoer nie. En dit beïnvloed hul werk sowel as hul persoonlike verhoudings.
  • woede – teenoor hulleself weens onnodige foute, en teenoor ander mense wat hulle nie verstaan nie;
  • hartseer en depressie, omdat hulle voel hulle is nie goed genoeg nie en dat sukses hulle bly ontwyk, hul beste pogings ten spyt;
  • angs oor die toekoms, omdat hulle hul werk mag verloor en dan nie vir hul gesin sal kan sorg nie. Of angs omdat hulle nie kan vriende maak nie.
  • ’n lae selfbeeld en swak motivering, omdat hul persoonlike sowel as professionele lewe soveel uitdagings meebring;
  • skuldgevoelens, omdat hulle nie hul simptome goed genoeg beheer nie, en omdat hulle voel hulle is ’n las vir ander.

Hannelie voeg by: “In 75% van alle AGHSgevalle kom daar minstens een gepaardgaande toestand voor: dalk iets soos angs, of depressie, of bipolêre siekte, of middelmisbruik.”

Wie diagnoseer dit – en wat dan?

AGHS word deur ’n mediese praktisyn – insluitend ’n psigiater, sielkundige of huisdokter – gediagnoseer. Dis ’n komplekse proses en behels onder meer ’n kliniese assessering (byvoorbeeld mediese, ontwikkeling- en skolastiese agtergrond), vraelyste, en ander meetinstrumente. Simptome en verwante faktore word volgens die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM 5) en ander bronne beoordeel.

Die ondersoek moet ander moontlike toestande of oorsake uitsluit. Insette deur ander professionele persone, of mense wat by die individu betrokke is, kan waardevol wees.

Die doel is om ’n geheelbeeld te verkry en om ’n ondersteuningsplan op grond van die betrokke persoon se sterk- en swakpunte te ontwikkel. Hannelie sê: “Vir my is dit baie belangrik om vas te stel hoe AGHS, of die feit dat dit nooit gediagnoseer is nie, dié mens emosioneel beïnvloed.”

Die behandeling werk goed as daar ’n professionele persoon betrokke is wat spesifiek op die ondersteuning van die AGHS-lyer fokus. ’n Spanbenadering, waar ’n psigiater en ’n sielkundige teenwoordig is, is ideaal.

Ondersteuningstrategieë kan medikasie, uitvoerende funksie-opleiding, psigoterapie en aanpassings tuis of in die werkplek insluit.

Hannelie sê: “Sommige mense voel negatief oor die gebruik van medikasie. Hoewel dit nie my onmiddellike opsie is nie, is daar wel mense wat beter funksioneer wanneer hulle dit gebruik. Die betrokkenes moet net geduldig wees en gereeld die psigiater raadpleeg; dit kan maande duur om die korrekte medikasieprotokol te vind.

“Ek volg in my praktyk ’n parallelle proses van psigoterapie en die hantering van uitvoerende funksies, oftewel ‘executive functioning coaching’. Laasgenoemde raak die kognitiewe prosesse wat by die beplanning, organisering en uitvoering van take betrokke is. Dis noodsaaklik vir elke dag se suksesvolle funksionering.

“Die weeklikse sessies wat ek aanbied, is daarop gerig om die persoon se omgewing en funksionering te optimaliseer. Uitdagings soos werkende geheue, aandag, impulsbeheer, organisasie- en tydbestuur, die begin en deurvoer van take, probleemoplossing en besluitneming word ondersoek en gehanteer.

“Dié proses verg deursettingsvermoë en die bereidwilligheid om te verander. Met die steun van al die betrokkenes, wat gesinslede en vriende insluit, is dit ’n wenresep.

“In die terapie-gedeelte van die behandeling ondersoek ons moontlike ontwikkelingstrauma en die jare lange emosionele uitwerking van AGHS op die persoon se funksionering.

“Die doel hiermee is om hulle te help besef dat daar niks met hulle verkeerd is nie. Die feit dat hulle nie gou genoeg die nodige ondersteuning gekry het nie, het bygedra tot, byvoorbeeld, ’n swak selfbeeld, onderprestasie, die ongunstige vergelyking met tydgenote, of die boeliegedrag waaraan hulle blootgestel is.

“Ons verstaan AGHS nog nie vollledig nie, maar navorsingstudies bring gereeld nuwe insigte na vore. En bewusmaking verminder die stigma en bevorder ondersteuning, tuis én in die werkplek.”

Ondersteun jou maat só

Verstaan die impak wat AGHS op jou geliefde het deur meer daaroor te leer.

  • Wees geduldig, en probeer jou indink wat jou maat moet deurmaak.
  • Moedig jou maat aan om professionele hulp te kry.
  • Help om ’n gestruktureerde omgewing te skep, wat roetine en ’n stil werkhoekie insluit.
  • Spoor jou geliefde aan om te oefen, al is dit bloot ’n paar minute per dag.
  • Oefening wat jou laat ontspan, om bewustelik te leef en tyd wat in die natuur deurgebring word, verminder ook stres. En dis belangrik, want stres vererger die simptome. Verseker jou maat van jou liefde en ondersteuning.

-Hannelie Spies is ’n opvoedkundige sielkundige wat op Stellenbosch praktiseer. Sy het ’n spesiale belangstelling in AGHS en gepaardgaande toestande in kinders, adolessente, studente en jong volwassenes. Kontak haar by www.hanneliespies.co.za

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF