Die musikant Jan Bloukaas, alias Jean du Plessis, is onlangs met breinstamkanker gediagnoseer. Deesdae verstom hy nie net sy familie nie, maar ook almal om hom met sy sterk geloof. Jean en sy ma Ronelle vertel meer oor die pad wat hulle nou stap.
DEUR DEONETTE DE KOCK
Jean du Plessis het onlangs sy 23ste verjaardag gevier. Hy laat hom deur niks onderkry nie – ook nie deur ’n ellendige kankerdiagnose nie. Hy gebruik deesdae sy tyd om elke dag nader aan die Here te kom, en om ’n getuie vir Hom te wees.
Jean het twee broers, Stefan (34) en Johan (31). En deesdae woon hy by sy ouers in die Kaap nadat die behandeling begin het.
“Jean was altyd ons ‘alternatiewe’ seuntjie,” vertel ma Ronelle. “Ons kreatiewe en energieke kind wat ons met sy musiekloopbaan verbaas het. Hy is ’n baie liefdevolle kind, hy druk en soen almal. En as hy by ’n vertrek instap, weet almal hy is daar; hy het hierdie ‘groot’ persoonlikheid.”
Van waar die ongewone verhoognaam Jan Bloukaas?
LEES OOK: ‘Ek het nie gedroom nie; Jesus het by my voete kom sit,’ vertel siek vierjarige
Dit kom van sy liedjie “Kaas Bra” wat sy vriende op YouTube gelaai het. In 2017, sy matriekjaar, het Jean professioneel begin optree. En die uitnodigings het ingestroom.
Maar die kankerdiagnose en die daaropvolgende behandeling het alles eers op die lange baan geskuif.
Jean vertel hy kom uit ’n Christelike huis. Sy ouers was altyd vir hom ’n voorbeeld. “Ek en my ma was van altyd af baie na aan mekaar, ons verhouding is baie sterk. En vandat ek gehoor het ek het kanker, is sy die hele tyd hier vir my.”
‘Ek was stomgeslaan’
Jean het besef iets is fout toe hy begin het om dubbelvisie te beleef. Toe dit vererger en hy nie meer sy motor kon bestuur nie, het sy ma hom aangeraai om dokter toe te gaan.
’n MRI-skandering het ’n baie groot glioom op sy breinstam uitgewys. “Toe ek die nuus kry, was ek baie ontsteld,” vertel Jean. “’n Mens verstaan dit nie regtig nie. Maar ek was nog nooit opstandig oor die situasie of kwaad vir die Here nie. Ek het nooit gevra hoekom dit met my gebeur nie.”
Ronelle vertel hoe geskok sy was. “Ek was stomgeslaan toe ek die radioloog se verslag sien. Daarna het ek begin huil. Ek is ’n apteker en het onmiddellik die terminologie in die verslag verstaan en die erns van die situasie gesnap. Daar was baie trane …
“Maar toe het die ma-wees ‘ingeskop’ en ek het besef ek moet sterk wees vir my kind. Ek het alles aan die Here opgedra. Ek weet ons gaan nie hierdie pad alleen stap nie.”
’n Neurochirurg het bevestig dat die gewas nie chirurgies verwyder kan word nie. Hy was trouens verstom dat Jean slegs dubbelvisie as simptoom beleef. Volgens die skandering, wat ook die grootte van die breingewas op die breinstam aandui, moes Jean reeds disfunksioneel gewees het.
Ronelle sê: “Dié nuus was ’n geweldige slag. Ons het so gehoop dat die gewas verwyder sou kon word.
“Maar my kind is nou in die Here se hande, en ons bid elke dag. Ek het ’n rustigheid in my. En watter kant toe hierdie storie ook al gaan, ons het groot vrede. Ons gesin is dankbaar vir elke dag wat ons saam met hom kan hê.”
‘Ek het nou baie tyd’
Intussen is besluit op die strafste moontlike behandeling: ses weke se radioterapie, vyf dae per week; dan chemoterapiebehandeling per mond, sewe dae per week.
Deesdae lyk Jean soveel beter. Daar is ook ’n verbetering by sy oë te bespeur. Die enigste newe-effek van al die behandeling is geweldige moegheid. Soms ervaar hy ook ’n bietjie naarheid as gevolg van die chemoterapie-pille.
“Soms voel ek maar bang,” sê Jean. “Ek weet nie wat om te verwag nie, ek weet nie wat die pad vorentoe vir my inhou nie.”
Daar is tans nog ’n week oor van dié behandelingsessie. Die dokter het Jean ook meegedeel dat ’n breingewas slegs vir ’n enkele ses weke-sessie bestraal kan word. Daarna is orale chemoterapie die enigste moontlike behandeling.
“My ma het haar eie lewe tydelik opgeskort om my te help. Ook my familie, vriende en selfs my ondersteuners help my. Dit beteken so baie!
“Ek het nou ook baie tyd om in my geloof te belê. Ek kan vir my geloof ’n doelwit stel: Ek getuig en probeer soveel moontlik mense deur my storie aanraak. Gebed het ’n besonder groot rol in my lewe begin speel. Ek het ál meer geleer hoe om te bid. Ek vra die Here deesdae of daar iets is wat ek vir ander kan doen. En of daar iets is wat ek verkeerd doen. Ek luister na wat Hy vir my sê.
“Dis slegs deur God se ingryping dat ek so rustig en tevrede is. En ek is só geseën met my ouers wat alles vir my makliker probeer maak.
“Ek stel elke dag vir my ’n doelwit: om op te staan – en daarmee help my ouers my baie. Andersins sou ek die hele tyd bly lê het.
“Die diagnose is gemaak, en daar het as ’t ware ’n wekker vir my afgegaan. Ek besef ook nou dat daar baie mense is wat nie regtig weet hoe om hul tyd te gebruik nie. Veral jong mense dink dikwels dat hulle nog báie tyd het …
“Ek wil nie hê mense moet verlore gaan omdat hulle hulle misreken het met die tyd wat hulle op aarde het nie. Hoe vroeër jy gered word, hoe beter.
“Dis soos my pa se broer, oom Tontie, altyd sê: ‘Ons is reeds op pad na die ewige lewe as ons reg lewe op aarde.’ Ek sal dié boodskap graag aan ander wil oordra.”
’n Ewigheidsperspektief
Ronelle is hoopvol oor haar kind se toekoms. “Ons is vol hoop dat die Here sal intree. Die onkoloog het vertel hoe hy al gesien het dat die mediese wetenskap nie altyd sin maak nie. Jean motiveer ons elke dag om positief te bly.
“Toe ’n pastoor op ’n keer met my kind kom praat het, het Jean twee vrae gehad: Hy was bang dat as hy doodgaan hy nie my en my man in die hemel sal herken nie. Dit sal daarom vir hom moeilik wees om hier van ons afskeid te neem. Jean wou ook weet hoe hy in die tyd wat hy nog het aan God kan bewys dat hy vir Hom lief is.
“Jean het nou ’n ewigheidsperspektief. As jong mens en jong kunstenaar het hy vir die oomblik geleef; nou is dit anders. Hy is deesdae gedrewe om soveel moontlik in sy geloof te groei. Daar het ’n totale omwenteling op ’n geestelike vlak in sy lewe plaasgevind, en daaroor is ons dankbaar.
“Soms, as ek by sy kamer instap en hy sit en huil, wil ek weet waaroor hy hartseer is. Dan sê hy dat hy dankbaar is hy het die kans om sy sake reg te maak, en dankbaar dat hy sy ouers se ondersteuning het. Dié getuienis is vir almal in die familie ’n groot inspirasie, en ek sien elke dag God se hand daarin.”
Ronelle sê haar oudste seun en sy gesin, wat in Luxemburg woon, sal Kersfees huis toe kom sodat hulle almal in die feestyd bymekaar kan wees.
‘Ek val in …’
Jean sê: “Jy moet glo waarvoor jy bid en nie twyfel nie. Ek het al deur gebed ’n teken ontvang dat ek hierdie ding sal oorwin. Ek bid dat ek genees sal word.
“Maar ek val in by God se plan. Wat ook al gebeur, ek is gereed daarvoor. Ek aanvaar dit soos dit kom.”
- Jean se siekte het hom nie gekeer om steeds musiek te maak nie. Hy het pas weer ’n enkelsnit vrygestel en gaan binnekort die tweede enkelsnit van sy album As ek jou hoor lag Sy nuwe album, Vreemdeling, gaan ook vroeg volgende jaar die lig sien.