Ons sit op die rusbank. Storietyd is pas verby en ons is reg om saam te bid. Skielik spring my oudste op en kom staan reg voor my. Hy vra: “Mamma, bly Jesus in my?” Hy wys na sy hart. “Bly Hy hiér?”
Ek antwoord: “Ja, Jesus bly in jou.”
Ek sien hoe hy glimlag – en toe begin hy dans. Hy wikkel sy lyfie en swaai sy boude. Lag uitbundig. Dan vra hy: “Doen Jesus dit ook nou?”
LEES OOK: ‘Mamma, wie klop so?’
Ek moet eers asemskep voordat ek kan antwoord. “Ja,” sê ek, “Jesus dans nou ook.”
Dan klap hy sy hande, spring op en af. Ek weet hy is daarvan oortuig dat Jesus dit alles saam met hom doen.
Ek hou hom dop, en ek besef weer waarom Jesus sy volgelinge aangesê het om soos kinders te word as hulle God se koninkryk wil ingaan. Vol verwondering staan ek en kyk hoe my seuntjie klaarblyklik iets van Jesus verstaan waarmee grootmense dikwels sukkel. Hy begryp dat God so na aan my is dat Hy saam met my beweeg, saam met my “doen”, dat Hy alles met my deel.
Hoe gee ’n mens jou ten volle oor aan hierdie intimiteit, hierdie inwoning? My klein seuntjie begryp reeds iets hiervan. Iets van om “in Christus” te wees, soos Paulus dit stel. Die apostel skryf: “God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid” (Kol 1:27).
My liggaam is nie my eie nie; ek deel dit met Christus. Wat ek daarmee doen, maak saak. Want Christus is in my en ek in Hom. Dis soos Jesus self gesê het, gebid het: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (Joh 17:21).
Jesus het aan ons gewys hoe dit op aarde sal lyk as ons ons ten volle aan hierdie verhouding oorgee, hierdie eenwording met God. Dit kom egter reeds van ver af. Ons lees vroeg in Genesis daaroor, toe God saam met Adam en Eva in die tuin van Eden gestap het. Dit was voor die sondeval, en die kloof wat as gevolg van sonde tussen my en God ontstaan het, is deur Christus oorbrug. God is dus nie “eenkant” nie; Ek vorm deel van Hom.
Op die oog af blyk dit ’n eenvoudige begrip te wees, iets wat selfs ’n vyfjarige kan verstaan. Dit bly egter my keuse of ek my dieper in hierdie intimiteit wil begewe. Hier is ek egter dikwels my eie grootste vyand, want ek ontken God-in-my, of ek bied weerstand daarteen. Ek wil alles self doen, ek wil op my eentjie deur die lewe gaan. Dit word noodwendig ’n gesukkel, ’n worsteling. ’n Magstryd wat ek nooit sal wen nie.
Mag ons vanjaar tog leer om ons in hierdie intimiteit in te leef, sodat ons die dans van die lewe saam met Jesus kan aanpak.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.