Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Jesus is by ons – selfs met ’n geskiedenis van drankmisbruik, én in die gevreesde ‘dodesaal’

Hanta de Wet vertel hoe drank haar huwelik verniel het, en oor die moeilike pad wat sy moes loop toe haar man byna twee jaar lank in die hospitaal was. Sy is nou 74, en vir die eerste keer besef sy watter bevryding daar in vergifnis lê. Sy is daarvan oortuig dat die Here ons nooit alleen los nie.

Christie en Hanta de Wet se lewe was vól: Hy het buite Jacobsdal in die Vrystaat geboer; sy was ’n onderwyser en later skoolhoof. Toe Christie in 2017 aftree en die seuns verder geboer het, het Hanta ook afgetree.

Sy vertel: “In daardie tyd het Christie nóg ’n keer probeer om die drankduiwel te besweer. Hy het nooit tuis gedrink nie en ons is nooit mishandel nie, maar daar was verskeie ongelukke op pad huis toe. Ek en die kinders het byna nooit  hieroor gepraat nie, maar ons was moedeloos oor die druk wat my man en hul pa se periodieke dronkenskap op ons geplaas het.” 

Toe Christie iewers in 2018 hospitaal toe moes gaan, was niemand daaroor bekommerd nie; dit was tog net slaap-apnee. Maar hy is gou na Bloemfontein oorgeplaas, en ’n driedubbele aar-omleiding en ’n hartklepvervanging het gevolg. Woorde en frases soos “nierversaking”, “dialise”, “bloed wat nie stol nie”, “kos deur ’n pypie”, en “stoma-sakkies” het op hulle neergereën.

Ondanks etlike mediese ingrypings is Christie later na die gevreesde Saal K oorgeplaas, daar waar sterwende pasiënte gemaklik gemaak word. Die sogenaamde “dodesaal”.

“Wat ’n neerdrukkende plek is dit nie!” sê Hanta. “Elke pasiënt lê agter ’n eie afskorting. Ek was verbouereerd, maar ek het nooit gedink hy sou sterf nie. Tot die matrone my gevra het of ek besef in watter soort saal my man lê …”

‘Jesus is by ons, selfs in die dodesaal’

Daar het Christie gelê, meer as 12 maande lank. In dié tyd het Hanta hom getrou besoek, sy hande met room gesmeer en vir hom uit tydskrifte voorgelees. Hul vriende en familie én die personeel het haar wonderlik ondersteun.

LEES OOK: LiG Getuig-podcast #3: ‘Ek wil die stilte rondom alkoholisme breek’

“Maar Christie het later nie meer gereageer nie, en uit moedeloosheid het ek begin om vir hom geestelike liedere tydens besoektyd te sing. Elke keer het ek met die ‘Onse Vader’ afgesluit. Só het ek God se beskerming oor Christie en oor myself afgebid.

“Een aand was daar ’n dierbare suster wat begin saamsing het, ’n swart man. Gou het ’n klomp ander ingeval – mans, vroue, verpleërs. Elkeen met die ‘Onse Vader’ in hul eie taal. Wat ’n belewenis was dit nie! En wat ’n troos om te kon weet dat Jesus by ons is, en by ons geliefdes, ook in die donkerste nag. Selfs in die dodesaal.

Kyk na die LiG Getuig-podcast wat handel oor geliefdes wat dikwels stilbly oor die alkoholis in hulle huis.

“Baie aande het ek, as die besoektyd verby was, bitterlik gehuil wanneer ek weer moes vertrek. Maar daardie aand met die saamsingery was my hart vol vrede en dankbaarheid.”

’n Nuwe doelwit

Teen alle verwagting in het Christie se toestand verbeter. Hy het honger geword en hy wou régte kos hê. Hy was die eerste pasiënt wat lewend uit Saal K gestoot is, reguit na ’n saal waarin pasiënte aansterk. 

LEES OOK: ‘Op 70 is ek sewe jaar sober’

“Daar,” vertel Hanta, “het ek besef dat slegs God oor lewe en dood beskik.

“Aanvanklik kon hy nie praat nie, en dit het hom erg gefrustreer. Maar toe hy begin praat … het hy sy tjekboek gesoek. Hy was weer terug in die ‘tjekboek-tyd’!

“Hy was later darem tevrede toe ek R50 en ’n bankkaart in sy hempsak gesit het.”

Nie lank daarna nie het Christie se terapiesessies begin, en Hanta het dit bygewoon. Hulle het slegs een doelwit gehad: Christie moes huis toe kom. 

Later het sy hom gereeld in ’n rolstoel deur die hospitaalgange gestoot. Sy het hom en sy suurstoftenk kafeteria toe geneem vir ontbyt. En met spek en eiers en roosterbrood het hulle elke nuwe mylpaal gevier.

‘Ek bid vir ons huwelik’

“Intussen het ek gereeld gebid: ‘Here, help my om nie weer destyds se foute te herhaal nie.’ Ek is soms té reguit, en ná ’n rusie sou Christie dikwels sy eie koers inslaan. En ek myne.”

Toe Christie ná byna 24 maande uit die hospitaal ontslaan is, het die nasorg vir hulle ’n nagmerrie geword. Hanta vertel: “Dalk was ons toe bloot nie meer lus vir hospitale en die abnormale leefstyl nie. En toe het ek Christie self ontslaan. Kersfees 2019 was om die draai en al drie ons kinders sou huis toe kom.”

Christie moes nou tuis gedialiseer word, hy het ’n stoma-sakkie gedra en moeilik beweeg.

Boonop het Hanta met ’n sluimerende longsiekte gesukkel. Sy vertel: “Baie mense het gesê ‘arme Hanta’, maar ek het geweet dis ook ‘arme Christie’, want hy moes soms onder my ongeduld deurloop.”

Op ’n keer het Christie se rolstoel teen ’n skuinste omgeval en hy moes uit ’n blombedding opgetel word.

Daarna het Hanta al haar buite-aktiwiteite gestaak. Voortaan sou sy haar man voltyds versorg. “Tydens Kersfees, en in die drie maande wat hy by die huis was, is hy tuis gedialiseer. Dit was nooit vir my te swaar nie. Hy kon weer sy rolbalvriende besoek, al was dié soort kuiery voorheen ’n groot bron van onenigheid. Gelukkig was die drankduiwel teen daardie tyd reeds oorwin.”

Alleen in die hospitaal

“Toe Covid-19 se inperkingstyd in Maart 2020 aanbreek, het ons huisdokter ons ernstig gewaarsku en gesê dat indien Christie se ureumvlakke sou verhoog, dit fataal sou wees.”

Toe hy daarna weer siek word, is Christie dus per ambulans Bloemfontein toe. “Moet ek nou alleen gaan?” het hy vir Hanta gevra.

Toe sy hom kort daarna, ná spesiale toestemming, in die Bloemfontein-hospitaal besoek, was hy in ’n geïnduseerde koma. “Ek was boonop ontsteld toe ek sien hoeveel personeellede hulle aan Covid-19 blootgestel het. En verstom oor die liefde waarmee hulle steeds hul werk gedoen het.

“Christie het ernstige terugslae in die hospitaal beleef, maar die dokters kon hom telkens deurhaal.

“Ek het maande lank hospitaal toe gebel, drie keer per dag, om te hoor hoe dit met my man gaan. Op ’n keer was hy helder genoeg dat hy, met ’n personeellid se hulp, per video-oproep met my kon praat. Hy het swakkies met sy hand gewink. Hy wou my só graag naby hom hê …”

Toe het die dokters oop kaarte gespeel: Hulle sou hom nie elke keer kon deurhaal nie; met ’n volgende ernstige terugslag sou hulle hom dalk net kon gemaklik hou.

Kort voor sy verjaardag in Julie daardie jaar het Hanta hom besoek. “Ek kon vir hom Psalm 23 en Psalm 121 lees. ’n Hospitaalsuster, ’n bruin man, het toe my en Christie se hande geneem en ons het saam gebid. Daarop het dié dierbare Christenmens gesê: ‘En nou sing ons vir oom Christie.’ 

“Die Here was by ons. Ek wens ek kon elke dag sy teenwoordigheid beleef soos ek dit daardie dag beleef het.”

Sy het ’n video-oproep gemaak sodat hul dogter Elsa in Kaapstad met haar pa kon gesels. Hanta vertel: “Toe ek later van hom af weggaan, was dit vir my baie erg. Dit was so finaal, ek het gestroop gevoel van alles.”

Christie het op 11 Augustus gesterf, en die familie is met die werklikheid van ’n Covid-19-begrafnis gekonfronteer. “Ek gun dit vir niemand nie,” vertel Hanta. “Gelukkig kon almal darem ’n rukkie by ons hek saamkuier, met koeldrank en voorafverpakte koeksisters.”

Vergifnis bring bevryding

Ná ’n verdere ses jaar in Jacobsdal het Hanta onlangs na ’n Kaapse aftreeoord verhuis. “Ek woon nou redelik naby Elsa, en ek gaan kuier graag by my seuns in Jacobsdal.”

Al het sy gesondheidsprobleme, bemoedig sy diegene om haar. En, sê sy, sy groei steeds as mens.

“Christie was baie lief vir ons, hy was ’n versorger. Sy een swakheid het wel baie rusies tot gevolg gehad. Ek het onlangs, tydens ’n vrouekamp, vir die heel eerste keer sy drankmisbruik by die naam genoem, en dit met ander Christenvroue gedeel. Ná jare se stilbly was dit bevrydend toe ek daardie woorde hardop voor mense kon sê. Deesdae beleef ek hoe vergifnis ware bevryding bring.”

Hoekom het sy hom al die jare so bygestaan?

“Ten spyte van die swaarkry wat Christie se drinkgewoontes meegebring het, het ek destyds gekies om hom getrou te ondersteun. Ek het dit op ons troudag in 1974 belowe. Buitendien het die Here dit van my verwag. Daarom sou ek hom nooit alleen laat nie.

“Die Here plaas ’n mens op ’n bepaalde pad, en Hý laat jou nooit alleen nie.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►