Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Jong vrou wil hoop bring ná gru-ongeluk: ‘Ek is oukei. Jesus is by my’

Meer as twaalf jaar gelede, op ’n Sondagaand in Oktober 2013, het ’n enkele oomblik ’n jong meisie se hele lewe onherroeplik verander. Wat begin het as ’n uitstappie saam met vriende, het geëindig in ’n ernstige motorongeluk. Vandag is Joelene Haasbroek se verhaal ’n getuienis vol hoop wat sy graag op sosiale media met ander mense deel.

In 2013 was Joelene Haasbroek 11 jaar oud. Een aand was sy saam met vriende en hul ouers op pad van Sun City na Pretoria toe ’n dronkbestuurder, in ’n kar sonder ligte, in hul voertuig vasgery het.

“Die impak was verwoestend. Die motor waarin ons was, het vier keer gerol,” vertel sy.

Joelene en ’n seun is uitgeslinger. Sy het onder die voertuig beland. Die seun, wat voor haar gesit het, is op die toneel dood. Joelene was bewusteloos en onthou tot vandag toe niks van daardie oomblikke nie.

‘Ek het geen pyn gevoel nie’

Toe sy later bykom, was daar chaos om haar. “Maar ek het geen pyn gevoel nie,” vertel sy. “Ek het net gevra wat gebeur het.”

Die werklikheid het haar eers getref toe sy haar hand agter haar regterbeen indruk en die bloed sien. “Ek het gedink ek gaan doodbloei. ’n Paramedikus het my gevra of ek reg is, en ek het instinktief gesê: ‘Ek is oukei. Jesus is by my.’”

Die snywond aan haar been was slegs ’n millimeter van die slagaar af. Die dokters het later bevestig dat sy net daar sou doodbloei indien die wond effens dieper was.

Joelene is geopereer. Die medici was vooraf onseker oor die herstel van haar skiatiese senuwee, dit is die een wat beweging in die heup, dy, onderbeen en voet beheer, wat ook gevoel aan groot dele van die been en voet gee. Indien dié senuwee nie sou aangroei nie, sou amputasie oorweeg moes word.

LEES OOK: Vrou veg reeds 12 jaar lank teen breinkanker: ‘Asemhaal is ’n voorreg’

Tydens ’n drie uur lange operasie het die dokters vasgestel dat die senuwee wel ernstig beskadig is.

Die pad na herstel was lank, pynlik en emosioneel uitmergelend. Joelene moes etlike dae in die intensiewesorgeenheid deurbring, en daarna was sy nog lank in die hospitaal. Maande en jare  se fisioterapie het gevolg.

“Ek moes weer leer loop,” sê sy. “Elke keer as ek opgestaan het, het dit gevoel asof alles in my been skeur.”

Hoewel amputasie nie nodig was nie, kon die dokters haar geen waarborg gee dat sy ooit weer die volle funksie in haar been en voet sou herwin nie. En ná twee jaar was dit duidelik dat Joelene se voet permanent verlam was. “Ek kan my been voel, maar ek kan glad nie my voet voel of beweeg nie.”

Van verlies na betekenis

Dié besering was ’n enorme fisieke en emosionele slag vir Joelene. Voor die ongeluk was sy ’n toegewyde atleet en gimnas.“Sport was my lewe. Dit is wie ek was. Om te aanvaar dat ek nooit weer normaal sou loop of hardloop nie, was baie moeilik.”

Tog het sy geweier om in selfbejammering te verval. “Daar het ’n punt gekom toe ek besef het ek kan nie net sit en wag vir iets om te verander nie. Al het ek skuldig gevoel omdat ek oorleef het terwyl ’n ander jong mens sy lewe verloor het, moes ek iets doen met wat ek nog gehad het.”

Hierdie besef het haar gemotiveer om para-atletiek aan te pak. Sy is as ’n gestremde atleet geregistreer en het vanaf 2017 aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem. In 2019 het sy ’n nuwe rekord in haar klas en ouderdomsgroep opgestel.

“Om medaljes te wen was nooit my grootste motivering nie,” vertel sy, “ek wou ’n betekenisvolle lewe lei. Die feit dat ek weet my besering is permanent, dryf my. Ek kan dit nie verander nie; ek moet eenvoudig leer om daarmee saam te leef.”

Sy erken dat daar steeds dae kom wanneer dit moeilik is om positief te bly. “Die pyn is ’n werklikheid. Soos die beperkings. Maar ek het nie ’n ander keuse gehad as om op te staan nie.”

Wat haar die meeste motiveer, is die wete dat haar lewe ’n groter doel het. “Die oomblik as ek moed opgee, stuur ek ’n boodskap uit dat swaarkry die einde is. En dit is nie waar nie.”

Joelene glo vas dat God haar lewe gespaar het omdat Hy ’n doel vir haar het. “Ek voel die Here gebruik my om vir ander mense hoop te bring.”

Sy sien dan ook hoe haar getuienis ander mense raak wanneer sy dit op sosiale media met hulle deel. “Elke keer as iemand vir my sê dat my storie hulle moed gegee het, gee dit my nog meer krag. Deur ander hoop te gee, kry ek self hoop.”

’n Lewe vol dankbaarheid

Vandag beskou Joelene die gevolge van haar besering as ’n gulde geleentheid om haar getuienis te lewer. “Wanneer iemand my vra wat met my voet gebeur het, is dit ’n kans om te vertel hoe goed God vir my was en is. Nie dat alles altyd maklik was nie, maar Hy bly getrou.”

Sy leef met dankbaarheid. Sy vertel: “Ek is lief vir die lewe omdat ek nog ‘n kans gekry het. Nie almal kry dit nie.”

Haar boodskap aan ander is eenvoudig: “Die lewe is te kort om nié voluit te leef nie. Moenie wag vir ’n tweede kans voordat jy begin lewe nie. Jy weet nooit of jy dit gaan kry nie.”

Vandag woon Joelene, wat ook ’n finalis in die tydskrif Sarie se Voorbladgesig 2025 was, saam met haar verloofde Whian in Umtentweni, Port Shepstone. Sy verrig haar gemeenskapdiens as spraakterapeut in dié kusdorpie.

Miskien lê die kern van haar getuienis steeds opgesluit in die eenvoudige woorde wat sy op daardie noodlottige Sondagaand in Oktober 2013 geuiter het: “Ek is oukei. Jesus is by my.”

Dit weerklink vandag nog.

* Joelene is op Facebook by Joelene Haasbroek bereikbaar, en op Instagram as @joelene_haasbroek.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►