Die bekende trourokontwerper Ilse Roux veg reeds sowat sewe jaar lank teen die outo-immuunsiekte skleroderma. Dit kry haar egter nie onder nie. Sy vertel van haar genesingspad saam met God, van navorsing wat haar tot in haar wese geskok het, en van haar eerste boek.
Ilse Roux sê dat sy sowat sewe jaar gelede besef het alles is nie pluis nie toe haar vel eensklaps “styfgetrek” begin voel het, wat haar bewegings gestrem het.
Ná vele toetse is sy met die outo-immuunsiekte skleroderma gediagnoseer. Dié siekte het tot gevolg dat jou vel en omliggende weefsel verhard. Dit kan ook jou hart, niere, longe en spysverteringstelsel aantas.
Vandag moet sy saamleef met ’n donker-der velkleur, met gesigvel wat styftrek, ’n mondholte wat verklein het, en erge moegheid. Haar longe se vermoë om suurstof te absorbeer is slegs sowat 60% van die normale, en haar niere het in ’n stadium maar teen 13% van die normale gefunksioneer.
“My hart is genadiglik nog nie aangetas nie, maar my spysverteringstelsel wel. My maag het verklein.” Sy lag. “’n Mens sou dink dis eintlik ’n voordeel dat jy nou ewe skielik baie minder kan eet …
“Maar ek ly aan erge refluks, en my maag se wande en dié van my dermkanaal het so verdik dat my liggaam sukkel om voeding-stowwe op te neem.”
Voorheen was die lewensverwagting vir skleroderma-lyers slegs sowat ses jaar, vertel Ilse, maar daar is deesdae beter medikasie beskikbaar. En dit voeg aansienlik meer jare by.
’n Groot genade in haar lewe is dat sy, ten spyte van die slegte simptome wat sy ervaar, dit steeds regkry om ’n suksesvolle onderneming te bestuur.
‘Gees en vlees ineengeweef’
Die grootste skok wat haar getref het was egter nie die siekte wat haar liggaam so teister nie. Twee jaar gelede het sy verstom gestaan toe sy uitvind dat daar ’n moontlike verband bestaan tussen die skleroderma en die mishandeling wat sy as kind deurgemaak het.
Sy sê sy het navorsing teëgekom wat daarop dui dat mense wat trauma as kind ervaar het ’n groter risiko loop om outo-immuunsiektes op te doen.
Sy wil nie oor die mishandeling praat nie. Sy sê sy wil nie die betrokke familielid skade aandoen nie. “Joyce Meyer, byvoorbeeld, is gemaklik daarmee om, terwyl haar pa in die vertrek sit, na hom te verwys as die een wat haar gemolesteer het. Ek is nie gemaklik om die mens wat my mishandel het só tot skande te maak nie.”
Sy sê sy het ook eers as volwassene besef dat haar “normaal” eintlik nié normaal was nie.
“Dis verstommend,” sê sy, “hoe gees en vlees ineengeweef is. Jou liggaam het ’n geheue. Dit onthou alles wat met jou gebeur het.
“Nadat ek van dié verband uitgevind het, het ek sielkundige behandeling ontvang. Ek het ook alle kontak met die betrokke familielid verbreek. Sedertien het my nierfunksie baie verbeter. Maar die emosionele genesingsproses is nog nie afgehandel nie.”
Geloofspad in gehoorsaamheid
Dié merkwaardige vrou, wat vir elke bruid bid terwyl sy haar rok maak, het onlangs ’n boek oor haar insiggewende geloofspad geskryf. Bakens van geloof het vroeër vanjaar by LAPA verskyn.
Hieroor sê Ilse: “Ek het besluit om kragtig te getuig oor alles wat in my en ons gesin se lewe gebeur het. Dit maak van die boek ’n soort geestelike nalatenskap aan my kinders en kleinkinders.”
Sy vertel van die groot waarde wat sy put uit ’n lewe van volle gehoorsaamheid aan God. Oor hoe sy werklik na God se stem luister. “Ons moet onthou daar is altyd iemand aan die eindpunt van ons gehoorsaamheid. Ek het, byvoorbeeld, jare gelede ervaar hoe God my vra om aan iemand in ons gemeente ’n bepaalde bedrag geld te gee.
“Ek het eers teëgeskop, gevra of ek nie maar ’n bietjie minder kan gee nie. Maar die opdrag was duidelik. Ek het toe daardie Desembermaand die presiese bedrag by die gesin se voordeur gaan afgee.
“Toe ek die betrokke persoon later weer raakloop, het hy my bedank en gesê die geld was presies soveel soos sy vrou se inkomste wat sy nie daardie Desembermaand kon ontvang nie. Sy moes haar baie siek kind versorg en kon nie werk nie.”
Ilse vertel ook oor hoe kragtig die gebruik van nagmaal vir haar is. “Wanneer ek die tekens van die nagmaal ontvang, ontvang ek alles wat in Jesus se liggaam is. Ek ontvang sy liggaamsgeheue van die kruisiging, sy dood en sy opstanding.
“Dan is sy liggaam eintlik besig om my liggaam daaraan te herinner dat Hy reeds gesterf het, ook vir skleroderma. Hy het reeds die prys betaal sodat ek daarvan vry kan wees.
“Hy is die Vredevors. Ek ontvang sy volmaakte vrede, tot in elke sel van my liggaam. En Hy verklaar dat daar vrede sal kom tussen my immuunstelsel en my liggaam sodat my immuunstelsel nie meer my liggaam sal aanval nie.
“Só kan ek elke dag iets anders ontvang wat in Jesus se liggaam is, want Hy wil my daarmee bevoordeel.”
En as God haar nie genees nie?
“God wil altyd genees. Dit is in sy aard. Die psalmdigter roep uit: ‘Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees’ (Psalm 103:3).
“En ek sal Hom altyd loof. Vir my mooi gesin, vir geleenthede, vir wie Hy is. Hy is die God van wonderwerke.”