’n Huwelik is soos ’n huis waaraan jy bou. Dit vra harde werk, toewyding, liefde. Dit vra ook keuses wat soms klein lyk, maar wat op die lange duur die verskil tussen ’n stewige struktuur en ’n bouval kan beteken.
DEUR RENÉ BADENHORST
Hier volg tien keuses wat ’n groot verskil in jou huwelik sal maak. Soms, sal jy sien, vra dit nie eens iets so dramaties soos ’n definitiewe besluit nie, maar bloot sagte oë en ’n oop hart.
1 Jou maat is eerste
“Die liefde soek nie sy eie belang nie,” skryf Paulus in 1 Korintiërs 13. En hoe waar is dit nie! Ware liefde beteken tog dat jy nie altyd jou eie voordeel sal najaag nie, maar bereid sal wees om terug te staan. Om jou maat se belange eerste te stel.
Dit mag die keuse beteken, die opoffering, om jou eie agenda eenkant toe te skuif sodat jy aan jou maat se behoeftes kan voldoen. Om haar of hom eerste te plaas, is dikwels die sleutel tot blywende huweliksgeluk.
En dit vra nie kennis van kernfisika nie! Dit is soms so eenvoudig soos om jou selfoon af te skakel wanneer jou maat met jou wil gesels. Om jou rug vir die TV te draai. Om die deur agter julle dig te trek sodat die kinders die boodskap kry dat julle nie gesteur wil word nie. Om soms uitdruklik téén die werk se eise en kollegas se aandrang te kies, ten gunste van die aandag aan jou maat.
Jou maat het dit nodiger as baie dinge om te weet dat hy of sy vir jou belangriker is as al hierdie mense of dinge. Dat sy of haar behoeftes voorop in jou gedagtes is.
2 Lojaliteit het nie ’n prys nie
Wees toegewyd aan jou maat en jul huwelik. Die lewe “gebeur” met ons almal en almal maak dom foute, maar bly by jul belofte aan mekaar om mekaar altyd te beskerm, te koester en lief te hê.
Julle is ’n eenheid en nie mekaar se opponente nie. Die huwelik is ’n vennootskap en nie ’n wedstryd nie. “Wen” en “verloor” bestaan nie in jul huwelik se woordeskat nie.
En waak tog teen die “vyftig-vyftig”-mentaliteit, waarvolgens jy vir jou maat wag om sy of haar deel te doen voordat jy joune doen. Die opweeg en vergelyking van “bydraes” tot die huwelik is teenproduktief. Gee jý 100%, ongeag.
En om aan ander mense, juis ook jou ouers, te wil vertel wat jou maat kwansuis alles verkeerd doen, is sekerlik die toppunt van dislojaliteit.
3 Optimisme is ’n keuse, ja
Die weer is sleg, die huis is deurmekaar, die skottelgoed hoop op en jou kollegas irriteer jou … Daar is altyd baie om oor te kla, jy hoef nie eens ver te soek nie. Maar negatiwiteit steel jou vreugde en wanneer jy knaend daaroor praat, beroof dit almal rondom jou. Juis ook jou lewensmaat wat alles eerste moet aanhoor.
’n Gekla kan maklik ’n lewenswyse word. Kies elke keer daarteen. Kies om die positiewe dinge in die lewe te soek en fokus daarop. Leer om jou maat te bemoedig wanneer dit met hom of haar swaar gaan.
4 Uit met die balk!
Erich Schoeman is ’n kliniese sielkundige en die uitvoerende hoof by die Sake van die Siel-bedieninge, en hy is daarvan oortuig dat een van die grootste struikelblokke in ’n hedendaagse huwelik selfgesentreerdheid is. Die fokus is dan op dit wat die maat sogenaamd verkeerd doen. Dit lei tot ’n afname in vertroue en ’n stelselmatige onttrekking, totdat daar ’n emosionele afstand ontstaan. Dit alles word dan ’n broeiplek vir griewe en bitterheid.
Uiteindelik ontwikkel daar ’n blaam-siklus: Die een maat voel deurlopend soos ’n slagoffer van die ander een se gedrag.
Só bly albei se behoeftes onvervuld. Dit word ’n tipiese “ongelukkige huwelik”.
Hoe kom ’n mens uit hierdie vernietigende patroon uit? Deur allereers jou eie aandeel daarin te erken en te evalueer. Maar dan baie eerlik. Vra jou af: Probeer ek my maat telkens terugbetaal vir wat sogenaamd aan my gedoen is?
Of is jy op vergifnis en herstel gerig? Kortom: Hoe vaar jy met Jesus se opdrag: “… Haal eers die balk uit jou eie oog uit …”? (Matt 7:5).
5 God is jul vennoot
Hoe nader ons aan God groei, hoe beter vir ons huwelik, sê Erich. Omring julle met ander gelowiges, wees leerbaar en bewus van jul afhanklikheid van God. Volg die leiding van sy Woord en Gees. Rus in sy liefde vir julle en vertrou sy beloftes.
’n Wenk: Praat eers met die Here oor jou gevoelens voordat jy met jou maat daaroor praat. Bid vir jou maat. En bid saam met mekaar.
LEES OOK:
‘Is jy régtig lief vir my, my onromantiese man?’
6 Geldsake vra keuses
Finansies en alles wat daarmee gepaard gaan, is een van die grootste redes vir vervreemding tussen huweliksmaats. Dit kan selfs tot egskeiding lei. Wees geldslim. Maak die meeste van wat julle het. Koop wat julle kan bekostig.
Herinner mekaar gereeld daaraan om dankbaar te wees vir wat julle het, en om nie so te kla oor die luukses wat ander het nie. Maak seker jou maat weet dat jy haar of sy harde werk waardeer.
7 Liefde is … aanraking
Emosionele en fisiese intimiteit speel ’n besonder groot rol in ’n huwelik. Soek mekaar op, wees ontvanklik vir mekaar. Dit versterk die bande op alle vlakke in die huwelik.
Onthou dat liefdevolle aanraking, wat nie noodwendig na seks gaan lei nie, van groot belang is. Deel gereeld drukkies aan mekaar uit, hou mekaar se hand vas, raak aan mekaar wanneer julle langs mekaar sit.
8 Praat! Praat! Praat!
’n Paartjie wat skraps kommunikeer se huwelik kan beswaarlik groei. Wees oop vir mekaar. Sorg dat jou maat jou gevoelens en behoeftes duidelik hoor en verstaan, en sorg dat hy of sy dieselfde van jou kan sê. Skimpe, vae leidrade en subtiele liggaamstaal werk nie altyd nie. G’n mens kan ’n ander se gedagtes lees nie.
Moenie altyd konflik wil vermy nie. Soms genees ’n uitbarsting die dreigende sweer. Wanneer probleme bloot geïgnoreer word, word dit groter en meer kompleks.
9 Woorde bou én breek
Die Spreukedigter sê: “Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê” (Spr 12:18). Dit is inderdaad so dat blote woorde die vermoë het om iemand op te bou of af te breek. Wanneer ons kwaad word, is dit maklik om dinge te sê wat maar kon gebly het of op ’n ander manier gesê moes word.
Tel jou woorde. Hou die wag voor jou mond wakker en in sy pasoppens. Wag tot jy kalm is voordat jy reageer, en kies dan jou woorde wys.
10 “Liefde” spel jy T-Y-D
Moenie aanneem jou maat weet jy is lief vir hom of haar omdat jy hard werk of omdat jy sulke lekker kos gemaak het nie. Om te kies om tyd by mekaar deur te bring, is die éintlike keuse vir liefde. Eensaamheid, belangeloosheid en gevoelens van waardeloosheid is spykers in enige verhouding se doodskis.
Wees innoverend – en ook dit is nie moeilik nie! Stuur deur die loop van die dag aan mekaar boodskappies. Hou aan droom en beplan vir lekker tye saam.
Maak ’n afspraak en doen dan dié dinge wat julle aanvanklik na mekaar toe aangetrek het. Dit mag ’n klompie opofferings verg en vir fyn beplanning vra, maar dit is ’n goeie belegging in ’n gesonde verhouding.
- Erich Schoeman kan by www.sakevdsiel.org gekontak word.