Die oomblik toe die sewejarige Leja haar lewelose sussie vir haar ma Marné Faure aangee, het sy gedink iemand skeer die gek met haar.
Marné vertel: “Leja het hierdie lewelose liggaampie in my arms gelos. Sy het nie asemgehaal nie, haar mondjie was reeds blou en groot opgeswel van al die water wat sy gesluk het. Op daardie oomblik het alles so onwerklik gevoel. Hou iemand ons vir die gek?
“Ons het dan pas gehoor hoe iemand anders ’n verskriklike storie vertel van ’n kind wat verdrink het – hoe gebeur dit dan nou met óns?”
’n Nagmerrie-agtermiddag
Oomblikke voor dié ondervinding het Marné en haar man Swys na ’n televisieprogram gekyk en daar gehoor hoe die oud-Springbok Jannie du Plessis oor sy seuntjie se tragiese verdrinking gesels. Net daarna moes hulle, die Faure-gesin van die Strand, byna dieselfde soort nagmerrie deurmaak.
LEES OOK: ‘Ek het nie gedroom nie; Jesus het by my voete kom sit,’ vertel siek vierjarige
Marné vertel hoe Leja onraad vermoed het toe Klara (3) nie in haar kamer was waar sy ’n rukkie tevore ingegaan het nie. Die twee sussies was net voor die voorval buite by die swembad, maar het ingekom en hul pa het die buitedeure toegemaak.
Toe Leja nie haar sussie kon kry nie, het sy dadelik weer uitgehardloop. Sy het die drywende figuurtjie in die swembad gesien en ingespring. Marné sê hulle vermoed Klara het die voordeur self oopgemaak en uitgeglip, dat sy dalk die bal waarmee sy en haar sussie vroeër gespeel het, gaan soek het. Dat sy toe haar balans verloor en ingeval het.
Marné, handelsmerkbestuurder by Distell, onthou die nagmerrie-agtermiddag van 24 Oktober soos gister. Sy onthou elke oomblik, vandat sy en haar man gehoor het hoe Leja in die swembad duik en hulle hulle na buite gehaas het.
Hoewel nie Marné óf Swys werklik geweet het hoe om noodhulp toe te pas nie, het hulle tog mond-tot-mond-asemhaling probeer, en hard op klein Klara se bors gedruk. ’n Ruk later het Klara begin asemhaal. Maar baie vlak. Sy het egter nie bygekom nie.
“Omdat die ambulans nie gou genoeg opgedaag het nie, het Swys self met Klara hospitaal toe gejaag. Ons het nie geweet wat op ons wag as sy sou bykom nie. Dalk breinskade …”
God se genade is gróót
Maar negeuur daardie aand het Klara wakker geword en dadelik gevra of sy kan badkamer toe gaan.
“Dit was ’n absolute wonderwerk!” sê Marné. “Die feit dat Leja nie na haar kamer toe gegaan en met haar eie dinge besig geraak het nie, maar besluit het om na haar sussie te gaan soek, vertel eintlik alles. Ons het haar ná die tyd gevra hoekom sy swembad toe gegaan het, en sy het vertel Liewe Jesus het dit vir haar gesê!
“Ek glo die Here het ons juis in daardie tyd die spesifieke televisieprogram laat kyk. En omdat ek vir Leja daarvan vertel het, is haar gedagtes onmiddellik na die swembad gevoer …”
Marné vertel Klara begin nou stuk-stuk onthou wat gebeur het. “Sy sal sommer uit die bloute sê sy wil nie swem nie, die swembad maak haar seer.”
Die trauma het ook ’n groot invloed op Leja gehad. “Behalwe dat sy Klara leweloos in die swembad aangetref het, het sy uiteraard ook alles gesien wat daarna gebeur het: hoe ek en Swys met Klara sukkel, hoe Swys histeries na die buurvrou geroep het.
“Ek weet ook ek het in ’n stadium vir Swys gesê ons het haar verloor.
“Leja beleef nou nagmerries. Klein dingetjies ontstel haar.”
Om vrees te probeer besweer
Die hele gesin het intussen sielkundige hulp opgesoek.
Marné sê dit maak haar bang dat ’n ongeluk so maklik kan gebeur, binne letterlik enkele sekondes. “’n Mens kan nooit op so iets voorbereid wees nie. Jy soek redes in jouself vir hoekom dit gebeur het, oor waar jy gefouteer het. Maar dit is wat dit is: ’n ongeluk.
“En ek glo vas dat ons storie vir ons, en vir soveel ander mense, opnuut van die grootheid van God se genade verseker het. Klara moes nie geleef het nie – en kyk nou net! Dít is net genade.”
Daar is nóg iets positiefs wat Marné ná die traumatiese gebeurtenis met haar saamdra: “As ek ooit gewonder het of ek en Swys ’n goeie span is, wéét ek dit nou. Sonder dat een van ons al ooit iemand anders probeer bybring het, het ons saamgewerk om dit reg te kry. En sodoende probeer om ons kind se lewe te red.”
Nou wag die feesseisoen, en die vier lede van die Fauregesin gaan nie toelaat dat hul slegte ondervinding die pret tydens die vakansie bederf nie. Hul eerste stilhouplek is Onrus, en daarna gaan hulle die swembaddens en waterwurms in Hartenbos aandurf, en só hul vrees probeer besweer.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.