Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Kos oor die kole: ‘Stiekie’ varkneksteaks, koolslaai, vis-marinade en groente-kebabs

Kos oor die kole is net eenvoudig lekkerder, dis nou maar … wors. Maar dink dié somer verder as vleis (en wors) en braai ’n slag vis of groente of selfs vrugte. Steek die vuur aan, dek ’n vrolike tafel en geniet die kuier op ’n stoep of in jou tuin.

FOTO’S: ADEL FERREIRA

‘Stiekie’ varknek-steaks

Dis moeilik om barbecue-sous in Afrikaans te vertaal. Maar moet jou nie te veel daaroor bekommer nie; sorg net dat jy dié vingeraflek-lekker marinade maak. Dit werk perfek saam met varkvleis, en dit sal ewe lekker op hoender, ribbetjies of steak wees. Maak 300 ml marinade; lewer 6-8 porsies

Bestanddele

• 15 ml (1 e) olyfolie

• 100 ml appelsap

 • 60 ml (¼ k) goeiegehalte tamatiesous

• 1 x 50 g-pakkie (50 ml) tamatiepasta

• 30 ml (2 e) fyngerasperde vars gemmer

• 45 ml (3 e) sojasous

• 30 ml (2 e) balsamiese- of rooiwyn-asyn

• 10 ml (2 t) gemaalde koljander

 • 10 ml (2 t) gewone paprika

 • 45 ml (3 e) heuning

• 1,5 kg varknek-steaks. Dis so 8 tot 10 steaks

Metode

1. Plaas al die marinade-bestanddele in ’n klein kastrolletjie en roer dit oor matige temperatuur totdat die heuning gesmelt het. Verlaag die hitte en laat dit 10-15 minute lank sonder ’n deksel prut totdat die sous effens verdik het.

 2. Verf die marinade oor die steaks en pak die vleis in lae in ’n marineerbak. Bedek dit en laat dit 1-2 uur lank in die yskas marineer. Moenie die vleis sout nie.

3. Braai die steaks sowat ses tot agt minute aan elke kant oor matige tot warm kole. Dit moet net gaar wees, maar steeds sappig. (Varkvleis moenie te droog gebraai word nie!) Verf die vleis met van die orige marinade terwyl dit gebraai word. Onthou, die dikte van die steaks sal die gaarmaaktyd bepaal. Hou dit dus goed dop.

4. Geur die vleis met ’n klein bietjie sout en peper terwyl dit braai. Onthou dat die marinade baie geurig is en dat dit soja- en tamatiesous bevat wat reeds goed sout is.

5. Sit die steaks voor met gebraaide nektariens (of perskes) en slaaiblare, en ’n stysel wat jy verkies. Die koolslaai hier onder sal ook ’n lekker bygereg wees.

WENK

Halveer en ontpit 4-5 nektariens of perskes. Verf dit met ’n bietjie olyfolie, en rooster dit oor warm kole tot net goudbruin. Sny klein koppies stewige slaaiblare (soos cos-, romano- of gemslaaiblare) in kwarte en rooster dit vinnig oor warm kole totdat dit net liggies geskroei is. Of gebruik ’n riffelpan. Sit dit met fyngesnyde sprietuie voor.

2. “Stiekie” hoendervlerkies is ’n lekker voorgereg, of dit kan deel van ’n ete wees. Die hoender sal wel langer braai as die varkvleis. Dit kan ook teen 180 °C in die oond gerooster word. Volg die resep soos hier bo.

Kraakvars koolslaai

Koolslaai is altyd ’n gewilde bygereg saam met enige braaivleis. Hierdie weergawe, met ’n eenvoudige slaaisous van mosterd en kruie, sal jy beslis weer en weer wil maak. Dit sal veral lekker wees saam met die varknek-steaks hier bo. Lewer 4-6 porsies

Bestanddele

45 ml (3 e) olyfolie

• 20 ml (4 t) appel- of witwyn-asyn

• 7,5 ml (½ e) korrelmosterd

• 15 ml (1 e) elk gekapte vars Italiaanse pietersielie en kruisement

• Peper na smaak

• 375 ml (1½ k) fyngesnyde witkool

• 375 ml (1½ k) fyngesnyde rooikool (of nog witkool)

• 1 groot wortel, grofgerasper

• 1 appel in die skil. Of ’n halwe klein pynappel, in dun repies gesny

• 1 groot spinasieblaar, in growwe repe geskeur

• 60 ml (¼ k) sesamsaad, gerooster

• 15-20 ekstra kruisementblare

Metode

1. Meng die olie, asyn, mosterd en kruie in ’n groot mengbak saam. Geur dit met die peper.

2. Meng alles saam net voordat die slaai voorgesit word. Roer al die kool, wortel, appel (of pynappel) en spinasie deur die slaaisous totdat dit goed met die sous bedek is.

3. Roer die helfte van die sesamsaad deur met die ekstra kruisementblare. Sit dit dadelik voor saam met die orige sesamsaad. Dié slaai is die heel lekkerste die dag waarop dit voorberei is.

Maklikste marinade vir vars vis

Baie braaiers is huiwerig om ’n heel vis oor die kole te braai. Maar dis nie regtig so moeilik nie. Twee dinge is belangrik: hoe jy die vis geur, en hoe jy die braaiery aanpak. Vis moet tog nooit droog gebraai word nie! En ’n eenvoudige marinade is dikwels al wat nodig is om die vis se natuurlike geur te komplementeer. Suid-Afrikaners ken daardie vismarinade met die bietjie appelkooskonfyt. In dié resep word dit ’n heerlike soetsuur-kombinasie, met suurlemoen en komyn en ’n tikkie brandrissie. Dis smullekker! Moenie vir die brandrissie skrik nie; dit gee net ’n bietjie woema aan die marinade en sal nie jou mond brand nie.

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele

60 ml (¼ k) olyfolie

• 45 ml (3 e) appelkooskonfyt (tuisgemaak is ook hier die beste)

• 7,5 ml (½ e) heel komynsaad

• 5 ml (1 t) brandrissie-vlokkies, of meer, as jy so voel (opsioneel)

• 20 ml (4 t) fyngerasperde suurlemoenskil

• 30 ml (2 e) suurlemoensap

1,5-2 kg heel, vars vis. Iets soos geelstert, dorado of snoek. Die kop moet verwyder word en dit moet oopgevlek word

• Sout en peper na smaak

• Vars roketblare en geskroeide suurlemoenwiggies om dit mee voor te sit

WENK

Die geur van geskroeide of gebraaide suurlemoenwiggies is heerlik en die hitte laat soveel meer van die sap en geur na vore kom. Braai dit oor die kole of in ’n pan net voordat dit saam met die vis voorgesit word.

Metode

1. Klits die olyfolie, konfyt, komynsaad, brandrissievlokkies (as jy dit gebruik) en die suurlemoenskil en -sap in ’n mengbeker saam totdat dit goed gemeng is.

2. Verf ’n braairooster met ’n bietjie ekstra olyfolie en plaas die oopgevlekte vis daarop, die velkant onder.

3. Verf ’n dik laag van die marinade op die oopgevlekte kant van die vis.

4. Braai die vis ongeveer 15-20 minute lank oor matige kole, met die velkant deurentyd onder. Verf nog van die marinade op die vis terwyl dit gaar word. Geur liggies met die sout en peper. Die vis sal ’n soliede wit kleur begin kry. Hou dit goed dop.

5. Draai die vis om en verbruin die oopgevlekte kant vir ’n paar minute. Moenie dat die vis oorgaar word nie. Gaar vis sal maklik met ’n vurk gevlok kan word, maar steeds sappig wees.

6. Sit die vis voor saam met vars roketblare, geskroeide suurlemoenwiggies en ’n bygereg wat jy verkies. Gebraaide sampioene en ’n slaai werk goed, en klein aartappeltjies of patats in die skil is altyd heerlik saam met vis. Ook die koolslaai of die groentekebabs, waarvan jy die resepte hier kry, sal perfek wees.

Kleurvolle groente-kebabs

Dis baie maklik om hierdie groente-kebabs te maak. Daarby is groente wat oor kole gaargemaak word baie geurig. Maak seker dat al die groente in ewe groot stukke gesny is sodat dit eweredig gaar word.

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele

12-16 kebabstokkies, van hout of metaal

• 3-5 murgpampoentjies, in dik skywe gesny

• 125 g bruin sampioene, in wiggies gesny

• 200 g babatamaties

• 1 wit of rooi ui, in dik wiggies gesny, en elkeen dan weer in die helfte

• 1 geel en 1 rooi soetrissie, ontpit en in groot stukke gesny

• Ongeveer 20 vars suurlemoen-, lemmetjie- of lourierblare (opsioneel)

• 80 ml (⅓ k) olyfolie

• 45 ml (3 e) suurlemoensap

• 15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil

• 15 ml (1 e) elk gekapte vars tiemie, origanum en Italiaanse pietersielie

• 1 knoffelhuisie, fyngedruk

• Sout en peper na smaak

• Basiliekruidpesto of chimichurri om mee voor te sit (opsioneel)

Metode

1. Week die hout-kebabstokkies 30 minute lank in water voordat die groente daarop geryg word. Dit voorkom dat die stokkies maklik brand as dit oor die kole geplaas word.

2. Plaas die murgpampoentjies en sampioene in twee aparte bakkies en bedek dit met kookwater. Laat dit 8-10 minute lank só blansjeer. Nou behoort dit nie te breek as dit ingeryg word nie. Dreineer dit deeglik en druk dit droog met kombuispapier.

3. Ryg die groentesoorte om die beurt op die stokkies. Plaas ’n blaar of twee tussenin op elke kebab.

4. Meng die olie, suurlemoensap en -skil, kruie en knoffel saam in ’n bakkie. Geur dit na smaak.

5. Verf die oliemengsel oor die kebabs. Laat dit dan 30 minute lank marineer.

6. Braai die kebabs oor matige kole totdat die groente net gaar maar steeds helderkleurig is. Verf die kebabs met oorskiet-marinade terwyl dit gebraai word. Sit dit warm of teen kamertemperatuur as bygereg voor, saam met die pesto of chimichurri.

WENK

Pynappel is heerlik as deel van die kebabs, veral as die kebabs as bygereg saam met vark of hoender geniet gaan word.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF