Ek deel met jou iets wat ek drie jaar terug geskryf het. Vir myself meestal, want wie sou tog kon verstaan? Maar ek deel dit spesifiek vandag met jou, want dis drie jaar later. En hou vas jou sitplek! Daar is ‘n opvolg. So, kom ons spring weg: Dis drie jaar gelede, die jaar 2022. My kinders is drie- en een jaar oud, dis halfses op ‘n Donderdagaand.
Die Here hoor my…
Hier op die kombuisvloer, waar ek opgegee het met aandete.
Want my kinders weet nie aandete is 6 uur en Mamma het gewerk tot 5 uur nie.
Hulle weet net hulle het liefde en aanraking nodig want die dag by die skool was lank.
Dan sit ons op die vloer en die Here hoor my daar as ek vra vir ‘n sagte gees.
Want sien, teen hierdie tyd is my gees al bietjie troebel:
Ek en Sus het al ons eerste stry in, nog voor ons by die huis stop,
Boetie is vies vir die karstoel,
En ek is vies vir juffrou wat sê Boetie vloek.
Dan wonder ek soms of die Here sien ek probeer?
Probeer aandete maak met ‘n beperkte begroting,
Probeer tyd maak sodat die kinders weet hulle is belangrik,
Probeer gaaf wees en bly lyk as my man by die voordeur instap want sy dag was ook lank. En al lyk dit nie altyd so nie, ís ek régtig bly hy is by die huis.
Maar dan onthou ek weer, die Here hoor my:
VERAL op die kombuisvloer – want hier maak ek kos vir my mense.
VERAL as ek wasgoed ophang – want die ekstra Stasoft is wat hulle ruik wanneer hulle na my verlang by die skool en só los Hy ook sy Gees met ons.
VERAL as Boetie in die nag by ons inkruip en Sussie nog glipsies kry en huil oor nat beddegoed – want dis wanneer ek dan nie weer kan slaap. Maar ek kan bid.
VERAL as ek probeer vrede maak tussen kinders wat klaarblyklik nie eers in mekaar se rigting mag asemhaal nie – want geseënd is die vredemakers.
VERAL wanneer ek hartseer is as Boetie vloek – want Hy weet ons probeer ons bes.
Die Here hoor my.
En die Here hoor jou ook. VERAL wanneer jy dink Hy doen nie.
My oë skiet vol trane as ek weer hierna kyk, want ek wéét – ek weet hoe moedeloos ek gevoel het daardie dag! Maar kom ek sê jou hoe voel ek vandag:
Sussie het pas begin met graad een, dit was ‘n wonderlike dag!
Boetie, dankie Jesus, het nie weer gevloek nie.
Albei my kinders floreer uiteindelik sonder karstoele, doeke, fopspene en formulemelk.
Die Here het my gehoor, VERAL toe ek gedink het Hy hoor nie.