Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Ligvoets in die lente

Lente herinner my altyd aan jonggroente, vars kruie en bessies. Soms is die eenvoud van een of twee bestanddele al wat nodig is om ’n fantastiese ete voor te sit. Dink aan suurlemoen en kruie, aan geroosterde neute met groen groente. En aan hoe lekker ’n verskeidenheid bessies vir ’n nagereg is. Koos du Plessis het dit so mooi gesê: “Eenvoud is die vreugde van die lewe.” Geniet enige van die vier resepte hieronder as deel van ’n gesinsete. Of gebruik sommer ál vier as spyskaart vir ’n spesiale maaltyd.

DEUR HELEEN MEYER; FOTO\’S: ADEL FERREIRA

Italiaanse groentegebak

’n Oondgeroosterde groentegereg is dikwels ryk en romerig; hierdie kleurvolle kombinasie is egter ’n maklike, ligte bygereg met baie geur. Al dié groente is ekstra lekker as dit gerooster word, en die kruie is ’n perfekte pasmaat.

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele

  • 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
  • 200 g kersietamaties, gehalveer
  • 50 ml tamatiepasta
  • 1 knoffelhuisie, gekneus
  • 80 ml (1/3 k) fyngekapte vars kruie wat jy verkies, dalk origanum en Italiaanse pietersielie
  • Sout en peper
  • 1 mediumgrootte eiervrug, in dun skyfies gesny
  • 6 mediumgrootte murgpampoentjies, in lang diagonale skywe gesny
  • 1 rooi soetrissie, ontpit en in repe gesny
  • 1 ui, gehalveer en in dun wiggies gesny
  • 45 ml (3 e) olyfolie
  • 1 suurlemoen se sap en fyngerasperde skil
  • 100 ml gerasperde parmesaan- of pecorinokaas

Metode 

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n groot oondbak liggies met olie.
  2. Meng al die tamaties, tamatiepasta, knoffel en die helfte van die kruie saam. Geur dit na smaak.
  3. Meng die orige groente in ’n aparte mengbak met die olyfolie, suurlemoensap en -skil, en geur dit na smaak.
  4. Skep tweederdes van die tamatiemengsel in die oondbak. Pak die groente in ’n eweredige laag bo-op.
  5. Skep die res van die tamatiemengsel bo-oor die groente. Meng die orige kruie met die kaas en sprinkel dit oor die tamatielaag.
  6. Bak 50-60 minute lank of totdat dit goudbruin en gaar is. Sit dit warm voor as ’n ­bykos met hoender, vis of vleis. Dié groentegereg is selfs teen kamertemperatuur nog heerlik.

LEES OOK: Koesterkos vir die winter

________________________________________________________________________

Groenboontjies met amandels

Makliker kan dit nie! Soteer sampioene en boontjies vinnig in ’n pan en geur dit met balsamiese asyn. Die geroosterde amandels rond dit lekker af.

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele

  • 80 ml (1/3 k) gevlokte amandels
  • 30 ml (2 e) olyfolie
  • 250 g bruinsampioene, in skywe gesny
  • 15 ml (1 e) balsamiese asyn
  • 300 g dun groenboontjies
  • Sout en peper

Metode 

  1. Verhit ’n groot braaipan oor matige hitte. Rooster die amandels, sonder enige olie, tot goudbruin. Maar hou dit goed dop, die neute brand maklik. Skep dit uit en hou eenkant.
  2. Verhit die helfte van die olie in dieselfde pan en soteer die sampioene in twee sarsies totdat dit gaar is. Skep die sampioene in ’n bak, meng die balsamiese asyn deur en hou dit eenkant.
  3. Giet die res van die olie in die pan en soteer die groenboontjies totdat dit gaar en steeds heldergroen is. Doen ook dít in sarsies as jou pan nie groot genoeg is nie.
  4. Skep die sampioene by die boontjies en meng dit vinnig deur totdat alles warm is. Skep dit in ’n opdienbord, geur dit na smaak en strooi die amandels oor.
  5. Sit dit dadelik as bygereg voor. Dis veral lekker saam met vis, of die plathoender waarvan die resep hierlangsaan is.

LEES OOK: Sampioene, veelsydige kampioene

________________________________________________________________________

Plathoender met feta, kruie en songedroogde tamaties

Moenie huiwerig wees om ’n heel hoender soos dié plathoender voor te berei nie. Dis regtig maklik; volg net die stappe. As die hoender só gaargemaak word, lyk dit indrukwekkend, dit word mooi eweredig gaar en is baie maklik om in porsies op te sny. Dis ’n besonderse lente-ete!

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele

  • 1,5 kg heel hoender
  • 60 ml (¼ k) olyfolie
  • 1 suurlemoen se sap en fyngerasperde skil
  • 45 ml (3 e) grofgekapte vars basiliekruidblare
  • 15 ml (1 e) vars tiemieblare
  • 15 ml (1 e) grofgekapte vars Italiaanse pietersielie
  • Sout en peper
  • 2 skywe fetakaas, gekrummel (verkieslik sagte feta, soos dié in ’n Deense styl)
  • 8 gemarineerde songedroogde tamaties, gekap

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Plaas die hoender met die borskant na onder op ’n snyplank. Gebruik ’n skerp kombuisskêr en knip dwarsdeur die ruggraat, van die holte tot bo in die nek.
  3. Draai die hoender om, vou die twee helftes oop en druk met jou handpalm op die borsbeen om die hoender plat genoeg te kry. Moenie skrik as dit kraak nie. Hoe platter die hoender lê, hoe egaliger word dit gaar.
  4. Meng die olie, suurlemoensap, -skil en kruie saam. Geur dit na smaak.
  5. Meng die helfte van die olie-mengsel met die feta en songedroogde tamaties totdat dit ’n dik pasta vorm.
  6. Plaas die plathoender, met die vel na bo, op ’n groot bakplaat. Maak die vel van die nek se kant af versigtig los en smeer die helfte van die fetamengsel eweredig onder albei borsgedeeltes se vel. Maak die vel verder los terwyl jy smeer, maar doen dit versigtig. Jy wil nie hê die vel moet skeur nie.
  7. Maak die vel tussen die dy en boudjie aan die buitekant (met ander woorde weg van die borsgedeelte) los. Smeer nog ’n kwart van die fetamengsel onder die vel van elke dy/boudjie se kant.
  8. Giet die res van die olie-kruiemengsel oor die hele hoender en geur dit na smaak.
  9. Rooster dit 40-45 minute lank, of totdat dit goudbruin en gaar is. Prik die dikste deel van die dy/boudjie met ’n skerp mes se punt om te toets of die hoender gaar is. Die vloeistof wat uitloop, moet helder wees en nie eens ’n pienk skynseltjie hê nie.

Wenke

  1. Die maklikste manier om ’n hoender in porsies te verdeel, is deur dit met ’n skerp kombuisskêr te doen. Let wel: Jy sny deur die litte.
  2. Maak die plathoender in ’n ketelbraai gaar. Die ekstra-rokerige smaak is heerlik.

LEES OOK: Groen is die nuwe goud!

________________________________________________________________________

Bessietert vir die lente

’n Delikate broskors, tuisgemaakte bakkersvla (crème pâtissière) met ’n tikkie suurlemoen, vanielje en ’n fees van vars bessies, gaan almal beïndruk. Die meeste van die werk kan vooraf gedoen word. Dit maak dit dus maklik om die tert ná die ete voor te sit. Dié resep kom uit The AMC book wat ek jare gelede geskryf het.

Lewer 8-10 porsies

Bestanddele

Broskors

  • 350 ml (200 g) koekmeel
  • 30 ml (2 e) strooisuiker
  • 110 ml (110 g) koue botter, in blokkies gesny
  • 1 ekstragroot eiergeel
  • 30 ml (2 e) yskoue water
  • 5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil

Vanielje-vla

  • 4 ekstragroot eiergele (sien die wenke)
  • 75 ml (5 e) strooisuiker
  • 45 ml (3 e) mielieblom
  • 325 ml melk
  • 10 ml (2 t) vanieljegeursel of ’n groot knippie vanieljepoeier
  • 15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil

Om voor te sit

  • 300-400 g vars bessies wat jy verkies. Dalk iets soos aarbeie, bloubessies en frambose.

Metode

Broskors:

  1. Plaas die meel, suiker en botter in ’n voedselverwerker en meng dit totdat dit soos growwe broodkrummels lyk. (’n Elektriese klitser sal ook werk.)
  2. Meng die orige korsbestanddele saam en voeg dit by die meelmengsel. Meng dit totdat dit ’n sagte deeg vorm. Rol dit in ’n bal, bedek met kleefplastiek en plaas dit ’n uur lank in die yskas.
  3. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak in ’n sirkel uit. Rol versigtig totdat ’n sirkel van ongeveer 24-26 cm in deursnee gevorm het. Strooi nog meel oor die rolstok of werkoppervlak as die deeg neig om daaraan vas te klou. Of rol die deeg op ’n groot stuk bakpapier uit.
  4. Voer ’n 22 cm-losboom-tertpan met die deeg uit. Sorg dat daar ’n klein randjie ekstra deeg oor die pan se rand hang. Prik die kors oraloor met ’n vurk.
  5. Bedek die kors met kleefplastiek en verkoel dit 20 minute lank in die yskas. Voorverhit intussen die oond tot by 200 °C.
  6. Skeur ’n sirkel van 24-26 cm in deursnee uit foelie. Voer die deeg met die foelie uit – die blink kant teen die deeg – en druk dit liggies teen die deeg vas. Vul die tertkors met droë bone en bak dit 15 minute lank blind (met ander woorde sonder ’n vulsel) of totdat dit goudbruin en bros is.
  7. Haal dit uit, verwyder die foelie en sny nou die deegrand met ’n skerp mes gelyk met die tertpan se rand. Laat die kors heeltemal afkoel. (Die kors kan die vorige dag reeds tot hier voorberei word.)

Vanielje-vla:

  1. Plaas intussen die eiergele, suiker en mielieblom in ’n mengbak en klits dit totdat dit lig en donsig is. Giet die melk in ’n kastrol en bring dit oor matige hitte tot net onder kookpunt.
  2. Roer die vanielje en suurlemoenskil by die melk en roer dit geleidelik by die eiermengsel in die mengbak. Daar moet so min moontlik lugborrels vorm.
  3. Giet die mengsel terug in die kastrol en roer dit deurentyd met ’n draadklitser oor lae hitte, totdat die mengsel liggies begin prut en verdik. Dit moenie klonte vorm nie. Skep die vla in ’n skoon bak en laat dit afkoel. (Die vla kan ook die vorige dag berei word.)

Om voor te sit

Skep die vanielje-vla in die afgekoelde tertkors en smeer dit eweredig. Pak die bessies bo-op. Sit dit binne ’n uur voor, anders kan die kors sag word.

Wenke

  1. Broskors is ’n delikate deeg. Moet dit dus nie te veel hanteer nie, anders krimp dit te erg wanneer dit gebak word.
  2. Eierwitte vries uitstekend. Gebruik dit vir ’n meringue, of pof-omelette.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF