My ma is op 13 November 2018 met akute miëloïde leukemie (AML) gediagnoseer. Alhoewel die prognose baie swak was, het sy dapper teen dié kanker geveg.
Sy het, byvoorbeeld, onmiddellik gevra dat ek ’n groep begin om almal wat na haar welstand verneem, weekliks op hoogte te hou van hoe dit met haar gaan.
Hierdie weeklikse “broadcasts” het gegroei tot bewusmakingspamflette wat gedruk moes word. Ma het ’n gedig (sien onder) ná haar eerste bloedoortapping geskryf, gerig aan haar anonieme én haar bekende Skenker.
Toe ons haar hare gaan afskeer, en sy ’n vrou in die isolasiekamer oorkant haar hoor huil, het sy dadelik vir die personeel gevra om van haar mooi kopbedekkings vir dié medepasiënt te gee.
Sedert die donker dag van haar diagnose, en vanweë die aard van die siekte, kon sy slegs ’n handjievol dae tuis deurbring. Die res van die tyd was sy in isolasie, met beperkte besoektye, in die Pretoria-Oos-hospitaal.
Haar immuunstelsel was baie verswak en daarom moes almal wat haar besoek het ’n streng ontsmettingsroetine deurgaan en van kop tot toon gemasker-en-gewaad word.
Al dié dinge was voor Covid-19. Voordat almal bekend was met masker dra en saniteerders en behoorlike handewas-prosedures.
Haar besoekers is op ’n kortlys geplaas. En indien enigiemand vermoed het daar is ’n kiem aan die broei, moes hul eerder wegbly.
Sy kon nie deur haar kleinkinders besoek word nie. Op ’n dag het ons al die kleinkinders buite haar hospitaalvenster laat saamkom om vir haar soentjies deur die venster aan te gee.
’n Joernaal met vrae
Op 25 April 2019 het hierdie lewe haar verloor. Al die reëlings, al die op-hoogte-probeer-bly met die medikasie en die alternatiewe/onbeproefde prosedures en die tweede en derde menings, en my werk en my gesin, het my só besig gehou dat dit gevoel het ek staan op een plek en die wêreld rondomtalie om my.
Totdat die besef tot my deurgedring het ek staan eintlik stil. Sy is weg.
In daardie tyd het ek weer aan die boek gedink wat ek in 2010 by ’n vlooimark vir haar gekoop het. Dit was ’n joernaal met vrae. Ek het mooi gevra sy moet dit invul en sodoende haar lewensverhaal vir my neerskryf.
Tipies Ma het sy dit sorgvuldig voltooi, dit vol foto’s geplak en op haar 60ste verjaardag vir my gegee.
Ek en my ma het mekaar baie gereeld ontmoet en ons het ’n goeie verhouding gehad. Tog was daar baie emosies en ervarings, wat sy in die joernaal met my gedeel het, waarvan ek andersins nooit bewus sou gewees het nie.
Een voorbeeld was haar politieke beskouings. Ons het nooit daaroor gepraat nie, nie in my ouerhuis of in latere jare nie. Dalk was dit ’n besluit wat sy destyds geneem het, juis in daardie troebel tye in ’n konserwatiewe omgewing.
Maar in dié boek het sy haar oortuigings met my gedeel. Dit was vir my veral insiggewend om haar gewaarwordings te lees oor haar verhouding met haar dierbare vriendin, wat erg skade gely het vanweë hul uiteenlopende politieke sienings. Dit het my ’n paar jaar later op ’n manier gehelp toe ek self ’n soortgelyke ervaring gehad het.
Met haar begrafnis het ek oor die boek gesels, en ek het ander ma’s aangemoedig om dieselfde vir hul kinders te doen. Heelwat ma’s het my daarna gekontak om te hoor wat die boek se titel is.
Wat ’n wonderlike reis!
Dit was in 2019. Verlede jaar, 2023, het ’n vriendin my ook oor die boek uitgevra. Ek het na nog eksemplare gaan soek, met die doel om sommer ’n klompie te koop en dit aan my vriendinne se onderskeie ma’s uit te deel.
Dit was vir my baie belangrik dat hulle almal so ’n boek moes hê, en daarin moes skryf.
Maar toe vind ek uit dat die oplaag uitverkoop is en dat die uitgewers dit nie weer gaan druk nie. Ek kon nêrens ’n soortgelyke boek in Afrikaans opspoor nie.
Daarop het ek besluit om Memoires van jou moeder saam te stel. Die uitgewers Naledi sou dit publiseer.
Dit is wat gebeur het. En wat ’n wonderlike reis was dit nie tot dusver nie!
Met Memoires van jou moeder het ek twee stewige koeverte ingevoeg waar die betrokke ma memorabilia kan bêre, dinge soos foto’s en selfs ’n geheuestokkie met haar stem. Daar is ook twee A3-grootte kaarte waarop sy haar omswerwinge en die plekke waar sy al gewoon en gewerk en gereis het, kan aandui.
Die boek is ook nie voorskriftelik van aard met ’n soort vraag-en-antwoord-styl nie. Daar is wel inspirasieprikkels om jou aan die skryf te kry.
Wanneer ek nou daaraan dink, en wonder waarom my ma dié joernaal so sorgvuldig ingevul het, besef ek dit was haar opvoedkundige agtergrond (’n BA-graad in tale) en haar loopbaan as toegewyde onderwyser. Daarby was sy in elk geval baie lief vir lees en skryf.
En dalk was dit ook omdat sy ’n vasbyter was, iemand wat doodeenvoudig moes voltooi wat sy begin het.
Wat ook al die rede, ek is vandag opreg dankbaar daarvoor. Dit beteken vir my oneindig baie, omdat ek haar steeds so verskriklik mis. Omdat ek telkens, wanneer ek deur die boek lees, iets nuuts daarin ontdek.
Op dié manier bly leef ons verhouding. Van alles wat ek van haar het, is hierdie boek vandag my kosbaarste besitting. Ek hoor haar stem so duidelik terwyl ek die woorde en sinne in haar handskrif lees.
Die diepe waardering wat ek het vir die tyd wat sy afgeknyp het om haar gedagtes te orden en dit so eerlik neer te skryf is iets wat ek nie behoorlik kan verwoord nie.
My eerste bloedoortapping
Druppel vir druppel vir druppel.
A+ bloed vul geleidelik,
geleidelik my are.
Dank aan die onbekende
skenker.
Druppel vir druppel vir druppel.
So vul ook die Heilige Gees
my are met Lewe.
Dank aan die bekende
Skenker!
– Myrna van Rooy, 2018
- Saam met Anné en haar ma Myrna op die hooffoto is Anné se skoonsus Jorétha van Rooy. Foto verskaf
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.