“Haar naam is Jana wat in Hebreeus ‘God is genadig’ beteken.”
Daarom voel sy haar babadogtertjie se naam pas perfek by haar, vertel ds Arina Zandberg van Kimberley terwyl sy bly trane afvee.
Maar dit is trane van verligting en blydskap omdat sy op die ouderdom van 39 jaar in April vir ’n tweede keer ma kon word van ’n gesonde babadogtertjie. Dít ten spyte daarvan dat Arina ’n aggressiewe vorm van kanker het waarvoor sy chemoterapie ontvang.
Sy en haar man Dirk het verlede Oktober uitgevind dat sy Hodgkins-limfoon het, ’n kanker wat die limfklierstelsel aanval. Die skoknuus het gekom toe sy skaars twee maande swanger was. Sy vertel hulle was kort te vore nog so bly om te hoor sy verwag omdat hulle gesukkel het om weer swanger te raak na die geboorte van hulle vyfjarige oudste, Anke.
“Ons grootste bekommernis was dat ons die baba gaan verloor,” vertel hierdie 39-jarige ma. Sy gesels vanuit hulle huis in Kimberley waar sy al vir 15 jaar deel is van die NG Gemeente Bakenskop. Die laaste sewe jaar is sy die enigste voltydse gemeenteleraar.
Dit het vir hulle soveel beteken dat hulle onkoloog gesê hulle gaan saam vir die baba baklei. Die onkoloog en haar ginekoloog het nou saamgewerk om die veiligste moontlike kankerbehandelingsproses vir haar en baba te volg. Na die eerste drie maande van swangerskap verby was het sy met die eerste van 12 spesiaal aangepaste chemosessies begin. Sy vertel hoewel sy nie naar geword het nie, het die behandeling haar tog uitgeput en moeg gelaat. Sy het ook al haar hare verloor.
Op hierdie pad wat by tye rof en emosioneel was, was haar man Dirk hulle gesin se steunpilaar. “Die Here het my geseën met my man, hy het vir ons almal gesorg en ons bymekaar gehou,” vertel sy tydens ons Zoom-gesels. Ouer sussie Anke help ook met bottels aangee en doeke omruil, “sy is ’n baie trotse ouer sussie,” sê Arina.
Ook vanuit hulle gemeente was die ondersteuning ongelooflik. Sy vertel: “Dit was swaar om vir die gemeente te sê dat ek siek is en dit het aanvanklik baie onsekerheid gebring.
Maar hulle het my toegevou in omgee en liefde.”
So het drie dominees, wat voltyds in ander beroepe staan, dadelik toe sy siek raak ingespring en haar preekbeurte en ander take soos hospitaalbesoeke oorgevat. Hulle kerkraad en kerkkantoor het ook almal saamgetrek om te help.
“Ons geloofsfamilie het ons werklik gedra in ons tyd van swaarkry en vreugde.
Dis lekker om deel van so ongelooflike gemeente te wees,” sê Arina.
Sy het nog twee chemobehandelings oor want hulle het dit na 10 sessies eers gestop vir Jana se geboorte. Sy het ’n gesonde 3,1 kg geweeg tydens geboorte met ’n keisersnee op 38 weke. Arina vertel sy kan nie beskryf hoe verlig sy gevoel het toe sy haar baba die eerste keer hoor huil het en die pediater vir haar sê alles lyk normaal nie.
“Dit was amazing om te weet ek het gefight nie net vir my nie maar ook vir haar,” sê hierdie brawe ma, haar kop toegevou onder ’n pikante grys laphoed waarop ’n vrolike pienk gehekelde blom sit.
- Luister gerus na ’n uittreksel uit die gesprek in Kerkbode Kollig-podsendingepisode bo-aan die artikel.
- Dié artikel het oorspronklik in Kerkbode, LiG se susterpublikasie, verskyn.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.