Jy kan seker nie die een sonder die ander hê nie. Kinders én chaos. Ma-wees én onderbroke slaap. Liefieswoorde én skel-raas. Spontane saamdans-oomblikke én sit-nou-stil-óf-uitroepe.
Lag én huil. Soos ‘n supermamma voel én platgevee-met-die-vloer wees.
Ek sou seker nie daardie frustrasie ken om ‘n tweejarige se spartelende voete in ‘n tekkie te probeer kry, as ek nie ook die vreugde geken het van voetjies wat plip-plop vir die eerste keer hardloop nie.
Ek sou seker ook nie die meedoënlose konstante van handjies, mondjies en wange skoonvee ken, as ek nie ook die soentjies en drukkies van daardie einste mondjie geken het nie. Ook nie die armpies wat so liefdevol om ‘n mens se nek klou én so lekker kan strek om skelmpies ‘n koekie bo in die kas te probeer gaps nie.
O, ek sou nie die onderhandelinge van ‘n vierjarige geken het, as ek darem ook nie die verbeeldingsvlugte ken van die enetjie wat “‘n blinkertjie-reënboog-hart het en in sjokoladebome klim” nie. Die einste een wat “pienk leeus vir troeteldiere het en saans in ‘n sneeupaleis gaan slaap”.
Ek sou seker nie die saligheid ken van kinders wat slaap nie, as ek nog nie die wildheid beleef het van kinders wat wakker is nie!
En al daardie uitmergelende hoekom-vrae? Nee, ek sou hulle nie geken het, as ek nie die voorreg aangegryp het om saam met my kinders die wonderlike wêreld opnuut te ontdek nie.
Ek sou nie die sagte kosbaarheid geken het van ‘n kind wat op my skoot sit terwyl ek stories voorlees, as ek nie ook die stryd gewen het om my foon weg te sit en teenwoordig te wees nie. Ek sou my kinders nie hoor lag vir die rympie-woorde en snaakse stories wat ek voorlees, as iemand anders dit vir hulle in ‘n video sou optower nie.
Meeste van alles sou ek nie God se diep liefde vir sy kinders begin begryp het, as ek nie ‘n stukkie van daardie liefde in my eie hart voel groei het nie: onvoorwaardelik, wyd genadig en super lankmoedig. ‘n Onverskrokke liefde, wat sowaar alles bedek, alles glo, alles hoop.
En alles verdra.

















