Om te wag. Dis dan wat ek sal probeer doen, het ek besluit. Maar oor die soort geduld wat ‘n ma moet hê om vir haar kinders te wag – dít vind ek nie sommer maklik in myself nie. Veral as die lewe op spoed is, lysies afgehandel moet word en duisend dinge gedoen moet word.
Ek het gedink die gewag is oor toe ek na 9 maande die klein bondeltjie in my arms vashou. Maar toe ontdek ek dat wag ‘n perd van ‘n heel ander kleur is wanneer dit by kinders kom!
Mens wag dat hulle net gou die laaste bolletjie op ‘n speelklei-kunswerk sit voordat hulle enigsins reageer. Jy wag wanneer hulle die reguit pad van die sitkamer tot by die badkamer met soveel draaie loop dat jy self later teen die mure wil uitklim.
Jy wag as jou kind sy eie sokkies leer optrek, sélf klere wil aantrek, sélf tande wil borsel. Jy wag en wag vir jou kleuter om sélf by die kar in te klim. En behoede jou as jy probeer help. Dan word jy gepenaliseer met ekstra tyd. Want so ‘n kleutertjie wil dan van vooraf “sélf”!
Maar iewers het ek besef hoe belangrik dit is om te wag. Vir hulle om ‘n gogga se stadige kruipgang te volg. Vir hulle om te buig oor die fyn geel blaartjies van ‘n onkruidblom. Vir hulle om te vertel wat hulle vanoggend beleef het – al is dit soms onsamehangend en aangedik.
Want as ek wag, sê ek: Jy is belangrik genoeg dat ek my tyd vir jou opoffer. Want as ek wag, sê ek: Jy is waardevol. Jy is geliefd. Meer as wat my woorde daardie besef in hulle hart kan vaslê.
En waar kry ek genoeg geduld om só te lewe?
By Hom wat “barmhartig en genadig is,
g e d u l d i g en oorvloedig is
in troue liefde” (Psalm 103:8).
By Hom wat al soveel keer vir mý moes wag …




















