Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Mees gelese 2025-getuienisse: Ma’s wat troos vind dat hul kinders by God is

Vir twee ma’s is die feit dat hulle oorlede kinders by God is, hulle grootste troos. LiG-lesers was ook duidelik hierdeur geraak as jy na die duisende webbesoeke van dié mees gelese #liggetuienisse vir die afgelope jaar kyk.

Soné van Niekerk het in haar #liggetuienis haar enorme hartseer gedeel nadat sy en haar man Tinus twee seuntjies en ’n dogtertjie aan die dood afgestaan het.

Tydens die Van Niekerks se 18 weke-besoek aan die ginekoloog moes dié ouers hoor dat hulle dogtertjie Hanlie se hartjie nie meer klop nie. Daarna is hulle seuntjie, Ivan, met ’n fatale niersiekte gebore. Hy is ses dae later oorlede op die dag wat sy ouboet Tinus met graad een begin het.

Ná die dood van hulle tweede baba het die dokters met genetiese toetse bevind dat sy en haar man ’n geen dra wat outosomale resessiewe polisistiese niersiekte (ARPKD) meebring. Soné moes eers herstel voordat sy gesteriliseer kon word. En toe, ten spyte van voorbehoeding, vind Soné uit sy is weer swanger. Klein Bion Noah is op 21 weke gebore, sy lyfie reeds perfek gevorm. Maar hy het dit ongelukkig ook nie oorleef nie.

“Ek het vir die Here gesê ek wil nie my kind só sien nie, maar toe kom staan Hy langs my en vou my toe in sy arms. En Hy sê: ‘By My is jy veilig. By My is daar nie meer lyding nie, net liefde,’” deel Soné.

LEES Soné se volle verhaal hier.

‘Die hemel was oop’

Theresa Röder se dogter Leonique is vroeg in haar lewe met pulmonêre hipertensie (hoë bloeddruk in die longe) gediagnoseer, ’n seldsame siekte, en ongeneeslik. Sy kon nie by haar ma op die plaas buite Lydenburg woon nie omdat die lugdruk vir haar te hoog was. Maar in 2022, toe Leonique al 20 was, moes sy wel as gevolg van omstandighede weer by haar ma kom woon.

Theresa onthou: “Ek en sy het ure lank gesels terwyl ons haar goedjies uitgepak het. Ek het opgelet dat sy gereeld wou lê en rus, sy was knaend moeg. Ons is al twee lief vir musiek en in ’n stadium het sy my gevra om die liedjie ‘Hou die hemel oop’ vir haar te speel. Ek het vir haar gesê: ‘Lolla, moenie so wees nie! Ek het vir jou werk gekry, jy wil nog studeer, jy wil met kinders werk wat spesiale sorg nodig het.’ Op 14 Julie het ek gesien Leonique se lippe is blou. Sy het my verseker sy het haar medisyne gedrink, dat sy net moeg voel. Maar later daardie middag, toe sy gaan bad, het sy my dringend geroep. Sy was bitter swak …”

LEES die res van Theresa se getuienis hier.

In 2024 was die mees gelese getuienis die verhaal van ’n dapper vrou en enkelma in Komatipoort, Mpumalanga. Sanél Allerston het vertel van die moeilike en eensame pad nadat haar man Christiaan selfdood gepleeg het in die badkamer op hulle plaas.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF