Niks aan Janine Vorster is gewoon nie. Sy is blind; sy het borskanker oorleef, asook ’n seldsame outo-immuunsiekte en vele lewensveranderende operasies. Vandag is sy ’n motiveringspreker en maatskaplike werker met haar eie private praktyk in die Vaaldriehoek.
Janine is nie blind gebore nie. Sy was eens ’n normale tiener wat op die sportveld sowel as akademies uitgeblink het. Ná matriek het sy haar as maatskaplike werker by die NWU in Potchefstroom bekwaam. Dis hier waar sy haar toekomstige man Jomar ontmoet het.
Maar twee maande voordat sy haar verhandeling vir ’n meestersgraad moes indien, het Janine se lewe onherroeplik verander: Sy was 23 toe sy een oggend skielik dubbelvisie ervaar het. Sy het eers nie veel daarvan gedink nie omdat sy tydens haar nagraadse studies ure lank voor die rekenaar gesit het.
Haar visie het egter verswak, en sy is na ’n oogkundige. Later het ’n oogspesialis haar toestand aan inflammasie toegeskryf en gesê haar sig sal ná drie maande weer normaal wees.
Die groot gewag het begin, maar haar sig het ál swakker geword. ’n Maand later kon sy nie meer tussen lig en donker onderskei nie. Sy het egter aan die dokter se woorde vasgeklou dat haar sig binne drie maande sou herstel. “Ek was bang vir die donker en het die volgende twee maande in my kamer deurgebring. Ek het die dae omgewens. Min het ek geweet dat my toestand onomkeerbaar was.”
Janine moes ná drie maande aanvaar dat sy blind is. Dit was ’n bitter moeilike tyd in haar lewe. Sy was op die punt om verloof te raak, en sy het soveel drome gehad. Dit het eensklaps gevoel asof haar lewe op 23 verby was …
Sy wou haar verhouding verbreek omdat sy gevoel het dis nie regverdig teenoor Jomar nie. Maar hy wou niks daarvan weet nie. Vir hom was sy steeds die Janine op wie hy verlief geraak het. “Hy het my as dieselfde mens beskou en my nooit anders hanteer nie. Hy is waarlik ’n engel in my lewe. Én my grootste ondersteuner, saam met my twee seuns Brendan (22) en Duan (16).”
Om te leer hoe om blind te wees
Janine se eerste uitdaging was om te leer hoe om blind te wees. Sy is na die Nasionale Raad vir Blindes – maar, sê sy, sy wou aanvanklik nie “geleer” word nie. “Hoe aanvaar jy so iets?”
Mettertyd het sy besef sy sal wel moet leer om onafhanklik te wees as sy haar doelwitte wil bereik en haar drome wil verwesenlik.
Die uitdaging om met haar verlore sig vrede te maak was egter nie die enigste klip in haar pad nie. Haar liggaam het haar nou verder in die steek gelaat. Haar dae is gevul deur etlike, en soms lewensveranderende, operasies en intensiewe behandeling. Haar blaas het opgehou funksioneer. Sy het selfs in ’n rolstoel beland omdat sy nie kon loop nie. Die hospitaal het deel van haar lewe geword.
Sy het destyds ook byna vier jaar lank bykomende suurstof ontvang.
Janine bestempel daardie jare as “episodes” in haar lewe.
Eers 15 jaar nadat sy blind geword het, is sy met die seldsame outo-immuunsiekte neuromyelitis optica (NMO) gediagnoseer. “Volgens die medici was ek ’n handboekvoorbeeld daarvan. Dié siekte val as ’t ware die oogsenuwees aan, sowel as die rugmurg.”
Daar is vandag steeds min hieroor bekend. Janine se dokters het ná haar diagnose met navorsers in die VSA geskakel, waar reeds heelwat navorsing daaroor gedoen is.
Janine se behandeling het dadelik afgeskop. Dit behels onder meer plasma-uitruilings. NMO is nie geneesbaar nie, maar die behandeling help om die terugslae te beheer. Sy word steeds dikwels in die hospitaal opgeneem en moet soms weke lank daar deurbring.
Enigste ma wat hul geken het
Maar, sê sy, as sy op haar lewe terugkyk, kan sy die Here se genade raaksien. Sy het destyds met haar jongste seun op 22 weke in kraam gegaan. Dokters het nie gedink dat haar swangerskap suksesvol sal verloop nie, veral omdat sy toe reeds vier miskrame agter die rug gehad het. Maar ’n gesonde Duan is op 37 weke gebore. Hy, sê Janine, is haar “genade-baba”.
En hoe het sy, ’n blinde ma, dit reggekry om twee seuns groot te maak?
“Ons het ’n manier gekry om dit te laat werk. Ek was die enigste ma wat hulle geken het; hulle het eers later besef ek is anders as ander mammas. Die seuns het, byvoorbeeld, gou geleer dat as hulle hul karretjies op die grond laat lê, ek dit stukkend trap!”
Janine en haar gidshond het die kleintjies elke dag met ’n waentjie skool toe geneem.
En kinders is aanpasbaar. Brendan, nou ’n vierdejaarstudent in teologie, en Duan, ’n graad 10-leerling, is baie onafhanklik. Hulle het ’n baie nou band met hul ma.
Terugslae – deel van haar lewe
Die blindheid was nie die grootste uitdaging waarmee Janine geworstel het nie; die daaglikse pyn was erger, die baie operasies, die lang tye in die hospitaal.
Maar sy het vrede gemaak met haar terugslae. Die dokters het haar gewaarsku dat dit deel van haar lewe sou wees.
Wat sy egter nie verwag het nie, was vyf jaar gelede se borskanker-diagnose. “Dit het soos ’n skuinsklap gevoel. Ek het onbewustelik gedink ek is van ander siektes gevrywaar.”
Sy het eers ’n mastektomie ondergaan, en toe chemoterapie en bestraling. ’n Jaar later is haar ander bors verwyder, gevolg deur ’n histerektomie.
Haar laaste terugslag was in Maart vanjaar, toe sy ’n beenmurgoorplanting moes ondergaan.
Maar deurentyd het Janine geweier dat haar omstandighede haar drome verpletter. Sy het nog baie drome om te droom en soveel om vir ander te gee.
Sy bestuur tans haar eie private praktyk as maatskaplike werker, met wonderlike kollegas wat haar plek vol staan as sy in die hospitaal is.
’n Mosterdsaadjie in jou
Janine het nog altyd ’n passie vir mense gehad en geweet sy moet “méér” doen. Sy het met die Geloof, Hoop en Liefde-borskankerprojek begin, wat pasiënte bystaan. Twee jaar gelede het sy besluit sy moet meer mense bereik en The Mustard Seed Within is gebore. Dis ’n onderneming wat verskeie dienste bied, en wat mense help om trauma en verlies te verwerk. En om hulle deur God se Woord te motiveer.
Janine vertel: “Die mosterdsaadjie-beeld het nog altyd vir my baie beteken. Die Here kan die saad laat groei en op plekke laat val waar dit nodig is.”
Sy vind baie bevrediging uit haar werk as maatskaplike werker. “Ek hou daarvan om ’n paadjie met mense te stap, en om saam met hulle op ’n beter plek uit te kom. Ek werk baie met mense wat die een of ander trauma deurgemaak het, wat verlies ervaar, of wat bloot persoonlik wil groei.”
Haar passie is om tieners en jong mense te help. Sy help ook graag kleintjies met aanpassingsprobleme, dié wat geboelie word, en kinders wat dood en verlies moet verwerk.
Janine se Facebookblad het meer as 12 000 volgelinge. “Ek vertrou die Here dat die saad sal val waar dit moet. Ek wil mense bereik en hulle help om, ten spyte van hul omstandighede, met hul lewe voort te gaan.
“Ek het al baie gedink dat ek nie nóg ’n krisis of stuk trauma in my lewe kan hanteer nie. Maar dan besef ek opnuut: God se genade is genoeg vir elke dag.
“Almal beleef dae waarin dit minder goed gaan. Dae wanneer jy dink jy kán nie meer nie. Maar dit is dan dat jy aan jou denke moet werk. Dat jy moet kies om elke dag iets goeds raak te sien.
“Ons word wat ons dink. Maklik is dit nie, maar as jy op die positiewe fokus, is die stryd halfpad gewonne. Die lewe en jou omstandighede verander voortdurend; niks hou vir altyd aan nie. As jy jou midde-in die trauma bevind, het jy nie die luukse om boedel oor te geen nie; jy moet net voortgaan. Dit maak nie saak hoe stadig jy beweeg nie, die tempo is nie belangrik nie.
“Maar dis ongelukkig nie ’n keuse wat iemand anders vir jou kan maak nie.
“Dit het baie lank geduur voordat ek my blindheid kon aanvaar. Ek het destyds my selfvertroue verloor en nie gedink dat ek ooit sou kon werk nie. Maar ek het besef ek kan steeds my drome najaag. Ons dink so dikwels dat ons weens ons omstandighede niks meer kan regkry nie – maar jy kan dit juis in moeilike tye bereik. Dit begin by ’n keuse, en dan volg die res.
“Dit verg egter harde werk om by ’n beter plek uit te kom. Ons ontvang genoeg genade vir elke dag. Gebruik daardie genade. Gee jou mosterdsaadjie water om elke dag te kan groei.”
- Besoek Janine se webwerf of stuur ’n e-pos na info@themustardseedwithin.co.za
- Dié artikel is op 16 Mei 2024 aangepas.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.