Van kleins af was die aktrise Desiré Gardner – vandag veral bekend as “Magda Louw” in die gelyknamige TV-reeks – vol lewenslus en kreatiwiteit. En met ’n natuurlike vermoë om mense te laat lag. As jong meisie was sy aktief, gesond en vol drome. Niemand kon voorsien dat haar lewe dramaties sou verander toe sy maar 13 jaar oud was nie.
“Ek was ’n gewone, gesonde kind,” vertel Desiré. “Daar was geen teken dat enigiets fout was nie.”
Maar een aand, ná ’n oudisie in Johannesburg waar die gesin destyds gewoon het, het Desiré begin sleg voel. Sy vertel: “Ek het hoofpyn gehad en was nie lus om te eet nie.” Haar ma het haar iets vir die ongesteldheid gegee en sy het gaan slaap.
‘Hoe kan dit ’n jong, gesonde kind oorkom?’
In die middel van die nag het haar ma wakker geword van vreemde geluide uit Desiré se kamer. Sy was besig om ’n ernstige aanval te kry, soortgelyk aan ’n epileptiese aanval. Die situasie het vinnig versleg en ’n ambulans is ontbied. Op pad hospitaal toe het haar hart gaan staan, meer as een keer, en die paramedici moes haar resussiteer.
Nadat hulle haar by die hospitaal besorg het, het Desiré in ’n koma verval. Aanvanklike skanderings het gewys dat daar ’n groot gewas op haar brein is. Dit het op ’n plek gesit waar dit nie verwyder kon word nie. Die dokters het gesê dat sy moontlik nooit weer normaal sou kon funksioneer nie, as sy dit hoegenaamd sou oorleef.

Desiré vertel: “Die mediese span kon nie verstaan hoe ’n jong, gesonde kind skielik so iets kon opdoen nie.” Dit het soos ’n beroerte gelyk, maar sonder ’n duidelike oorsaak.
‘Sy sal oukei wees’
Pa Mike was by haar bed terwyl sy bewusteloos daar gelê het. Hy en John Lewis, die leraar by hul kerk, het ernstig vir haar gebid.
Later het haar pa getuig dat hy, terwyl hulle gebid het, ’n vreemde skokgevoel in sy vingers ervaar het, byna soos wanneer jy jou voet oor ’n mat sleep en dan aan iemand raak. Op daardie oomblik het John Lewis met oortuiging gesê: “Sy sal oukei wees.”

Kort daarna het Desiré wakker geword, en dit was gou duidelik dat daar iets bonatuurliks gebeur het. Dit is deur die daaropvolgende skanderings bevestig: Die gewas was skoonveld.
LEES OOK: Op my eish! se Rachelle Fourie: ‘Ek wil graag by Jesus se voete wees’
Die pad na herstel was nie so lank en moeilik soos wat sy verwag het dit sou wees nie. Trouens, sy was redelik gou weer op die been. Maar daar was sekere basiese take wat sy opnuut moes bemeester. “Ek kon loop,” vertel sy, “maar my brein het nie geweet hoe nie. Ek moes letterlik leer watter voet ek eerste voor die ander een moes sit.”
Sulke eenvoudige take, wat gewoonlik vanself kom, het vir haar ’n bewustelike en uitdagende proses geword.
Sy onthou hoe verwarrend dit was: “Jy dink mos nie daaraan om te loop nie; jy doen dit net! Maar daar was oomblikke waartydens ek bloot stilgestaan het en nie geweet het wat volgende moet gebeur nie.”
‘Dit was net weg’
Daarbenewens het sy gesukkel om behoorlik te praat en daar was aanvanklik ’n gedeeltelike verlamming aan die een kant van haar gesig. Sy moes verdere toetse ondergaan, onder meer ’n lumbale punksie.
En sy moes medikasie gebruik en dikwels terugkeer hospitaal toe vir MRI- en CT-skanderings en ander observasies om haar toestand te monitor. Die dokters kon steeds nie verklaar hoe die tumor so skielik verdwyn het nie, en hulle wou seker maak dat dit nie weer ontwikkel nie.
Die gewas het weggebly.
Desiré vertel: “Tydens die opvolgskanderings het hulle die twee skanderings langs mekaar gesit – die destydse een en die huidige een. Die een het die gewas gewys, en die ander een niks. Dit was net weg.”
Daar was geen logiese verklaring daarvoor nie. “Dit kán nie net weg wees nie,” het die dokters gesê. Maar dit was.
Vir Desiré was dit duidelik: “Dit was ’n absolute wonderwerk. Ek was daarvan oortuig dat die Here my genees het, maar ek het steeds elke dag my pille gedrink.”
Met verloop van tyd, en onder mediese toesig, het sy begin om die medikasie af te skaal. Uiteindelik het die dokters bevestig dat haar brein normaal funksioneer. Desiré vertel: “Iemand het gesê my brein lyk soos dié van ’n mens wat nog nooit trauma ervaar het nie.”
Dié woorde het haar geloof selfs verder versterk.
Die wondergenesing het nie net in haar liggaam neerslag gevind nie; dit het ook haar ganse perspektief op die lewe verander. “My storie moes eintlik geëindig het toe ek 13 jaar oud was. Ek het besef hoe vlietend die lewe is – een oomblik is jy hier, die volgende oomblik dalk nié.”
Dankbaarheid
Desiré het begin om die klein dingetjies te waardeer, dit wat ’n mens so maklik as vanselfsprekend aanvaar. “Selfs iets soos om te kan loop is ’n voorreg,” sê sy.
Haar familie het ’n groot rol in haar herstel gespeel. Desiré vertel hoe hulle dikwels humor gebruik om deur moeilike tye te kom. “Ons is die soort mense wat selfs tragedie in komedie omskakel om die swaarkry te verwerk.”
Vandag is sy ’n ma, en sy kyk met nuwe oë op alles terug. “Ek het nou ’n seun wat net so oud is soos wat ek was toe die ellende my getref het. En ek kan my nie indink hoe my ma dit reggekry het om alles te hanteer nie.”
Hierdie besef het haar ’n diep respek vir haar ouers gegee, en vir die krag van gebed. Dankbaarheid het ’n belangrike deel van haar lewe geword. “Dis nie dat ek elke oggend vol dankbaarheid wakker word nie; daar kom dae wat ek kla en kerm. Maar dan onthou ek weer: Die Here is goed.
“’n Mens moet altyd dankbaar wees vir alles wat jy het,” sê sy. “Alles wat gebeur het, is vir my ’n wonderwerk.”
En sy beskou elke lewensdag as ’n geskenk. Trouens: “Elke asemteug is ’n geskenk van God. Ons almal leef op geleende tyd.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

















