Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Met wie moet \’n man praat?

Onvrugbaarheid kan jou raadop en radeloos laat. Ek het herhaaldelik gesien hoe mense hulle geloof as gevolg daarvan verloor. Dit is tyd om daaroor te praat. Babatee is byvoorbeeld baie moeilik.

Geslagstereotipes dring ongelukkig ook gesprekke oor onvrugbaarheid in. Dis mos maar die vroue wat die graagste babas wil hê, emosioneel is as gevolg van hulle hormone en tipies wil praat oor hoe hulle voel.  Daarteenoor word mans meestal hanteer as die \’sterker\’ party – in staat om meer te hanteer en in stilte voort te gaan.

DEUR JACKIE VAN WYK

Gereelde seks om swangerskap te probeer bewerkstellig? Klink mos na \’n droom vir \’enige man\’, of hoe? Ongelukkig veroorsaak hierdie veralgemenings dat vele mans alleen deur onbeskryflike moeilike tye en gebeurtenisse moet werk met byna niemand om mee te praat nie. Veral nie hulle vrouens nie.

Intimiteit is \’n essensiële deel van die huweliksverhouding en behels baie meer as bloot seks. Wanneer \’n paartjie aan onvrugbaarheid ly en probeer swanger raak, kan intimiteit weens verskeie redes egter ingeboet word. Dit kan wees dat die kalender koning kraai en \’die daad\’ mettertyd \’n middel tot \’n doel raak. Onpersoonlike, kliniese prosedures by die fertiliteitskliniek kan ook maklik spontane saamkom vervang.

In beide gevalle is daar geweldige druk op die man en hy kan maklik verantwoordelik voel vir onsuksesvolle pogings. Dit kan \’n verloor-verloor situasie wees, want aan die een kant is dit belangrik om daaroor te kan praat, maar aan die ander kant is dit nie altyd \’n goeie idee om die hele affêre te oordink nie.

Hartseer man wat op \'n bank sit
Foto deur Nik Shuliahin van Unsplash

In gevalle waar intimiteit prysgegee word, kan dit mans ook beïnvloed op maniere waarop hulle dalk nie wil erken nie. Mans kan ook gebruik en misbruik voel. Mans het ook konneksie nodig en wil ook voel hulle is meer as spermskenkers. Waarheen kan hulle gaan met hierdie soort gedagtes? Is hulle vrouens altyd gewillig om aan te hoor dat hulle steeds die romanse lewendig moet hou?

Vanweë die stereotipes wat in die samelewing oor mans bestaan, kan dit vir hulle moeiliker wees om hulle gevoelens uit te druk en te verwerk. As \’n miskraam byvoorbeeld deel is van \’n paartjie se verhaal, is mense geneig om te fokus op die vrou en haar belewenis. As \’n behandeling nie gewerk het nie, dink mense selde aan hoe die man dit ervaar. As die mediese uitdaging aan die man se kant lê, is dit soveel te meer belangrik om aan hom aandag te skenk. Dit kan vir hom ook \’n verlies aan \’n droom wees en \’n noemenswaardige impak op sy identiteit en selfwaarde hê.


LEES MEER:

Hoe om swanger te raak en ander ongemaklike onderwerpe


Met wie kan jy dan praat as jy met onvrugbaarheid worstel en met opgehoopte gevoelens sit? Veral wanneer jy nie jou vrou met nóg meer wil bemoei as wat jy dink sy alreeds hanteer nie?

Onthou dan, so graag as wat jy \’n pa wil wees, so waar is die feit dat jy ook Iemand se kind is.

Ek is seker jy sal graag wil hê dat jou seun eendag na jou toe wil kom as hy hulp nodig het. Soveel te meer is jou Skepper daar vir jou en gereed en in staat om jou te help en te lei. Hy sal jou wys waar jy trots in die sak moet steek, waar jy hulp kan kry, en wat om volgende te doen.

 

Mans, julle gevoelens is geldig. Julle emosies is werklik. En ek wil julle aanmoedig om enige iets waarmee jy worstel, met Jesus te deel. Hy verstaan en het die antwoorde.

Een manier hoe vrouens hulle mans kan ondersteun, is deur die druk vir hulle te help verlig. Laat hulle geliefd en spesiaal voel en kies die tydsberekening van moeiliker gesprekke baie versigtig. Ek self het al die fout gemaak om op ongeleë tye met my man baie openlik oor my vrese en frustrasies te praat. Niks goeds het daarvan gekom nie. Jy kan steeds eerlik wees, maar onthou dat mans, ten spyte van die sterk uiterlike beeld wat hulle soms probeer uitstraal, ook sensitief is en seergemaak kan word.


Wil jy jou storie oor onvrugbaarheid met ons deel? Stuur dan \’n e-pos na lig@tydskrifte.co.za om jou verhaal in nie meer as 1000 woorde te vertel.


Indien dit vir julle as ‘n paartjie iets nuuts is dat beide van julle jul gevoelens deel, gaan dit dalk geduld neem. Veral as julle gewoond daaraan is om meer op die vrou se behoeftes te fokus. \’n Goeie ondersteuningsnetwerk help. Daar is dalk sekere aspekte wat julle in meer diepte met iemand anders soos \’n berader of hartsvriend wil bespreek. Dit beteken nie dat jy jou eggenoot verraai of nie met hulle eerlik is nie. Maar ‘n kwessie soos onvrugbaarheid en om te aanhoudend te probeer swanger raak in moeilike omstandighede, is \’n uiters ingewikkelde saak. En die Here kan verskeie mense op hierdie pad gebruik.

Die belangrikste is om te weet dat – alhoewel mense soms nie verstaan nie, jou in die steek kan laat of as jy voel dat jy nie openlik kan deel nie – God altyd daar is. Hy is altyd gewillig om te luister en te lei. Hy weet van die dinge wat binne jou gedagtes rondmaal nog voordat jy dit eers sê.

 

Mag julle reis na ouerskap, die vredemaak met julle situasie of die keuse om kinderloos te wees, een wees wat julle sáám aanpak. Altyd saam.

Mag julle altyd onthou dat julle een vlees is, maar steeds twee afsonderlike mense, elk met hulle eie behoeftes. Dalk verskillend, maar ewe belangrik.


Hierdie is deel van \’n reeks oor onvrugbaarheid.

Ander artikels in die reeks:

Deel van jou, maar nie jy nie

Onvrugbaar? Jy is nie alleen nie

 

 

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF