“Ek droom al lank van my troue. En een van my grootste wense is om in ’n huwelik te wees en as ’n Botha dood te gaan. Ek weet dit klink erg, maar my droom is dat ‘Mev Botha’ op my doodsertifikaat sal staan.”
Só onthul die 33-jarige Ilze Steenkamp, ’n onderwyser in KwaZulu-Natal, haar hartsbegeerte. Ilze is in 2021 vir ’n derde keer met eierstokkanker gediagnoseer.
‘Ek het alles verloor’
Ilze se kankerreis het in 2017 begin. Sy was maar 26. “Terwyl ons dié diagnose moes verwerk, het ons die skoknuus gekry dat my pa Douw borskanker het. Ek en my pa het saam begin om chemoterapie en bestraling te ondergaan. Ons het in daardie tyd baie nader aan mekaar gekom en ons verhouding het gegroei.”
’n Paar maande daarna is haar pa egter oorlede nadat ’n bloedklont deur sy hart is.
Ilze dink terug: “Dit was regtig ’n besonder moeilike tyd. Ek moes sonder my pa met die behandeling voortgaan. Ek het alles verloor, my inkomste, ook my jongmenslewe. My hare het uitgeval; ek het nie eens wenkbroue gehad nie.”
Sy onthou hoe sy vir haarself wenkbroue moes teken, wat dikwels vir komiese oomblikke gesorg het. “Ons het in Mtubatuba gewoon, een van die warmste plekke in die land. Wanneer ek my voorkop afvee, sou een van die wenkbroue soms in die slag bly. Dan sou ek met net een wenkbroue deur die dag gaan, en dit eers daardie aand agterkom.” Sy lag: “Ek dink dié wat my gesien het, het te sleg gevoel om my daarop te wys.”
Ilze het ná skool ’n diensjaar vir Christus gedoen. Op ’n dag het ’n vrou haar voorgekeer en gesê sy het vir haar ’n boodskap van God. Ilze vertel: “Dit was nog voor ek siek geword het. Die vrou het gesê God wil hê ek moet weet ek sal nie jonk doodgaan nie. Daardie belofte dra my elke keer wanneer die dokters vir my sê dat die einde naby is.”
Nadat Ilze se kanker meer as ’n jaar lank in remissie was, het dit in 2019 teruggekeer. Sy moes weer met chemoterapie en bestraling begin.
‘God gee ag op ons klein versoeke’
“Ek het alles in my vermoë gedoen om ’n histerektomie te vermy. Maar tydens die tweede ronde moes ek na die dokters luister, en hulle het ’n volledige histerektomie uitgevoer. Dit was die moeilikste dag van my lewe. Die vyand het daardie dag my droom om ’n mamma te wees gesteel.”
Ilze was vasbeslote om die kanker ’n tweede keer te oorwin, en in 2020 het sy weer die klok in die chemoterapie-kamer gelui.
“Wanneer jy klaar is met die chemoterapie, gee hulle jou ’n klok om te lui. Dit was ’n groot oorwinning om daardie klok vir ’n tweede keer te kon lui.”
Ilze het by die laerskool Werda Skool in Durban begin werk, en sy het gou weer soos van ouds gevoel. “Maar,” vertel sy, “ek het ’n derde keer siek geword. Hierdie keer het ek met God onderhandel. Ek het gevra of ek van my eie huis af kon veg. Tot toe moes ek elke keer Mtubatuba toe gaan vir behandeling, waar my ma Elouise woon. Maar dis ook waar ek my pa verloor het. En dit was te moeilik om daar te wees sonder hom.”
Ilze het ’n ander onkoloog in Durban besoek. En tot vandag toe het haar hare nie weer uitgeval nie. Sy sê: “Ek het besef God gee ag op ons klein versoeke. Hy luister na wat ons op die hart het. Dis vir Hom belangrik.”
Sy sê haar vriende, en haar verloofde, Kyle Botha, kyk mooi na haar. Hulle neem haar oral waar sy moet wees. Sy is die Here oneindig dankbaar vir hulle.
‘Mense se liefde dra jou’
Daar is intussen ook vasgestel dat Ilze die BRCA-gene dra. Wanneer hierdie gene mutasies ondergaan, verhoog dit die risiko vir sekere soorte kanker, onder meer bors- en eierstokkanker.
“Ná vyf jaar se chemoterapie en bestraling het my behandelingsopsies min geword. My liggaam was moeg. My dokters het toe aanbeveel dat ek met ’n nuwe soort behandeling begin, Lynparza. Dit beveg gevorderde eierstokkanker met die BRCA-mutasie, maar mediese fondse in Suid-Afrika dek nie hierdie soort behandeling nie.”
Daarop het Ilze se vriende ingespring en projekte geloods om fondse in te samel. Hulle het dit reggekry – maar sy het ’n vierde keer siek geword. Die kanker moes weer in remissie gaan voor die behandeling kon begin.
Ilze sê: “Ek word sommer emosioneel wanneer ek dink aan hoe die gemeenskap bymekaargekom het om my te help. Die kinders by die skool het hul kleingeld gebring om ‘Juffrou’ te help. Mense se liefde dra jou deur sulke tye.”
‘Laat jou lig skyn’
Maar aan die begin van 2024 was die Lynparza nie meer doeltreffend nie. Dit was ’n groot skok.
Tans word Ilze se kanker as “terminaal” geklassifiseer – maar sy veg steeds voort.
In Mei vanjaar het sy en Kyle verloof geraak en is hulle vanjaar reeds 12 jaar ’n paartjie. Dis duidelik dat Ilze nie toelaat dat haar swaarkry en siekte haar positiwiteit uitdoof nie. Kyle beaam dit: “Het jy al ooit iemand ontmoet wat jou beter laat voel wanneer jy wegloop? Ilze is so ’n persoon. Sy maak my nie net gelukkiger nie, sy maak dat ek ’n beter mens wil wees as gevolg van hoe sy leef. Sy is iemand wat in haar donkerste en siekste tye eers vra of ek en ander mense om haar okay is. Sy versprei liefde so ver soos sy gaan.”
Kort ná hulle verlowing het sy die volgende op haar Instagramrekening geskryf: “Laat jou lig skyn, soos Jesus in Matteus 5:6 vra. God het ons nie geskep om in die hoekie te sit nie. Moenie toelaat dat enige iets jou keer om ’n vol lewe te lei nie. Nie siekte, oordeel, teleurstelling, die duiwel wat in ons oor fluister, of enige iets anders moet ons keer om te wees wat God ons geskep het om te wees nie! Ek kies elke dag om nie te onthou dat ek fase vier-kanker het nie. Ek kies om nie toe te laat dat die daaglikse naarword-sessie my aftrek nie. Kies lig, kies positiwiteit!”
Op 12 Oktober beloof sy en Kyle in die KwaZulu-Natalse Middelland (Midlands) trou aan mekaar.
Dié dankbare kankervegter sê sy het vrede: “Ten spyte van al die vrae en moeilike tye, is God goed vir my. Ek trou met die liefde van my lewe. Wat daarna gebeur, weet ons nie, maar die Here is in beheer, en daarin vind ek berusting.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.