Een uit elke tien Suid-Afrikaners word met die een of ander vorm van demensie gediagnoseer. As dit een van jou mense is, kan jy jou bewapen deur kennis in te win en jou kwellings met kundiges te bespreek. En die praktiese wenke toe te pas wat hier genoem word. Daar ís hulp!
Die besef dat jou geliefde aan demensie ly, kom as ’n geweldige skok. Jy vrees dié mens sal wegglip na ’n wêreld waarheen jy nie kan gaan nie. Dat jy die een wat jy ken en liefhet, gaan verloor. En terwyl jy besig is om dié trauma te verwerk, moet jy jou gereed maak vir onvoorspelbare gedrag. Jy moet boonop ingrypende besluite neem oor versorging.
’n Reis met veelvuldige verliese
“Hoewel jy verlig mag wees om uiteindelik te verstaan waar die alte waarneembare simptome vandaan kom, is dit normaal om teenstrydige emosies te ervaar.
“Gun jouself dus die kans om tot verhaal te kom.”
So sê Welma Geldenhuys, ’n senior maatskaplike werker by die Assosiasie vir Demensie en Alzheimersiekte van Suid-Afrika, ADASA.
“Demensie behels ’n reis,” sê sy, “dis nie ’n bestemming nie. En jy hoef nie die pad alleen te stap nie.
“Demensie is veel meer as vergeetagtigheid. Die term dui op meer as 100 neurokognitiewe toestande, waarvan alzheimersiekte die mees algemene is. Demensie beskadig breinselle onomkeerbaar,
en dit beperk ’n slagoffer liggaamlik, kognitief, sielkundig, funksioneel én wat hul gedrag betref.
“En tot op hede bestaan daar geen kuur nie. Hoewel demensie meestal by mense bo 65 voorkom, is dit nié gelyk aan normale veroudering nie. Daar is ook vroeë-aanvang demensie, wat jonger mense kan tref, maar dit is minder algemeen.
“Mense met ’n familiegeskiedenis van demensie bekommer hulle dikwels oor oorerflikheid. Hoewel daar genetiese skakels by sowel vroeë- as laat-aanvang demensie gevind is, kan genetiese toetsing nie voorspel wie demensie sal ontwikkel nie.”
Dié toestand bring veelvuldige verliese mee vir pasiënte sowel as hul familie, vriende, kollegas en die samelewing. “Die naasbestaandes van iemand wat met demensie gediagnoseer word, ervaar onder meer fases van die rouproses: ontkenning, woede, skuldgevoelens, oorbetrokkenheid en aanvaarding. Hoewel hierdie emosies mekaar selde netjies volg, is dit noodsaaklik om doelbewus deur elkeen te gaan.
“Die positiewe reis met demensie begin eers met aanvaarding.”
Familielede van iemand met demensie kan die volgende te wagte wees
- Omgekeerde rolle, byvoorbeeld dat die kind die versorger word.
- Veranderings in die pasiënt se leefwyse en sosiale aktiwiteite.
- Foutiewe gesigsherkenning of die gebruik van verkeerde name.
- Swak higiëne.
- Die noodsaak om die huis anders in te rig en om aktiwiteite soos TV kyk, harde musiek, familiebyeenkomste of vakansieplanne aan te pas.
Om die daaglikse lewe vlotter te laat verloop, help dit om
- Kalm te bly.
- Aktiwiteite te prioritiseer en te fokus op wat belangrik is.
- Ekstra tyd vir daaglikse takies toe te laat en om elke keer dieselfde roetine te volg.
- ’n Slag asem te skep as dinge moeilik raak en later weer te probeer.
- Humor op ’n gepaste manier in te span.
Die kuns van deernisvolle kommunikasie
“Struikelblokke in kommunikasie is nie net hartverskeurend nie, maar ook uiters frustrerend,” sê Welma.
“En dit geld die slagoffers sowel as hul familielede en versorgers. Behou perspektief. En onthou dat jou geliefde moontlik iets van die volgende ervaar:
- Onsekerheid, angs, verwarring, eensaamheid, ontsteltenis, nutteloosheid, magteloosheid of rusteloosheid; die gevoel dat niemand hulle verstaan nie, en dat almal hulle vertel wat om te doen.
- ’n Gebrek aan beheer oor hul omgewing. Hulle leef nou in ’n omgewing wat hulle nie meer ken nie, saam met mense wat hulle nie (her)ken nie.
- Dié dele van die brein wat denke, geheue en rede bestuur, is aangetas. Die slagoffers is nie meer in beheer van hul gedrag, gedagtes of optrede nie.
- Hulle probeer hul gevoelens en behoeftes verbaal of nieverbaal oordra, dikwels tevergeefs. Hulle wil jou allermins uitlok.
- Hulle kan steeds hartseer, verleentheid of verwonding ervaar. Wees sensitief vir hul emosies, want diep binne bly hulle dieselfde mens.”
Welma sê voorts: “Hulle mag sukkel om ’n woord te vind. En, indien hulle dit nie regkry nie, ’n verwante woord gebruik. Hulle kan vlot praat sonder om sin te maak.
“Hul vermoë om te lees en te skryf kan agteruitgaan. Hulle begryp dalk glad nie wat jy sê nie, maar is sensitief vir lyftaal en kan jou gemoedstemming aanvoel.
“Om so doeltreffend moontlik met jou geliefde te kommunikeer, moet jy aktief luister en nieverbale tekens probeer ontsyfer. Dis baie belangrik om jou eie emosies en dié van jou geliefde te herken en te verstaan. En die gepaardgaande stres te kan bestuur.
Die volgende wenke vergemaklik deernisvolle kommunikasie
- Benader die persoon van die voorkant, maak oogkontak en gee jou volle aandag wanneer hulle praat.
- Gebruik kort, eenvoudige sinne en fokus op een idee op ’n slag.
- Praat stadig en duidelik en hou jou stemtoon kalm en vriendelik.
- Bied eenvoudige keuses, en slegs een of twee op ’n keer.
- Gee hulle genoeg tyd om te antwoord.
- Behandel die persoon soos ’n volwassene en nie soos ’n kind nie. Moet hulle nooit verkleineer nie.
- ’n Warm glimlag en om saam te kan lag, vermag dikwels meer as woorde.
Waar kry ek hulp?
“Ná ’n demensie-diagnose wonder die naasbestaandes dikwels watter versorgingsopsie hulle moet kies,” sê Welma.
“Sal hul geliefde byvoorbeeld beter daaraan toe wees in ’n inrigting?
“Elke slagoffer het eiesoortige behoeftes; ’n individuele plan moet vir elkeen uitgewerk word.
“Volg die diagnose op met ’n besoek aan ’n professionele maatskaplike werker wat in demensie spesialiseer.”
’n Konsultasie sluit die volgende dienste in:
- Ondersteuning en terapeutiese dienste.
- ’n Uitgewerkte plan vir elke pasiënt, familie en omgewing, geskoei op die Personal Centre Care (PCC)-model. PCC-sorg het ten doel om onafhanklikheid te bevorder, optimale funksionering te handhaaf, gedrags- en sielkundige simptome te bestuur, en die persoon se kulturele agtergrond, voor- en afkeure en belangstellings in ag te neem. En om betekenisvolle aktiwiteite aan te beveel volgens dié mens se belangstellings, stokperdjies en werkgeskiedenis.
- Toekomsbeplanning rakende beskikbare soorte versorging (fasiliteit- of tuisversorging), en wat die bekostigbaarheid daarvan in ag neem.
- Verdere inligting aangaande die siekte, die verloop daarvan, gepaardgaande inperkings, en die kommunikasie met die pasiënt.
- Sorg vir die versorger. Want dié se persoonlike welsyn is van wesenlike belang.
- Tersaaklike regsaspekte.
- Beskikbare hulpbronne soos steungroepe, opleiding vir versorgers en verwysing na kundiges.
Vir meer inligting, kontak die naaste ADASAkantoor by www.adasa.org.za. Of skakel die nasionale hulplyn by 0860 102 681.
Waarskuwingstekens en simptome
“Demensie ontwikkel gewoonlik geleidelik,” verduidelik Welma. “Die vroeë tekens – meestal geheueprobleme – lyk soms bloot ouderdomverwant.
“’n Diagnose word dikwels eers gemaak twee tot vier jaar nadat die brein se struktuur begin verander het. Teen dié tyd is daar reeds ’n deurlopende patroon: Datums word vergeet, en afsprake, gebeure, woorde, name, ensovoorts.
“Demensie kan slegs gediagnoseer word deur ’n gekwalifiseerde, ervare gesondheidwerker, soos ’n maatskaplike werker wat in dié rigting spesialiseer.
Simptome kan die volgende insluit:
- Probleme met korttermyngeheue.
- Probleme met abstrakte denke en goeie oordeel.
- Gedrags- en persoonlikheidsveranderings.
- Skielike gemoedskommelings.
- Probleme met taal en kommunikasie.
- Algemene verwarring en disoriëntasie wat tyd en plek betref.
- ’n Verminderde vermoë om aktiwiteite te beplan.
- Die verlies aan inisiatief, en/of apatie.
- Die uitvoer van bekende aktiwiteite word ’n uitdaging.
- Voorwerpe word verlê.
- Beweeglikheid, kontinensie, kou, sluk en soortgelyke aksies word problematies.
’n Demensievriendelike omgewing
- Demensie veroorsaak veranderings in die brein en liggaam wat die slagoffer se veiligheid in gedrang kan bring. Met ’n bietjie kreatiwiteit en buigsaamheid kan ’n huis geskep word wat veilig is én sosiale interaksie en betekenisvolle aktiwiteite ondersteun. Die volgende riglyne kan help:
- Gebruik geheuehulpmiddels, horlosies en kalenders. Sorg dat belangrike kontaknommers sigbaar is. Plak etikette op laaie en kaste om die persoon te herinner aan waar dinge gebêre word. Verhoed dat jou geliefde val deur los matte of elektriese drade op die vloer te verwyder. Gebruik glyvaste matte in die badkamer. Sorg dat die beligting regdeur die huis voldoende is.
- Demensie kan mense se oordeel en hul vermoë om veilig te bestuur benadeel. Wees waaksaam! Daar kom ’n tyd om die motorsleutels te bêre.