Geen uitdaging is té groot vir die 52-jarige Johann Greyling nie. Hy was maar 13 toe hy, ná verskeie oogoperasies, heeltemal blind geword het. Vandag kan hy sê dat hy al aan etlike fietswedrenne deelgeneem het, dat hy berge uitgeklim en staptogte onderneem het. Hy het aan atletiek deelgeneem, hy was ’n navigator in tydrenne en het riviere op ’n vlot aangedurf. En hy het in talle kore gesing. Sy lewensreis is ’n inspirerende verhaal van durf, deursettingsvermoë en ’n onwrikbare geloof.
Johann was twee jaar oud toe hy met gloukoom gediagnoseer is. Dis ’n oogsiekte wat die optiese senuwee, wat beelde na die brein toe stuur, beskadig.
“Ongelukkig was dit toe reeds te laat om my regteroog te red,” vertel hy in sy sitkamer in Presidentrif, Randburg. “My linkeroog was nie beskadig nie en kleppies is in dié oog ingeplant om die druk te verlaag.”
In 1985 het verskeie oogoperasies by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad gevolg. “Daar was eers ’n retina-loslating in my linkeroog, en daarna het nog vier operasies gevolg. Die spesialiste kon uiteindelik ook nie dié oog red nie. Ek was toe heeltemal blind.”
LEES OOK: My blinde seuntjie, mý bril van hoop
Hy was in daardie jaar altesaam tien weke in die hospitaal, onthou hy. “Ek was twaalf jaar oud. Omdat my ouers ver van Kaapstad af gewoon het, kon hulle nie gereeld kom kuier nie. My ma het gelukkig die hospitaalmatrone goed geken; sy het my verpleeg toe ek my eerste oogoperasie as tweejarige gehad het. En sy het vir ‘spesiale aandag’ gesorg,” skerts hy.
Ander blindes en braille
Johann is in 1986, toe hy in graad 8 was, by die Pionierskool in Worcester ingeskryf. Voor sy koms Worcester toe het hy ses maande lank geleer om Afrikaanse braille baas te raak, en hy het sowat 60% Engelse braille onder die knie gehad.
“Omdat ek, anders as die meeste van die ander leerders in dié skool, nie blind gebore is nie, wou die onderwysers my eers ’n jaar lank terughou sodat ek kon aanpas. Maar ek en my ma het toe ’n ooreenkoms met die leerkragte aangegaan: Indien ek graad 8 sou slaag, sou hulle my nie terughou nie. Ek moes ook eers oriëntering ondergaan, soos om te leer hoe om met ’n kierie te loop, en hoe om my skoolwerk in braille te doen.
“Gelukkig was dit toe nie nodig om my terug te hou nie.”
Johann sê hy was bevoorreg om in Pionierskool te kon wees. “Ek het heelwat by die ander kinders geleer; hulle was in dieselfde bootjie as ek. Daar was ook baie geleenthede by die skool. Ek is mal oor sport en het aan atletiek deelgeneem, fietsgery en ook in die koor gesing. Ek het aan die bergklimklub behoort en ons het, saam met helpers, Tafelberg uitgeklim. Ons het die Kasteelpoort-staproete voltooi, asook die Skeleton Gorge-staproete en die een in die Helderberg-natuurreservaat. Voorts het ons in die Robertson-omgewing, by Piketberg en by Montagu berggeklim en gestap.”
Nuwe planne en koormusiek
Ná matriek wou Johann hom as ’n fisioterapeut bekwaam. “Maar in daardie stadium,” vertel hy, “sou ek dit in Londen of in Kanada, waar blinde fisioterapeute opgelei word, moes doen.
“Ná matriek het my ma my aangemoedig om eers Cobol-programmering te bemeester voordat ek in Augustus, wanneer die akademiese jaar in Engeland afskop, daar met my fisioterapiestudie sou begin. Uiteindelik is ek toe nie Londen toe nie, want die regering se Departement Mannekrag, wat die studiebeurse voorsien het, het besluit om nie daardie jaar ’n blinde student te borg om in Londen te gaan studeer nie.
“Dit het daartoe gelei dat ek by die Universiteit van Johannesburg (UJ) vir BCom Sportbestuur ingeskryf het. “Ek was nog altyd sportmal, en UJ het my verskeie geleenthede in dié verband gebied. Ek het, byvoorbeeld, aan atletiek vir gestremdes deelgeneem.
“Daarby het ek in die UJ-koor gesing, sowel as in ons koshuis Drommedaris se sêrgroep Deo Dacum, wat uit twaalf lede bestaan het. Ek kon nie bladlees nie, maar die onderskeie koorleiers, Renette Bouwer en Salomé Coertze, was baie ondersteunend. Ek het die musiek gememoriseer.”
Johann het sy liefde vir musiek verder uitgeleef toe hy, ná sy studies, van 1995 tot 2003 in Ansa du Toit se Musica Mundo-koor gesing het. Tans sing hy in Siegfried Pretsch se kamerkoor 4Forty. Johann het verlede jaar ook by die Laudem Dei-kamerkoor aangesluit.
Nadat hy sy graad in BCom Sportbestuur voltooi het, het hy aansoek gedoen om by die SABC te werk. Tydens sy oudisie het hy volpunte vir sy algemene kennis verwerf. Daarop is hy by die SABC se radio-argief aangestel. Hy vertel: “Ek het onder Heinrich Marnitz gewerk. Hy was vir my ’n mentor en ek het baie by hom geleer.”
Hy het sy werk as sport-argivaris baie geniet. “Ná twintig jaar daar,” vertel hy, “was ek egter lus vir ’n nuwe uitdaging en het toe by Multichoice aansoek gedoen.” En sedert 2014 werk hy as meta-databestuurder by Multichoice.
’n Geliefde steunpilaar
Johann is ’n mens met ’n groot hart. In 2000 is sy vriend Mathus de Bruin met nierversaking gediagnoseer. “Ek was bevoorreg om ’n pasmaat te wees, en ek het my een nier aan hom geskenk.”
En toe kom die liefde: In 2004 het Johann sy latere lewensmaat Alida van der Linde ontmoet. Hy vertel: “Ons koor het by Jannie du Toit se restaurant Die Agterplaas in Melville opgetree, en ek en Alida het ná die konsert aan die gesels geraak. Dis waar alles begin het.”
Alida sê sy en Johann het dadelik gekliek. “Dit was Johann se absolute onafhanklikheid wat my aangetrek het. By hom is dit ’n kwessie van alles of niks. Geen uitdaging is vir hom te groot nie.”
Johann kan in ’n paar woorde vertel waarom hy sy hart op Alida verloor het: “Sy is sag, en sy gee om.”
Die egpaar het twee pragtige tienerdogters, Jana (16) en Mia (12). Dié twee se buitemuurse bedrywighede by Hoërskool Randburg hou almal in die gesin op hul tone.
Alida, wat BCom Regte by UJ gestudeer het, is kontrakbestuurder by Multichoice. Johann vertel: “Omdat ek en Alida by dieselfde maatskappy werk, maak dit ons lewe, prakties gesproke, heelwat makliker.”
Dis heel anders as toe hy destyds by die SABC in Aucklandpark was en elke dag die paar strate na en van sy woonstel én ’n stywe bult met sy kierie moes aandurf.
Tydrenne, tandems en tegnologie
Johann vertel van sy groot passie vir motors. Hy het in die 1990’s jaarliks aan die blinde navigator-veldtydren deelgeneem. “Ons het verskeie roetes gery, en ek het die roete met behulp van ’n braille-skedule genavigeer. Ek het dit baie geniet.”
Buiten tydrenne het hy ook verskeie fietswedrenne voltooi. Hy het aan die Argus-wedren sowel as die 94.7-wedren op ’n tandem deelgeneem.
Deesdae is hy nie meer so aktief nie. “Ek is nou ’n toeskouer. Ek kyk graag sport op televisie.”
Die nuwe moderne tegnologie, soos slimfone waarop jy sagteware soos teks-na-spraak kan installeer, het sedert die jare negentig van die vorige eeu kommunikasie vir blindes en gesiggestremdes baie makliker gemaak. Johann is heeltemal tuis op Facebook en hy stuur met gemak WhatsApps en e-pos. Hy kan die internet sonder moeite gebruik.
Johann is ’n blymoedige mens met ’n wonderlike humorsin. Hy sê hy verwag nie dat mense wat sy pad kruis hom “as ’n gestremde” moet behandel nie. “Hulle moet wel hul gesonde verstand gebruik, en besef daar is sekere dinge of take wat nie binne my vermoë is nie.”
Is hy soms gefrustreerd omdat hy nie kan sien nie?
“Ja, ek word vies, meer as een keer op ’n dag. Maar my gestremdheid dwing my om deurlopend daarvan bewus te wees dat ek nie in beheer van my lewe is en van dit wat om my gebeur nie. Dit het my genoop om vrede te maak met die wete dat ‘dit is wat dit is’.
“Ek reken daar is ’n doel met my lewe, en dat God my gebruik om ander mense te wys wat ’n mens deur geloof kan doen. As ek elke dag ’n verskil in slegs een mens se lewe kan maak, dan ís daar ’n plan met my lewe.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.