Op 14 Februarie 2021 het ek en my man, Alex, die wonderlikste nuus ontvang: Ons was swanger!
Dit was ons derde invitrobevrugting (IVF). Weens endometriose en blokkasies in my fallopiusbuise, kan ek nie natuurlik swanger raak nie. Ons het hierdie slag drie embrio’s gevries en ingeplant. Kon dit waar wees? Ek was so seker daarvan dat ons hierdie slag gelukkig sou wees, maar ek moes baie vinnig leer dat die Here sê: “Nie julle tyd nie, maar mý tyd.”
Die Here het ons engelbabatjies kom haal ná twee en ’n half maande van swangerskap.
Emmers vol trane, dae lank se hoekoms, en aande van natgehuilde kussings. My hart was in stukke. Dit het my weer geleer, soos dit in Spreuke 16:1 staan: “’n Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom van die Here af.”
Ek kon nie opgee nie, want ek wil so bitter graag ook ’n mamma wees en weet hoe dit voel om my eie mensie vas te hou. Ek wou die liefde, die absolute wonderwerk van God beleef.
LEES OOK: ‘Deel van my sterf saam met my baba, maar God bring weer vreugde deur surrogaatma’
Alles werk teen ons beplanning, maar dit laat ’n mens stil word en besef hoe kragtig ons God is. Ons maak ons eie planne, maar Hy weet al lankal presies hoe ons lewe gaan verloop. God maak my braaf en gee my ’n stukkie hoop uit sy hand, want Hy sê in Matteus 9:29: “Wat julle glo, sal gebeur.”
‘15 kg swaarder, maar geen baba in ons babakamer’
Met al my seer, trane en hoop, probeer ons weer.
In Mei 2021 kan ons weer eiertjies oes. Prys die Here! Dr Tume is ’n engel van bo. God seën ons met ’n hele lot eiers om van te kies. Ons plant toe weer twee vars embrio’s in, maar hulle het nie eens ons toets gemaak nie.
Here, hier is ek: 15 kg swaarder, geen baba in ons babakamer nie. Hoe nou? My lyfie is op en my hart is swaar. My stem bewe wanneer ek moet vertel ons is wéér nie swanger nie. Maar diep binne my is God se stem wat sê: “Ek het jou lief. Hou vas, glo!”
Ek herstel vir drie maande en dan begin ons weer. God openbaar aan my vriendin van baie jare, ’n ware geestelike vegter, om sterk te staan in geloof.
Om 5:55 die oggend op 25 September 2021 bid ek met trane in my oë voor ek hospitaal toe gaan: “Here, hou my net vas.” Dit is ons vyfde IVF. Die nommer vyf is oral; die nommer wat God se goedheid simboliseer. Hoe almagtig en groot is Hy!
Met die genade van Bo het God voorsien, net soos in Filippense 4:19: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”
Met ons derde huweliksherdenking – na ’n lang pad vol onsekerheid, hartseer en vrae – seën God ons met die blydskap om te sê ons is swanger.
Elke vriend, vreemdeling en gebedsgroepie se gebede het my gedra. En my man het bankvas langs my gestaan – my vasgehou in die seer. Hy moes dapperder as ek wees. Dit was nie ’n maklike pad nie, maar dit was elke dag die moeite werd.
Op 25 Mei 2022, na ’n lang en ingewikkelde bevalling, is ons babaseun gebore. Alexander, ons het drie jaar vir jou gebid en jy is ons volmaakte geskenk van Bo, soos Jakobus 1:17 beloof. Die wêreld wag vir jou en ons wens is dat jy ’n Goddelike kind sal wees. Ons bid sy liefde en seën oor jou.
Nou vier ons al byna ’n jaar en ’n half met ons seun, en ons prys nog elke dag ons Vader vir die wonderwerk. En ons is besig met IVF-behandeling nommer ses. Ons het nie meer embrio’s oor nie, so as alles goed gaan, begin ons binnekort weer oes. Hoe getrou is God!
Ek hou vas aan die woorde van Psalm 116:1: “Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.”
- Adri McDonald (38) en haar man, Alex, woon in Windhoek, Namibië. Hulle werk saam by Namagri, hulle eie landbou-onderneming. Hulle seun, Alexander, is nou 17 maande oud.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.