Wie voer ooit hul Nuwejaarsvoornemens uit? Maar die begin van ’n nuwe jaar bied tog die ideale geleentheid om jou opnuut daartoe te verbind om goeie dinge te doen. Boonop kan jy jou geloof só op ’n praktiese manier uitleef. Hier is ’n klompie idees, twee vir elke maand.
Nuwe jaar 2024 kalender
Januarie
Drink tee saam met ’n eensame mens. Daar is kommerwekkend baie bejaardes in tehuise, of in ’n eie huis of woonstel, wat hul dae alleen deurbring. Iemand om mee saam tee te drink kan ’n bietjie vreugde in so ’n mens se dag bring. Reël met die bestuur van ’n tehuis vir bejaardes in jou omgewing om so ’n afspraak te maak.
Doen aan ander wat jy graag aan jouself gedoen wil hê. Kweek die gewoonte aan om jou in iemand anders se situasie in te dink. Leer opnuut dat die lewe nie om jou draai nie.
Februarie
Skenk ou klere. Daardie hopie klere wat jy bêre totdat jy “eendag” die gewraakte kilogram of tien afgeskud het, sal waarskynlik uit die mode wees wanneer jy jou mylpaal bereik. Boonop sal jy jou dan met ’n nuwe uitrusting wil beloon! Kyk ’n slag krities (en sonder sentiment) na jou klerekas, en skenk wat jy die afgelope jaar nie gedra het nie aan iemand wat dit regtig nodig het.
Lees ’n boek voor. Natuurlik is dit vir jong kinders ’n groot lekkerte om na ’n storie te luister terwyl hulle op Ma of Pa se skoot sit. Jy hoef egter nie slegs vir jou kinders ’n storie voor te lees nie; wat daarvan as jy dit vir jou maat doen, of jou maat vir jou? Dit sorg dikwels vir ’n lekker aanknopingspunt en lei dalk tot ’n goeie gesprek, en sodoende bou dit aan jul onderlinge verhouding.
Maart
Luister aandagtig. Om behoorlik na ’n ander te luister is een van die sekerste maniere om daardie mense te laat voel dat hy of sy waardeer word. Boonop bou dit vertroue. ’n Goeie manier om seker te maak jy het reg gehoor, is om te herhaal wat jy pas by jou gespreksgenoot gehoor het. Luister ook na wat mense met hul oë en gesigsuitdrukking sê, en met hul hande en hul skouers. Luister na die mens by jou se hart.
Lewe een oomblik op ’n slag. Jesus vra dat ons ons nie oor môre moet bekommer nie (Matt 6:34). Ons is deel van God se koninkryk, en ons is saam met die Heilige Gees besig om daaraan te bou. Sien jy Hom raak?
April
Wees oortuigbaar en buigsaam. Alles hoef nie altyd volgens jou opvattings en jou idees te geskied nie …
Sien “die ander een” raak. Elke mens wat jou pad kruis, beskik oor ’n groot verskeidenheid goeie eienskappe. Sluit tog jou oë vir dit wat minder goed is; ons almal het daarvan. Daarom het ons almal ook genade nodig, én mense wat ons goeie eienskappe vier.
Mei
Woorde wek maar voorbeelde trek. Dis ’n sêding uit die ou tyd, en dit het ’n cliché geword omdat dit steeds die waarheid is. Praat minder, en gebruik jou energie om jou optrede van liefde en respek te laat getuig. Onthou: Goeie voornemens is nog lank nie daadwerklike optrede nie.
Skakel sosiale media af. Gaan gesels met “regte” mense. Doen “regte” dinge.
Junie
Wees goedhartig. As jy nooit vir die motorwag geld gee nie, begin gerus om dit nou te doen. As jy nie eintlik ’n mens is wat ander komplimenteer nie, begin dan om eenvoudige komplimente uit te deel. As iemand hulp nodig het, gee dit net.
Word wys! Luister langer en aandagtiger. Praat minder. Wees ingestel op die Heilige Gees. “Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig” (Spr 2:6).
Julie
Lees jou Bybel en bid elke dag. “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” As jy jou aan God se woorde bloot-stel, aan sy waarheid en beloftes, is dít die dinge wat in jou gemoed en jou gedagtes sal wees. Dit sal jou stig, en lewe gee aan jou en jou mense.
Wees genadig met ander. Almal maak foute, en almal kyk op ’n unieke manier na die wêreld. Gee gerus die voordeel van die twyfel aan die een oor wie jy so frons.
Augustus
Nooi iemand na jou huis toe. Wees gasvry. Dis die gesindheid wat Jesus van ons verwag. En wees gerus: Min mense se huis lyk soos dié in die tydskrifte. Boonop voel almal meer tuis in ’n huis wat juis nie eksieperfeksie is nie.
Bid ’n keer vir iemand anders, nie net vir jouself en jou mense nie. Kyk ’n slag na jou gebedslewe. Waarvoor en vir wie bid jy? Draai jou versoeke net om jou eie behoeftes?
September
Gaan stap. Kom ’n slag buite! Trek jou skoene uit en laat jou voetsole die gras voel. Wees bewus van die son en die wind op jou vel. Luister na die blare se geruis, na die voëltjies wat sing.
Gee kos. In ’n land soos ons s’n hoef jy nie ver te soek om ’n honger mens raak te loop nie. Al is dit net een ete, en slegs vir een mens, maak dit ’n verskil.
Oktober
Raak betrokke by vrywilligerwerk. Spoor ’n organisasie op wat die soort goeie werk doen waarin jy belangstel. Jou kerk het dalk ’n uitreikprogram wat nommerpas is vir jou.
Wees stil. Stil word is ’n geestelike dissipline wat onontbeerlik in ons gejaagde lewe is. Dis ook heel dikwels hiér waar ons God se stem die duidelikste hoor.
November
Nooi iemand saam kerk toe. Of oorweeg dit om self by ’n kerk betrokke te raak. Onthou, daar bestaan nie iets soos ’n perfekte kerk nie. Ons almal bevind ons in ’n proses van heiligma-king. Ons almal het Jesus se verlossing nodig.
Herwin. Dis makliker as wat jy dink. ’n Ekstra vullisdrommetjie in jou kombuis maak dit vir jou makliker om papier, plastiek en glas eenkant te hou. Sommige munisipaliteite het ’n herwinningsdiens en kom haal die herwinsakke by jou huis af. Herwinning is goed vir mense wat nog lank op hierdie aarde moet leef.
Desember
Wees dankbaar. Om dankbaar te wees is ’n keuse én ’n Bybelse opdrag. Paulus skryf: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” (1 Tess 5:18). Soek na dié dinge waarvoor jy dankbaar kan wees. Hoe meer jy jou oë daarvoor oopmaak, hoe makliker sien jy dit raak.
Maak iets. Skep met jou hande. Gebruik die vaardighede of talente wat jy het. Daar gebeur iets wonderliks in jou wanneer jy jou hande gebruik om te skep – enigiets, van ’n koek tot ’n plakboek. Om te skep is deel van God se beeld in jou; Hy is immers die Skepper.
Lees gerus ook ons artikel, Is jy jou eie vreugde-dief?