Die 28-jarige Gerda Steyn is nie ’n tipiese sportster nie. Hier is geen sprake van ’n begaafde atleet van wie die wêreld reeds in haar jong jare kennis geneem het nie. Inteendeel: Hoewel die gewilligheid altyd daar was, het sy maar min sukses behaal.
Rudi Swanepoel
Toe sy drie jaar gelede by ’n drafgroep in Doebai aangesluit het, het sy gehoor hulle neem jaarliks aan die Comradesmaraton deel.
Om vir die Comrades te kwalifiseer, moes sy ’n standaardmaraton (42,2 km) in minder as vyf ure voltooi. Sy kry dit toe reg. Haar tyd? Drie uur elf minute.
Die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Soos ook haar oorwinning in 2018 se Two Oceans-wedloop.
Wat gebeur toe ná jou eerste maraton?
Met daardie tyd het ek vir die Comrades gekwalifiseer. Ek het kom deelneem en die 56ste plek behaal. Ek het ’n bietjie met Comrades-legende Nick Bester gesels, en hy sê toe dat as ek ’n maraton onder drie ure kan voltooi, ek met hom in aanraking moet kom. My volgende maraton word toe in twee uur 59 minute afgelê en ek het Nick gekontak. Sedertdien rig hy my af.
Hardloop jy voltyds?
Ek het as bourekenaar in Doebai gewerk. Maar toe die hardloopgogga so erg begin byt dat dit ’n ernstige saak word, kon ek nie met albei volhou nie. So, ja, nou is ek ’n atleet wat heeltyds oefen en aan wedlope deelneem.
Hoe lyk jou oefenprogram?
Ek oefen ses dae per week. Sondag is my rusdag. Dit is belangrik dat ek genoeg rus – wat nogal ’n opoffering is wanneer my vriende wil uitgaan! Ek moet ook oplet wat ek eet, maar ek is glad nie obsessief daaroor nie. Ek hou van balans.
Het jy nog altyd aan jouself as ’n atleet gedink?
Glad nie! Ek het my laerskooljare in ’n plaasskool deurgebring en atletiek was nie juis op die agenda nie. My hoër-skooltyd het ook nie veel sportprestasies opgelewer nie en ek kon nooit die span haal nie, ten spyte van my gretigheid om deel te neem. Dit was ’n totale verrassing om te ontdek dat ek kán hardloop – en om te dink ek het dit amper misgeloop!
Waar het dié nuwe loopbaan begin?
In my tyd in Doebai het ek ’n manier gesoek om vriende te maak. Omdat ek soms bietjies-bietjies gedraf het – al om die blok! – het ek by ’n drafgroep aangesluit. Ek vind toe uit hulle is ernstig oor hul jaarlikse deelname aan die Comrades. Dit was dan ook daar wat ek Duncan Ross, nou my verloofde, ontmoet het.
Is jy nie baie jonk vir ’n mededingende langafstandatleet nie?
Ja, ek is! Die meeste sterk vroue-atlete wat hulle op maratons toespits, is ouer as 30. Daar word soms gesê dat dit nie so goed vir jonger vroue is om aan sulke lang wedlope deel te neem nie. Ek voel weer dat my liggaam kán, en dat ek regtig baie myle in my het. My loopbaan het dan sopas begin!
Wat het hardloop jou die afgelope drie jaar geleer?
Dissipline. Ek dink dit is die grootste ding. Ek het geleer om na ’n doel toe te werk. Die wonderlike ding is dat ek my passie ontdek het en dat ek dit nou voltyds kan beoefen. En ek het geleer dat opofferings die moeite werd is.
Watter rol speel geloof in jou lewe?
Dit was so hittete of ek het nooit hierdie talent ontdek nie. Nou besef ek dat dit van God af kom, en so ook my krag. Ek is net so dankbaar dat dit gebeur het! Ek het ’n heel nuwe lewe gekry. Daarvoor sal ek Hom altyd dankbaar wees.
Het jy enige raad vir beginners, dit wil sê mense wat dit oorweeg om te begin draf?
Ek dink die belangrikste is om dit nie alleen aan te pak nie. Sluit aan by ’n groep – of as jy nie van te veel mense hou nie, kry net een ander persoon om saam met jou te begin. Dit is belangrik dat daardie persoon op dieselfde fiksheidsvlak as jy is. En identifiseer vir julle ’n doel, sodat jy voel jy werk na iets toe.
Jy het besonder baie aandag begin trek sedert vanjaar se Two Oceans-wedloop. Hoe hanteer jy die druk?
Ek en Duncan woon ongeveer ses maande van die jaar in Suid-Afrika. Die res van ons tyd word tussen Doebai en Frankryk verdeel. Daar kan ek onder die radar beweeg en só is daar veel minder druk. Duncan is natuurlik ’n wonderlike steunpilaar. Hy verstaan wat ek doen omdat hy self ook draf.
Het jy stokperdjies?
Ek hou oor die algemeen van aktief wees, om buite te wees. As ons oorsee is, geniet ek fietsry en stap.