Die laaste gedeelte van Spreuke 31 is ’n loflied aan die deugsame vrou. Hierdie gedeelte van die Bybel is nie daar om jou skuldig te laat voel omdat jy op elke punt faal nie. Dit bied eerder inspirasie om die eienskappe wat vir God belangrik is, na te streef en in jouself te ontwikkel. Hieronder kyk ons na sewe eienskappe van die Spreuke 31-vrou, en hoe gelowige vroue dit vandag nog kan navolg.
1 ’n Spreuke 31-vrou is nie lui nie
Ons lees dat ‘n Spreuke 31-vrou hard werk en ywerig is. “Sy pak die werk aan met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie”, “haar hande bly besig”, beskryf vers 17 en 19 haar. Hierdie vrou is toegewyd aan haar pligte, of dit nou in die huis, by die werk of in die gemeenskap is. “Lui is sy nie,” sê vers 27.
Vandag kan gelowige vroue inspirasie vind in hierdie voorbeeld deur hul werk met toewyding en integriteit te doen. ‘n Vrou wat haar tyd goed gebruik en verantwoordelik werk, eer Hom. Meer nog: ‘n Vrou wat haar werk vir die Here doen, en nie vir mense nie, dien God met die regte gesindheid (vgl Kol 3:23).
2 Haar skoonheid en krag kom van binne
Dit is duidelik dat die vrou in Spreuke 31 se lewe gewortel is in haar verhouding met die Here. Hierdie bekende Bybelgedeelte eindig met ‘n opsomming van wat ‘n deugsame vrou werklik is: “As sy die Here dien, dán verdien ‘n vrou om geprys te word.” (vers 30)
Vir die gelowige vrou vandag beteken dit dat haar identiteit en krag uit haar geloof kom – nie uit haar voorkoms, haar besittings, haar kinders of haar geld nie. Sy begin haar dag in gebed, raadpleeg God in haar besluite, en leef ‘n lewe wat Sy karakter weerspieël. Deur die Here te dien in alles wat sy doen, word haar lewe ‘n getuie vir ander.
3 ’n Spreuke 31-vrou respekteer haar man
Spreuke 31:11-12 sê: “Haar man steun op haar en pluk die vrugte van haar werk. Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank.” Die verhouding tussen hierdie vrou en haar man is een van vertroue, respek en ondersteuning.
In ‘n tyd waar “onderdanigheid” ‘n vloekwoord geword het, wys die Spreuke 31-vrou dat ‘n vrou wat haar man eer en ondersteun, ‘n sterk huwelik bou. Respek beteken nie onderwerping sonder stem nie, maar ‘n verhouding waarin liefde, waardering en wedersydse steun floreer.
4 ’n Spreuke 31-vrou het visie
“Sy oorweeg die waarde van ‘n stuk grond en koop dit, sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het ” (vers 16). Hierdie vrou het ‘n visie vir die toekoms. Sy beplan, neem inisiatief en bou iets van waarde.
Gelowige vroue kan hieruit leer dat dit nie verkeerd is om ambisie en drome te hê nie. God gee aan elkeen van ons unieke gawes, en wanneer ‘n vrou dié gawes gebruik om haar roeping te vervul – hetsy in besigheid, bediening of haar gesinslewe – bring dit eer aan God.
5 Sy sorg vir haar mense
In vers 15 lees ons: “Sy staan op as dit nog nag is en maak kos vir haar huisgesin; ook haar slavinne kry hulle deel.” Die Spreuke 31-vrou plaas haar gesin en haar geliefdes se behoeftes voor haar eie. Sy is nie selfsugtig nie; sy is ‘n versorgende teenwoordigheid.
Vandag is daar baie dinge wat ‘n vrou se aandag kan verdeel, maar om vir ander om te gee – veral binne haar eie huishouding – bly ‘n belangrike roeping. Dit beteken nie sy vergeet van haarself nie, maar dat haar liefde en diens ‘n uitvloeisel is van die onbaatsugtige liefde wat sy in God ervaar.
6 ’n Spreuke 31-vrou verleen hulp aan dié in nood
Spreuke 31:20 sê: “Sy het ‘n oop hand vir die armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.” Hierdie vrou het nie net ‘n hart vir haar gesin nie, maar ook vir diegene buite haar huis.
Vir gelowige vroue vandag is dit ‘n herinnering dat ons nie net vir onsself leef nie. Vrygewigheid, medelye en betrokkenheid by die gemeenskap is deel van ‘n lewende geloof. Dit kan wees deur finansiële hulp, tyd, of net ‘n luisterende oor – alles dra by tot God se werk op aarde.
7 ’n Spreuke 31-vrou het wysheid om met geld te werk
Hierdie vrou is nie net hardwerkend nie, maar ook finansieel verantwoordelik. Sy beplan, belê, en bestuur haar huis se middele goed. Sy is nie roekeloos of verkwistend nie.
Vir gelowige vroue beteken dit dat goeie finansiële bestuur deel is van ‘n Godvresende lewe. Deur te spaar, te begroot, skuld te vermy en wyse besluite te neem, bou sy ‘n sterk fondasie vir haar gesin en kan sy vrygewig teenoor ander wees.
Die Spreuke 31-vrou is nie ‘n onbereikbare ideaal nie, maar ‘n bemoedigende beeld van wat moontlik is vir ‘n vrou wat haar lewe aan God wy. Sy is sterk, wys, hardwerkend, liefdevol en Godvresend. Elke gelowige vrou – ongeag ouderdom of beroep – kan inspirasie put uit haar voorbeeld, en met God se hulp groei in hierdie eienskappe. Dit gaan nie daaroor om ‘n perfekte vrou te wees nie, maar oor ‘n hart wat daarna streef om God te behaag.




















