Wanneer die vurige Anchen van Dyk van Durbanville met jou gesels, is dit báie moeilik om te dink dat sy voorheen meer ín die hospitaal as buite was.
Dié 29-jarige somatoloog, wat op die ouderdom van drie maande met sistiese fibrose gediagnoseer is, vertel met sigbare energie hoe sy ná ’n dubbele longoorplanting in 2018 deesdae teen ’n hoë spoed leef. “Ek het dalk ’n bietjie baie goed aangepak die laaste ruk,” lag sy. Sy het net van die groot operasie herstel, toe het sy Leeukop in Kaapstad gaan uitklim. Toe het haar eerste Parkrun gevolg, later ’n 10 km-wedloop en vanjaar oefen sy atletiek (vir die eerste keer in haar lewe) by die Western Cape Transplant Sports Association. Sy erken ook met ’n skewe glimlag dat sy selfs nou CrossFit ook. “Al is dit ’n bietjie gevaarlik, geniet ek dit,” sê dié eienaar van ’n skoonheidsalon.
LEES OOK: Sistiese fibrose swaar op die Kloppers se skouers – en in Ben (14) se longe
Draai jy die horlosie terug was Anchen se lewe die teenoorgestelde. Sy is op drie maande met die genetiese siekte sistiese fibrose gediagnoseer. “Dit beteken enige plek waar daar slym of mukus is, is dit dik en taai. In jou sinusse, in jou longe, in jou pankreas, lewer, niere … Dit het my die meeste in my longe geaffekteer.” Boonop, verduidelik Anchen, was die lewensverwagting maar laag. Sedert 19-jarige ouerdom moes sy noodgedwonge baie anti-sosiaal word. Anchen dink terug: “As ek byvoorbeeld na ’n danspartytjie gegaan het, het ek die volgende dag verloor omdat ek so moeg en siek was.” Die baie medikasie, wat sy daagliks self toegedien het en die ure voor haar nebuliseerder het ook baie van haar kosbare tyd gesteel. “Dit was moeilik om sistiese fibrose en die lewe te balanseer,” onthou sy. Haar gesondheid het bly agteruitgaan tot sy voor die oorplanting slegs 27% longfunksie gehad het.
Anchen vertel hoe dankbaar sy is vir die groot geskenk wat haar lewe totaal verander het. “Nou gaan ons maar net elke dag vooruit. En kyk soms terug, maar nie te veel nie …”
Intussen sal sy voortgaan om te “proe” aan dié dinge wat sy nooit voorheen kon probeer nie. Want, verduidelik Anchen, vir die eerste keer kan sy droom oor die toekoms en doelwitte vooruit stel.
“Daar moet nie eendag iets met my gebeur en ek het verwerping en ek lê en ek dink: ‘Ek moes dít gedoen het, ek wou nog dít gedoen het, ek moes ja gesê het hiervoor …’ nie.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.