Ek was hoofdogter van my skool, ’n spontane mens met baie vriende. Maar ek het ’n mens geword wat ek nie meer in die spieël kon herken nie.
Totdat ek besef het daar is net Een wat altyd by my is – Jesus.
‘Ek het altyd aan Jesus vasgehou’
Ek het in ’n baie klein dorpie grootgeword en skoolgegaan. Van my geboorte tot in my matriekjaar was my ouma en oupa by my. Dit was my ouma wat my van Jesus geleer het. Sy het soms drieuur in die oggend opgestaan om Bybel te lees en te bid. Ek was baie jonk toe ek gedoop is; ek ken dus die Here van kleins af.
My ouers is vroeg in my lewe geskei, en my kinderjare was vol hartseer. Maar ek het altyd aan Jesus vasgehou. In my skooljare het almal my geken as ’n mens met ’n sterk persoonlikheid, wat enigeen die loef kon afsteek. Ek het later hoofdogter geword. Ek was ook ’n jeugaksie-leier en het die Here onbeskaamd gedien.
LEES OOK: ‘Ek is mishandel, verkrag, verwerp, verlaat – maar God het ’n plan met my lewe’
Namate die jare aangestap het, het ek tot die besef gekom dat my sogenaamde “sterk” persoonlikheid eintlik bloot ’n manier was om te voorkom dat iemand my seermaak. Niemand het ooit gedink ek was slegs ’n“people pleaser” nie. Iemand wat deurentyd ander se goedkeuring gesoek het, wat nooit in haarself geglo het nie.
Ek het dit self ook nie besef nie. Maar op ’n dag, toe ek my behoorlik in die spieël bekyk, kon ek myself nie meer herken nie.
‘Ek het geweet daar is fout’
Ek het die liefde van my lewe, Donavan, in my matriekjaar ontmoet. Ons vul mekaar mooi aan, want hy is ’n introvert en ek ’n ekstrovert.
Ons is getroud en het in Julie 2021 ’n dogtertjie, Marisia, ryker geword. Sy dra ’n lig in haar wat my verstand te bowe gaan. Deur haar oë kon ek nog beter sien hoe leeg my lewe was. Dat ek nie regtig geweet het wie ek is nie.
Dis vir ons gesinnetjie belangrik om mooi herinneringe te skep, en daarom woon ons graag feeste en skoue by. Op ’n dag, dit was by die Vryfees in Bloemfontein, het ek skielik oorweldig gevoel deur die groot klomp mense. Toe ek dié angs ervaar, het ek geweet daar is fout.
Ek het ’n wonderlike sielkundige gaan spreek, wat my gehelp het. Ek was egter nie gereed om tydens my terapie terug te keer na my kinderjare nie. En toe ek dit uiteindelik regkry, was dit nie maklik nie. Dit was trouens die seerste seer om alles te herleef. Maar dit het my genees.
Al word jou tent in stormweer rondgeruk …
Tog het ek steeds so alleen gevoel, al het ek mense om my gehad. Ek en Donavan kyk elke Sondag aanlyn na ’n kerkdiens en die Heilige Gees het daardeur met my gepraat en gesê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”
Ek het hierdie boodskap al soveel kere gehoor, maar dit wou net nie insink nie. Ek het steeds eensaam gevoel, so asof niemand my hoor nie. Ek wou net nie my hart oopmaak nie.
Tot een oggend.
Die pastoor het daardie dag ’n boodskap oor ’n tent gelewer. Hy het gesê ons almal, ongeag ons omstandighede, woon op aarde in ’n tydelike skuiling. In iets soos ’n tent. Dit maak nie saak hoe moeilik dit nou gaan nie, en al word jou tentwoning in stormweer rondgeruk, God is by jou. Hy sê: “Jy sal oukei wees. Hou net my hand.”
Op daardie oomblik het die Heilige Gees aan my gesê: “Cherise, jy is nie alleen nie. God is saam met jou in die tent.”
‘God het my weer opgetel’
Dit was die mooiste boodskap wat ek nog ooit gehoor het. En dit is waar ek vir die eerste keer in my lewe gevoel het ek het niemand nodig nie, behalwe Jesus. Hy gee my krag. Hy luister as ek wil afpak.
God het my opgetel, en ek voel vandag weer soos ek behoort te voel. Ek wil nie hê enigiemand moet ooit so waardeloos voel soos wat ek gevoel het nie. Ek wil hê mense moet die son in hul lewe voel skyn.
Om my, en ander, te help, het ek ’n selfhelp-joernaal en -inkleurboek gemaak – Die tuin van jou gedagtes.
Ek seën elkeen wat nou hier lees in Jesus se Naam. En ek vra jou mooi: Nooi Jesus in jou tent en jou hart in, want daar is niemand wat jou die liefde en aanvaarding sal gee soos wat Hy dit doen nie.
- Cherise Vorster (32) is ’n programmeerder vir ’n mediese maatskappy. Sy woon in Bloemfontein saam met haar man, Donavan, wat by ’n motorbande-dienssentrum werk. Hul dogtertjie Marisia is drie jaar oud.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.