Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Ons laaste somer

Ek het hom nooit ’n bom in die swembad sien maak nie, wat nog te sê ’n bollemakiesie. Dié kere wat ons saam geswem het, was hy eerder doenig met die pomp, of die filter, of die teëls wat alewig losgetrek het.

Ons het selde by die see uitgekom. Visvang was nie sy ding nie. Ons het nooit saam branders gery of strandkrieket gespeel nie. Hy was nie daardie soort pa nie.

Ek probeer onthou wanneer my laaste somer saam met hom was, maar die herinneringe bly vaag.

Oor die winters, daarenteen, kan ek boekdele skryf. Ons sou Karoo toe verkas met die werkbakkie, ’n braairooster en ’n worsie. Waar die grondpad jou tussen Calvinia en Sutherland laat kies, sou ons stilhou en sommer daar langs die pad ’n vuurtjie maak. Hy het die rooster met wors en al in die vlamme gesit, want Karoobossies gee nie juis kole nie.

Dis dalk hoekom die winter vir my nader aan die hart lê as die somer. En tog moet ’n mens nie ’n somer laat verbygaan nie, want jy weet nooit wanneer dit jou laaste een sal wees nie.

Nou die dag hoor ek dié term op een van daardie potgooie met die knaende geklets oor gesondheid: “marginale dekade”. En nee, dis toe nie die rakleeftyd van smeergoed-vir-brood nie; dit verwys na die laaste dekade van ’n mens se lewe. Volgens die kenners is die meeste mense geneig om tot dan te wag voordat hulle werklik aandag aan hul gesondheid gee.

Daardie slim mense reken dat daar heelwat vroeër vir die finale seisoen beplan moet word. Dat dit doelbewus moet gebeur. Wat jy nou eet en drink en hoe jy werk en oefen en slaap, is alles bepalende faktore vir jou lewensgehalte in die laaste jare. 
My pa het nie die luukse gehad om so ver vooruit oor sy gesondheid te dink nie. Desember in die Boland was nie vir hom ’n tyd vir luilekker seevakansies nie. Die boere het geoes en my pa moes sorg dat die koelkamers en die pompe dag en nag werk.

Hy was ’n elektrisiën met sy eie onderneming, wat verskeie seisoene van voorspoed en teëspoed deurgemaak het. Hy het hom sy lewe lank liggaamlik én geestelik afgesloof. Sy lyf en sy siel was gedurig onder druk.

Die laaste herinneringe wat ek van ’n Desember saam met hom het, het enkele maande voor sy dood afgespeel. Ons was toe salig onbewus daarvan dat nege-en-’n-half jaar van sy marginale dekade reeds agter die rug was. Van daardie somer het ek een foto van hom, waar hy op sy kenmerkende manier koers kry na sy werkkamer toe. Ek kan nie eintlik veel van die res van dié kuier by my ouers onthou nie.

Volgens die kenners sal jy weet as jy jou marginale dekade betree. Die mense om jou behoort dit ook te weet. Maar dalk was Henri Nouwen nader aan die kol toe hy gesê het die meeste mense leef met die illusie van onsterflikheid. Selfs dié wie se rakleeftyd sigbaar einde se kant toe staan.

So ’n illusie laat jou veilig voel. Jy kan konflik vermy, jy kan moeilike gesprekke eenkant toe skuif. Jy kan doelloos dwaal. Jy kan uitstel en afstel, want môre is nog ’n dag.

Jy kan maar gemaak-en-so-laat-staan deur die lewe gaan, want volgende jaar se Desember maak ons weer so. Veilig ry en mooi loop.

Nou sit ek hier en kyk by die venster uit. Dis ’n snikhete dag in die Boland. Vir ’n keer is ons swembad blou en die gras heldergroen. Binnekort is die kinders by die huis. Ek weet hulle sal wil stories kyk, maar ek gaan hulle swembad toe jaag, want ek dink nie hulle het my al ooit ’n bom sien maak nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►