Binne ’n oogwink het ons gesonde tweeling-swangerskap – identiese seuntjies – ’n totale ommekeer gemaak: Ons dokter het ons vroeg in Maart 2022 ingelig dat een baba se groeiruimte te min is.
Die medici kan nie veel daaraan doen nie, moes ons hoor. Daarom het ons die ergste verwag.
Terwyl ons later in Maart in George vakansie hou, begin ek sleg voel. Ek verduur ontsettende pyn. By die hospitaal se ongevalle-afdeling bevestig ’n sonar die “twin to twin transfusion”-sindroom. Dit beteken een baba groei so vinnig dat die tweede enetjie te min groeiruimte het. Ons word na ’n spesialis by die Panorama-hospitaal in Kaapstad verwys.
Op die regte tyd op die regte plek
Dit alles beteken toe nóg ’n groot ondersoek, en belangrike keuses wat ons moet maak. En ek voel onseker en bang. In die dokter se spreekkamer hang die mooiste skildery waarop Psalm 23 uitgebeeld word. Dadelik ervaar ek ’n groot rustigheid en ek besef die Here is in beheer. Dat hierdie episode deel van ons storie is.
Daardie middag word my plasenta chirurgies met laser gebrand. En binne 24 uur kom daar ’n verskil in Lean, die een met die min groeiruimte, se vordering. Sy vrugwater is eensklaps aansienlik meer, en alles lyk sommer beter.
Ek is 22 weke swanger toe die dokter my op bedrus in die Panorama-hospitaal plaas. Skielik is ons gesin se wêreld gevul met bekommernis en trane – en drie ouer kinders wat wonder waar hul mamma is. Hulle is onderskeidelik vyf jaar, amper drie jaar en vyftien maande oud.
Maar ek en Tinus weet niks gebeur per toeval nie; ons is op die regte tyd op die regte plek, want die Here sorg.
Die Sondagaand kry ek my eerste bevestiging van die Here uit Romeine 5:3-4. Dit lui só: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet swaarkry kweek volharding en volharding kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop.”
Dit word toe al wat ons kan doen: Bid, hoop en vertrou.
Ek weet die Here sal die antwoorde gee
Terwyl Tinus en die kinders tuis is in Kaapstad by mense wat ons ken, kry ons daagliks boodskappe. Almal is in dié trant: “I test you so I can bless you”; “God blesses us when we believe”; “He blesses us when we live by faith.”
En ek besef: As ek een mens deur ons storie kan aanraak, is ek tevrede. Want ek wil graag hê God moet my gebruik.
Op 9 April breek my water. Dis nie ideaal nie, want ek is slegs 24 weke en vier dae swanger.
’n Dokter, onbekend aan ons, is aan diens, en hy laat my gou verstaan ons moet ons op die ergste voorberei. Hy reken die tweeling sal bes moontlik gestremd wees.
Tinus en die kinders is intussen terug huis toe en ek bly alleen agter – in trane. Twee dae lank hou ek aan bid, ek lees Bybel en ek weet die Here sal die antwoorde gee.
Kort daarna beleef ek ’n groot rustigheid. Daardie nag, so ongeveer drieuur, begin die aktiewe kraamproses. Toe ek vir Tinus bel, sê hy: “Engel, dit maak nie saak wat gebeur nie; hierdie is ’n groot geskenk van die Here. Hy sal nie vir ons iets gee wat ons nie kan hanteer nie.”
’n Verdere uitdaging – en groot fout
Maar in die kraamsaal wag ’n verdere uitdaging: Die neonatale intensiewesorg-eenheid (NICU) se hoof weier om die tweeling daar op te neem. Babas wat voor 25 weke gebore word, word nie as lewensvatbaar gereken nie.
Ná ’n woordewisseling tussen die dokters daag twee susters op, elk met ’n broeikas. Om 07:05 word Leben gebore (730 gram) en Lean volg om 07:08 (490 gram). ’n Soort rustigheid wat ek nie kan verklaar nie, heers in die kraamsaal. Daar is nie ’n geluid nie.
Die susters neem die pasgeborenes na die NICU nog voordat ek hulle kan vashou.
Intussen ry Tinus en die kinders vanuit Schweizer-Reneke na Kaapstad.
As jy nog nooit “NICU-ouers” was nie, het jy geen idee wat op jou wag wanneer jy jou babas gaan ontmoet nie. Daar is sóveel pypies, masjiene en plakkertjies … Jy kan amper nie jou kinders tussen alles raaksien nie.
Tinus daag op en hy ontmoet ook ons wonderwerkies.
Twee dae later, kort ná middernag, maak die suster my wakker. Lean sukkel, sê sy. Toe ek vir Tinus bel, besef hy dadelik daar is groot fout.
Maar ek beleef opnuut ’n groot rustigheid. Ek gaan sit by Lean se broeikas, hou sy handjie vas en gesels met hom. Ek bid, ek vra dat die Here se wil sal geskied. Hy weet wat sy plan vir ons is. Toe Tinus opdaag, kon ons saam bid.
Lean se voetjies en handjies …
Lean se voetjies en handjies het vir ’n laaste keer beweeg terwyl ons van sy lyfie moes afskeid neem. Die kleinste lid van die Bergh-gesin los die grootste gat in my mamma-hart.
Maar al was dit die moeilikste dag in my lewe, weet ons hy sit nou by Jesus se voete. Ons het die mooiste engel wat elke dag oor ons die wag hou.
Hierna ry ek saam met Tinus terug huis toe, Schweizer-Reneke toe, ter wille van ons drie kinders, en van my werk as grondslagfase-onderwyseres.
Intussen veg Leben elke dag om sy lewe in die NICU in Kaapstad. Sommige dae gaan dit regtig sleg; soms is hy stabiel; ander dae bring nuwe hoop. Hy ontvang keer op keer bloed.
Dis swaar om so ver van hom af te wees, maar die NICU-susters het elke keer sy dag vir my in ’n paar sinne opgesom. En soms tot drie keer per dag.
Toe ons ’n maand ná sy geboorte Lean se assies ontvang, hang daar ’n donker wolk oor Tafelberg. Op hierdie reënerige hartseeroggend hoor ek Riana Nel se lied “Net die hemel weet” oor die motor se radio. Ek luister na die woorde: “So, hou die hemel oop vir as ek kom …”
’n Selfoonboodskap bring vir ons troos uit Klaagliedere 3:26: “Dis goed om in stilheid te hoop op die hulp van die Here.”
Op pad na Leben in die hospitaal, met die kissie op my skoot, wens ek dat ek eerder my seuntjie op my skoot kon hê as ’n houer met sy as.
Die Here sorg werklik!
Danksy omgeemense se donasies, en soms ’n geborgde vliegtuigkaartjie, reis ons gereeld Kaapstad toe, na Leben toe, met die borsmelk wat ek vir hom uitpomp. Einde April is die dokter se woorde hard: “I am sorry to tell you but what’s going to kill your son are his lungs.”
Toe hy omdraai en wegstap, verklaar ek teenoor die suster dat niks wat die dokter sê ons sal onderkry nie; God is in beheer. Hy is groter as enigiets wat ’n dokter kwytraak.
Ons kon Leben 132 dae ná sy geboorte by die hospitaal se deur uitdra. Hy het 730 gram by geboorte geweeg, hy was 43 dae aan ’n ventilator gekoppel, hy het 96 dae suurstof ontvang – en vyf maande later weeg hy 3,45 kg.
Dit was baie gebede later, én wonderlike ondersteuning en 16 heen-en-weer-vlugte.
Die Here sorg werklik!
En ons leer opnuut: Bly vashou aan die hoop, want Jesus is altyd daar.
Gaan ons nog ’n kind verloor?
In Junie 2023 word Leben siek. Ons neem hom dokter toe, maar hy verswak vinnig. Uiteindelik jaag Tinus met hom Bloemfontein toe, dis 270 km van Schweizer-Reneke af.
Leben is só swak dat dit langer as ’n uur duur om hom te stabiliseer, en toe te inkubeer.
Weer stap ons hierdie moeilike pad. Leben is aan ’n pediatriese ventilator gekoppel, hy ontvang 100% suurstofaanvulling. En ons sien die longsonars wat lyk asof daar ’n veldbrand in sy longe woed. Dis hartverskeurend.
Drie weke lank, terwyl Leben in die pediatriese intensiewesorgeenheid is, pleit ons by Jesus se voete. Ons vra: Here, moet ons nog ’n kind verloor?
Gelukkig weet Leben hoe om terug te baklei. Drie weke later word hy beter – alles danksy ’n groot God en ’n wonderlike dokter.
Eerstehands beleef ons Psalm 27:1 se waarheid: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees. Ja, wag op die Here.”
Vandag is ons dankbaar vir die Here se hand oor Leben. Ons is dankbaar dat ons God se kinders kan wees. Ons is dankbaar dat ons hierdie klein wonderwerk kan grootmaak.
Leben vaar goed. Hy is ’n normale tweejarige vol oulike sêgoed, hy klim en klouter en verken die wêreld. Sy boetie en sussies geniet dit baie saam met hom.
Intussen leef klein Lean vir altyd voort in ons hart.
*Nadia is tans lid van ’n WhatsApp-groep van mammas wat een van ’n identiese tweeling verloor het. Kontak haar gerus by bergh.nadia11@gmail.com as jy wil deel word van hierdie ondersteuningsgroep.
*Op Facebook is daar ook Twinless Twin-groepe regoor die wêreld waarby ouers, wat hulle in ’n soortgelyke situasie bevind, kan inskakel.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.