Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ons moet die mooi en uniekheid in mekaar sien,’ sê gouemedaljewenner Anruné

Anruné Weyers, wat ’n goue medalje verower het by die 2021 Paralimpiese Spele in Tokio, het haar andersheid finaal aanvaar nadat sy God as graad 11-leerder ontmoet het. Vandag vertel sy dit is haar doel om saam met God mense se gesindheid anders in te stel om die mooi en uniekheid in mekaar raak te sien. *Anruné se getuienis hieronder is ’n uittreksel uit Luister – God se stem in my lewe vanuit die pen van Karien Basson.

Sy is op skool die etiket gegee as “die meisie met die een hand wat hardloop”. Harde woorde uit kindermonde, maar dit is hierdie harde woorde wat ’n jong Anruné Weyers geïnspireer het om die “geskenk” wat God haar gegee het, oop te maak en te ontdek wat die rede agter die geskenk is. Sy was anders, sy moes net agterkom waarom.

LEES OOK: Gouemedaljewenner Anruné: ‘Ek eer God vir wat Hy in my en my pa se lewe gedoen het’

Die bloedtoevloei na haar linkerhandjie is belemmer terwyl sy in haar ma se baarmoeder gegroei het. Anruné moes tydens  die swangerskap op haar eie armpie gelê het en dit het daartoe gelei dat haar linkervoorarm stadiger gegroei en ontwikkel het. Met geboorte was haar ouers en die verpleegpersoneel verstom oor die misvormde, klein linkerhandjie wat hulle begroet het, want daar was geen teken daarvan op die sonarskanderings nie. “My oupa het dadelik vir my ma gesê: ‘Hierdie kind gaan baie geluk en vreugde in jul lewe bring.’” Van daardie oomblik af is besluit dat Anruné nie anders hanteer sou word as ander kinders nie. Daar is egter soms planne beraam wanneer sy iets wou doen soos touspring, omdat ’n tweede hand ’n noodsaaklikheid was, maar andersins is sy net soos enige ander dogtertjie hanteer – met elke val en opstaan.

En daar was baie daarvan – val en weer opstaan!

Dit was 2009, in haar graad 11-jaar, toe Anruné in haar kamer op die kant van haar bed haar hart vir die Here gegee het. Sy onthou dit goed, want sy het die dag en datum in haar Bybel neergeskryf. “Soms wens ek dat ek die Here vroeër reeds regtig deel van my lewe gemaak het, want dit sou dinge dalk ’n bietjie makliker gemaak het. Maar Hy wag vir jou hart om gereed te wees en dan ontvang Hy jou met ope arms …” Sy het beginselvas gelewe, maar die vrae het bly broei – tot een middag in November 2010, ’n dag toe sy vir die soveelste keer met haar Bybel oop op haar skoot voor die voete van die Here neersak. “Ek het God gevra om my lewenspad uit te lê … ek wou weet waarom ek sonder ’n linkerhand gebore is en waarom Hy my so gemaak het. Wat was die doel van alles? Waarom het Hy dit toegelaat?” Dit was in die stilte van haar binnekamer waar die stil, sagte stem van God haar kom ontmoet het … die oomblik toe Anruné werklik met haar lewenspad en voorkoms vrede gemaak het. Op daardie dag is “Pietie” gebore: Anruné se linkerhand sou ’n identiteit van sy eie kry! “Ek moes die gedagte van andersheid finaal omhels, aanvaar en vier. Ek het besef dat God my anders gemaak het juis om die persepsie van die wêreld oor gestremdheid te verander. Ek het die profiel van iemand waaraan mense nie gewoond is nie en my doel is om in samewerking met God, mense se ingesteldheid anders in te stel en hulle oë oop te maak om die mooi en uniekheid van alles in almal te sien.”

Haar persoonlike ervaring met God sou Anruné se uitkyk vir ewig verander. As deel van die Suid-Afrikaanse Paralimpiese span in Londen 2012 het sy ook anders na mense begin kyk en verstom gestaan oor die grootheid van God! Dit was haar medebaanbroers en -susters wat haar die grootste lewenslesse sou leer. Mense sonder hande, wat met hulle voete kon eet. Mense met gehoorgestremdheid wat met gemak lippe kon lees en ’n hele gesprek volg. Atlete wat sonder bene in wegspringblokke aantree of swemmers wat sonder arms of bene ’n volle swembadlengte kon voltooi! “Dit was van die spesiaalste oomblikke in my lewe! Ek het gereeld verstom gestaan oor die durf in mense en die eer wat hulle God gee vir hul talente en vaardighede.”

Dit was ’n uitgemaakte saak. Sy sou altyd, in elke wedloop, eer aan God bring – in die goeie én die slegte wedlope. En selfs in die tye van beserings, siekte en ’n ongekende COVID-pandemie. Die diagnose op 13 Julie 2021 was rampspoedig. Nie net het Anruné skaars sewe maande voor die Olimpiese Spele 2021 die gevreesde COVID-19-virus onder lede gehad nie, maar die MRI-skandering vir ’n geskeurde dyspier het ook ’n probleem met haar werwelkolom en ’n sist aangedui. Anruné het geen keuse gehad as om deur die trane en moedeloosheid te veg nie. “My afrigter, dr Suzanne Ferreira, het my eendag uitgedaag met die vraag: ‘Waar sien jy God in die seer?’ Sy het die lied, ‘Keep me in the moment’, vir my gestuur. Ek het die woorde dae aaneen in my huis gespeel terwyl ek met ’n kortisoonsuurstofmasker oor my mond gesit het … God gee asem, Hy gee lewe en Hy gee krag … Dit is gedurende daardie donker tyd dat ek God op ’n ander manier leer ken het.”

Anruné sou God as ’n geneesheer leer ken en die begeerte om saam met Hom te hardloop en eer te bring aan die Een wat so getrou is in haar lewe, het haar hart oorweldig. Dit was die woorde in ’n e-pos aan haar spandokter en afrigter wat die geraas in haar finaal stilgemaak het: “As dit God se wil is, sal ek in Tokio hardloop en dan sal ek saam met Hom hardloop. Punt. Tetelestai.” In aanloop tot die Tokio Paralimpiese Spele van 2021 het sy van alle sosiale media afstand gedoen. Gepantser met God se belofte van genesing en die woorde van die lied, “Keep me in die moment”, het sy die frase “Me plus God running together” op die Tokio-muur van herinnering geskryf. Die wêreld se prentjie van wie sy moes wees, is finaal uitgevee … Anruné kon net wéés. In die hitte van die stryd was sy rustig. Vanaf die wagkamer tot op die baan het sy haar gedagtes stil gemaak en vir die eerste keer in haar lewe het sy ’n perfekte 400 m gehardloop met ’n perfekte pas … “Asof in ’n droom het ek by die 100 m-merk vir myself gesê: Vertrou Hom net …”

Dit is ’n foto van Anruné op die eindstreep … op haar knieë met haar hande in die lug, haar oë toe en haar kop opgelig na die hemel. ’n Foto wat vir ewig in die Paralimpiese argief sal bestaan. “Die goue medalje om my nek was net ’n teken van wat God kan doen wanneer Hy ingryp in jou lewe … Hy het saam met my gehardloop. Hý is die Goud in my lewe.”

  • Bestel Luister – God se stem in my lewe hier.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.