Ek het al van kleins af geweet dat my pad na ma-wees anders sou lyk, omdat ek nie gemenstrueer het nie.
Toe ek 19 jaar oud was – omtrent twee jaar nadat ek en Brendan begin uitgaan het – is ek gediagnoseer met Mayer-Rokitansky-Küster-Hauser-sindroom. Ek is sonder ’n baarmoeder gebore, wat beteken dat ek nie self kan kinders dra nie. Omdat die sindroom die hele urogenitale stelsel (al die organe wat verantwoordelik is vir voortplanting en urienuitskeiding) aantas, het ek ook net een nier wat volkome funksioneer.
Ek en my man, Brendan, het mekaar in September 2010 ontmoet. Sedertdien het ons ’n besondere pad saam gestap.
Dit was destyds ’n baie moeilike diagnose om te verstaan, en natuurlik ’n groot skok. Hoe sê ’n mens op so ’n jong ouderdom vir jou man jy kan nie vir hom kinders gee nie? Oor die volgende klomp jare moes ek vir groot operasies en rekonstruksie gaan, en Brendan het my deur alles bygestaan.
Op 5 Desember 2015 het ons mekaar belowe om vir altyd saam te wees. Ná die troue het ons huis gekoop, en die volgende stap was kinders. Ons was aanvanklik positief oor aanneming, maar toe kom surrogaatskap oor ons pad.
Dit was ’n moeilike besluit, maar ons het hoop gehad dat dit ons droom van ’n gesin kan laat waar word. Ons was omring deur die liefde van ons families en die ondersteuning van ons naaste vriende wat ons deur die moeilike tye gedra het.
‘My hartsvriendin, ons draer’
Estelle, my hartsvriendin, het aangebied om ons eerste draer te wees. Maar invitrobevrugting (IVF) is so ’n moeilike pad en jy is nooit verseker of dit vir jou gaan werk nie. Aan die begin het dit belowend gelyk, want ons het elke keer ’n positiewe swangerskapstoets gekry, maar ons moes saam deur ’n paar miskrame en ’n mislukte oordrag gaan. Dit was baie moeilik en het ons byna laat hoop verloor, maar Estelle en haar familie het ons ondersteun en gehelp om ons pyn te dra. Hulle het saam met ons gevier toe dinge goed gegaan het, en dit het vir ons baie beteken.
LEES OOK: ‘Deel van my sterf saam met my baba, maar God bring weer vreugde deur surrogaatma’
Toe ons tyd met Estelle ná 18 maande uitloop, het ’n ander vriendin, Kim, ons genader. Sy het maklike swangerskappe gehad en het al ’n ruk oorweeg om as surrogaat vir iemand op te tree. Sy wou probeer om ons te help. Ons het weer hoop gekry en moedig voortgegaan.
Die eerste inplanting het glad verloop. Op nege weke het die sonar gewys als is reg. Toe ons op 11 weke weer kyk, het die babatjie ophou groei. Weereens daardie groot, groot teleurstelling.
Nou kan ek verstaan hoekom mense sê dat die pad met IVF vir ’n paartjie maak of breek is. Dis so moeilik om te verduidelik hoe dit jou laat voel, en hoe jy en jou man dit sáám moet deurgaan – hoe julle mekaar probeer ondersteun, maar soms voel dit nie eens genoeg nie.
Die sewende probeerslag
Ons het die laaste embrio-oordrag, ons sewende probeerslag, op 22 Desember 2023 gedoen. Ons het gehoop en gebid dat dit sou werk, en dit was ’n moeilike wag. Maar nou weet ons dat ons wonderwerk-dogtertjie in September 2024 op pad is – ná vyf jaar se onophoudelike verlange.
Op hierdie pad was geloof soms die enigste ding wat ons gehad het om op te fokus. Om te glo dat wat ook al gebeur, gebeur vir die regte rede en op die regte tyd. Die proses laat jou twyfel in baie dinge, maar jy twyfel nie in die groter plan nie.
Ek en Brendan het bitter hard gebid vir hierdie baba. Ons reis na ouerskap is ’n bewys van liefde, vasberadenheid en die wonderwerke van geliefdes se ondersteuning. Saam met ons families en vriende het die Here ons gehelp om die donker tye te oorkom en uiteindelik ons droom van ’n gesin waar gemaak.
Nou sien ons uit na die vreugde om ons dogtertjie – iemand wat ons s’n is – te ontmoet en te sien hoe sy in haar eie mensie ontwikkel. Die blote wete dat sy kom het al klaar so baie van hierdie ongelooflike hartseer weggevat.
- Mariska van der Merwe (32) en haar man, Brendan, woon in Durbanville. Sy is ’n geregistreerde verpleegster en werk tans vir haar skoonouers in die familiebesigheid. Brendan werk as ’n sagteware-ontwerper. Hulle word in September ’n dogtertjie ryker.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.